Op Woes.co.za onder Kortverhale

Moord & Moeilikheid

‘n Geel en bruin tapyt strek voor Kariella-hulle uit. Die bekende silwer stroompie kabbel onverstoord in die laat middag son. Sy en haar beste vriendin, Esmeralda het vir die Desember vakansie by haar boetie kom kuier in die klein, plattelandse dorpie, Rusteloos. “Kom ons gaan doen ‘n bietjie inkopies” verbreek Esmeralda se stem die stilte. Die res van die middag spandeer hulle in die winkels en nadat hulle elke moontlike winkel deurgedraf het besluit hulle om eers ‘n paar minute in die parkie deur te bring. Vir ‘n vakansie is die parkie redelik verlate en was dit nie vir al Esmeralda se gebabbel nie was dit té stil. Hulle wil net op een van die bankies gaan sit toe hulle ‘n bloedstollende gil hoor. Hulle kyk onseker na mekaar en stap suutjies deur die rye bome tot by die plek waar hulle die gil gehoor het. Agter een van die bome staan daar twee mans en redekawel. “Ek het jou gesê dis ‘n onnodige risiko!” “Ons het nie ‘n keuse gehad nie.” “Ons kon meer subtiel gewees het.” “Dis nie ons skuld hy het rondgesnuffel nie. Ons het hom gewaarsku!” Skielik stol die bloed in Kariella se are. Op die grond langs hulle lê daar ‘n lewelose figuur. Aan sy hemp kleef daar bloed. Sy kyk na Esmeralda wat ook die lyk moes gewaar het, want daar’s ‘n uitdrukking van afgryse op haar gesig. Hulle begin stadig retireer, maar ongelukkig op daardie oomblik struikel Esmeralda oor ‘n tak en die twee mans kyk op toe hulle die slag hoor. Kariella en Esmeralda begin te hardloop soos nog nooit tevore nie en stop eers toe hulle veilig binne die huis is. “En nou?” vra Philip toe hulle uitasem die deure sluit. “Uhm ‘n hond het ons gejaag.” jok Kariella vinnig en sy en Esmeralda verdwyn die trappe op. Die volgende oggend toe hulle die kombuis instap sit Philip die koerant en lees. Kariella maak vir hulle koffie toe sy die voorblad gewaar. Sy stamp een van die koffiebekers om en dit spat in skerwe oor die kombuisvloer. Esmeralda kyk vinnig na Kariella wat vir haar na die voorblad wys. Philip sien dit en lees die berig hardop: “Meneer Hannes de Waal se lyk is gistermiddag in ‘n parkie gevind. Gerugte doen die rondte dat hy twee geharde misdadigers, Joe Young en Frank Potgieter ‘n week gelede help ontsnap het uit die tronk. Daar is vasgestel dat hy vier keer met ‘n mes gesteek is, maar verder is daar geen leidrade nie.” “Is daar ‘n rede hoekom julle twee so bleek lyk?” vra Philip. Hulle huiwer ‘n oomblik en dan kom hulle met die hele sak patats vorendag. Toe hulle klaar gepraat het is hy net so bleek soos hulle. “Julle sal vir ‘n rukkie moet laaglê.” sê hy bekommerd en voeg dan by: “Ek dink ons moet polisie toe gaan.” Kariellla kyk waarskuwend na hom en sê: “Nee, ons doen niks die volgende week nie. Laat die stof net bietjie gaan lê.” Hy trek sy skouers op en sê: “Nou goed.” Hulle het nie weer ‘n woord oor die moord gepraat nie en die volgende oggend besluit hulle om te gaan piekniek hou langs die stroompie naby die huis. Die dag verloop redelik vlot en teen drie-uur staan hulle op om terug te keer huis toe. Op daardie oomblik word hulle al drie van agter af gegryp en daar word lappe oor hulle monde gedruk. Toe hulle later weer hulle bewussyn herwin is hulle al drie vasgebind. Hulle kyk verward na mekaar, maar voordat hulle te veel kan wonder maak ‘n man sy verskyning. Kariella en Esmeralda herken hom as een van die mans wat in die parkie gestaan en redekawel het. Hy grinnik en sy makker maak ook sy verskyning. Hy kyk met ‘n amusante uitdrukking na Kariella en Esmeralda en sê: “Dis ‘n jammerte julle was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.” Niemand sê iets nie en die twee mans verdwyn weer. Elkeen probeer aan ‘n plan dink om te ontsnap. Esmeralda kyk op en vang Philip se blik op haar. Sy voel hoe sy bloos en kyk vinnig weer af. Nie een van hulle kan aan ‘n uitvoerbare plan dink nie en hulle gee later moed op. Teen skemer maak die twee mans weer hulle verskyning. Hulle gaan sit oorkant Kariella-hulle en praat gedemp. Daar word kort-kort na hulle gewys, maar nie een van hulle kan uitmaak wat hulle sê nie. Hulle kan darem uitmaak dat die man met litteken oor sy ken Joe is en sy makker Frank. Toe dit begin donker word voel Kariella haar ooglede swaar word. Sy probeer daarteen stry, maar uiteindelik kry die moegheid die oorhand. Esmeralda en Philip gesels saggies. Joe en Frank het toe dit baie donker word ‘n vuurtjie kom maak en toe weer die nag in verdwyn. “Ek is jammer ons het jou by die gemors ingesleep.” sê Esmeralda. Philip glimlag en antwoord: “Ten minste het julle vir ‘n bietjie opwinding gesorg.” Op daardie oomblik maak Kariella ook haar oë oop. ‘n Effense beweging vang die hoek van haar oog. Dan kom Frank saggies nader gesluip. Daar’s duidelike vrees in sy oë sigbaar en sy mond is stukkend geslaan. Hy beduie vir hulle om saggies te wees. Hy gaan sit voor hulle en sê: “Ek is jammer oor alles, ek wou nie gehad het iemand moet seerkry nie.” Kariella-hulle kyk vraend na hom. “Joe dreig my en as ek nie doen wat hy sê nie sal hy my en my boetie doodmaak, maar ek kan nie dat hy drie onskuldige mense doodmaak nie.” Hy kom nader, maar steek in sy spore vas. Daar is ‘n duidelike huiwering in sy oë en Philip sê vinnig: “As jy ons help kan jy vry wees.” “’n Mens is nooit vry van Joe nie.” sê Frank bitter. “Die polisie sal Joe vang en jy sal versagtende omstandighede kry. Dink net jy en jou boetie sal nie meer in vrees hoef te lewe nie.” Dit laat hom ‘n oomblik nadink en gaan sit op sy hurke langs Kariella “Ek sal julle help op voorwaarde dat ek mag vlug. Weg van hier af en julle mag nie my naam aan die polisie noem nie.” Philip kyk na Kariella en Esmeralda en sê: “Nou goed.” Hy lyk verlig toe hy die knipmes uit sy sak haal en hy sny hulle toue los. Die toue het hulle al rou geskaaf en hulle is almal ewe dankbaar toe hulle hulle hande weer vrylik kan beweeg. “Hoe het jy by Joe betrokke geraak?” vra Esmeralda die vraag wat op almal se lippe hang. Frank sug en sê: “My ouers het hom geld geskuld en kon nie als terugbetaal nie. Ek het aangebied om vir Joe te werk om die skuld te delg. Toe ek agterkom hoe gewetenloos hy werklik is vas ek alreed vas in sy ongenaakbare web.” “En Hannes de Waal?” “Nog een van Joe se slagoffers wat sy skuld moes betaal. Hannes en Joe het destyds dwelms verkoop en Hannes wou sy gewete skoon kry. Dis wat Hannes die dag vir ons kom sê het en julle weet alreeds wat het verder gebeur.” “Vir iemand wat bang is vir my is jy nogals braaf.” Hulle draai al vier gelyk om toe hulle die koue stem hoor. In die flou lig van die vuurtjie glim ‘n rewolwer. Joe se koelbloedige blou oë hou hulle gevange en sy litteken laat hom nog angswekkender vertoon. “Ek het jou gewaarsku Frank.” Hulle wil omdraai en weghardloop, maar dis asof iets hulle keer. “Ek moes van die begin af sommer van julle al vier ontslae geraak het.” sis hy dreigend. Skielik tref ‘n vuis hom deur sy gesig en hy laat val die rewolwer. Philip gryp vinnig die rewolwer en rig dit op hom. ****** Kariella, Esmeralda en Philip stap verlig uit die polisiekantoor. Dit was die spanningvolste 24 uur van hulle lewe. “Wie het gesê ‘n plattelandse dorpie is vervelig?” spot Philip toe hulle terugstap huistoe. Kariella lag en sê: “Dis presies hoekom ek nooit op so verlate plek sal wil bly nie.” Hulle stap in stilte verder. Toe hulle by die huis kom is die hele huis versier met ballonne en die tafel kreun onder al die lekkernye. Van sjokolade koek en melktert tot by klein vingerhappies. “Gelukkige verjaarsdag!” Kariella glimlag verleë, met al die drama het sy skoon vergeet dis vandag haar verjaarsdag. Hopelik het sy nooit weer soveel spanning voor haar verjaarsdag nie, maar ten minste gaan niemand ooit vandag vergeet nie. Hulle het hulle belofte gehou en niks van Frank gesê nie, maar sy kan nie help om tog onrustig te voel oor alles nie.
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/moord-moeilikheid
Marthie-Lize Thomas

Lees asseblief my bydraes en lewer gerus kommentaar-positief of negatief-op die ou einde is dit hoe ons leer. Skrywers moet voortdurend daarna streef om hul talent te slyp en hulle skryfstukke te verbeter. NS-Ek behou kopiereg op al my skryfstukke



Totale stukke publiseer: 40
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 44