Op Woes.co.za onder Kortverhale

Nag van Verraad

Dit is nou al dertig jaar gelede na die polisie Robert se halfbroer Karel hier op die plaas dood gery het. Karel het selfmoord gepleeg, om sy vonnis vir veediefstal vry te spring. Daarna het Robert en Erna nooit weer oor daardie nag van onheil gepraat nie.

Robert het na daardie ongelukkige gebeurtenis, ‘n stil man geword. Robert is ‘n dinamiese sterk man. Hy het geleer uit die gebeurtenis uit, die lewe is kort. Hy het sy boerdery met oorgawe en liefde beheer. Dit is egter sy vrou Erna wat sy groot liefde en aandag gekry het. Na Robbie se geboorte, het hulle drie saam die lewe geniet.

Erna is ‘n tipiese boervrou. Haar man se lyding het na aan haar hart gelê. Sy het egter met haar stil innemende geaardheid Robert se hart keer op keer gewen. Sy was sy kalmte en steunpilaar. Robbie het ekstra lewe in hul huwelik gebring. Hulle het hom nie te veel bederf nie, maar probeer leer wat die waarde van die lewe is.

Robbie het deur sy ouers se leiding baie gou geleer hoe belangrik en kort ‘n mens se lewe is. Hy ontdek vroeg in sy lewe sy groot liefde vir die plaas Kranskop. Hy weet omdat hy die enigste kind is hy die plaas sal erf, en dan sal hy en sy toekomstige vrou hier saam ‘n lewe begin.

Robbie se ouers stuur hom na matriek Potchefstroom toe. Robbie hulle word pampoenboere genoem, waarop hy baie trots is. Robbie neem sy studies ernstig op, maar geniet darem ook die plesier wat die universiteit hom bied.

Na Robbie sy studies voltooi het kom vestig hy hom permanent op Kranskop. Robert wat reeds die nuwe intrekkers ontmoed het stel voor hulle almal ry en gaan maak ordentlik kennis met die nuwe bure.

Robbie se oë verstar wanneer hy die nimf uit ‘n ander tydperk om die hoek van die huis sien aangesweef kom. Vlinders op sy maag maak dit ook nie vir hom makliker nie.

“R..R..” probeer Robbie homself voorstel.

“Martelize Botes,” stel sy haarself met ‘n giggel aan hom voor, en sy rek haar oë vraend in sy rigting.

“Aangename kennis Martelize, ontmoet my vrou Erna, en dit is ons stom seun Robbie,” kom Robbert tot Robbie se redding.

“More oom, aangename kennis tanne, Robbie,” giggel die rooikop meisietjie, en steek ‘n fyn sagte handjie na hom toe uit.

Martelize se ouers kom net op die voorstoep uit, as hulle huis se kant toe stap.

“Ma, pa ontmoet oom Robert se vrou tanne Erna en hul seun Robbie,” brabbel Martelize aaneen.

“Welkom buurman, buurvrou, bly om julle te ontmoet,” groet oom Danie en steek sy hand uit.

Elize nooi hulle in vir koffie, maar Martelize wil eers vir Robbie haar nuwe vulletjie gaan wys. Robbie se maag maak ‘n draai as Martelize hom aan die arm vat en om die huis lei na waar die perde in die stal staan.

Voor hom staan die mooiste boerperd wat hy nog in sy lewe gesien het. Langs haar die pragtigste ou hingsie wat nog waggel op sy swak beentjies.

“Wil jy nie Vrydagaand saam met my op oom Hendrik en tannie Sarie se plaas gaan dans nie asseblief?” kom dit skielik van Robbie af.

Martelize kyk hom eers verbaas aan dan antwoord sy, “ek sal baie dankie. Wat moet ek saamneem,” vra sy.

“Niks nie, tannie Sarie maak elke einde van die maand pap en sous, ons bring ons vleis, dan braai ons en dans terwyl oom Hendrik en sy seuns musiek maak,” antwoord Robbie.

Die groepie groet mekaar vriendelik bly om nuwe vriende te kon maak. Robbie veral kan nie sy oë van Martelize afhou nie. Hy weet net, hy het vandag die toekomstige vrou van Kranskop ontmoet.

Noudat Robbie op die plaas is het Robbert besluit om hom as permanente boer te onttrek. Saam met Erna begin hulle ‘n klein groente boerderytjie. Nie om geld mee te verdien nie, maar net om hulle besig te hou. So deel hulle dan ook groente uit as daar gaste kom, en Erna lê bottels en bottels groente en vrugte in.

Erna kyk met tevredenheid toe, hoe haar seun al hoe meer geheg raak aan die pragtige Martelize. Martelize is soos ‘n vars briesie as sy kom kuier op die plaas. Erna kan sien dat sy hier hoort. Erna sal maklik kan terugstaan vir die pragtige rooikop dogter.

Erna het weer vanaand van die lekkerste skaapboud, gebakte aartappels, groenboontjies, pampoentert en ‘n malvapoeding in die oond. Martelize en haar ouers kom vanaand op Kranskop eet. Erna vermoed die groot vraag gaan vanaand gevra word. Sy wonder of Robert al die nuwe verwikkelinge raakgesien het.

“Dink jy nie ook dat Robbie vanaand met die groot vraag voorendag gaan kom nie ou man,” vra Erna nuuskierig vir Robert daar waar hy voor die radio sit en nuus luister.

“Hoe nou ou vrou? Is dit nie te gou nie? Maar as hy dit doen dra dit my goedkeuring weg. En jy vroutjie, sal jy tevrede wees? Ek sien jy en Martelize kom goed oor die weg,” maak Robert ‘n stelling na al die vrae.

Erna is bly om te hoor haar ou man is nie so onoplettend soos wat sy gedink het nie. Sy antwoord nie en glimlag net in die stilligheid.

Na ete sit almal gesellig in die sitkamer en koffie drink en smul aan Erna se lekker tuisgemaakte melktert. Dit is dan wat Robbie opstaan en met die teelepeltjie teen die koppie klingel.

“Ma, pa, oom Danie, tannie Elize, ek en Martelize het besluit om te trou. Ek en sy het gedink hierdie is ‘n ideale geleentheid om vir oom en tannie om Martelize se hand te vra,” kom die aankondiging en groot vraag waarop Erna gewag het.

Niemand is eintlik verbaas nie. Martelize se ouers gee toestemming, en in ‘n oogwink is die drie vroue besig om die troue van die jaar te bespreek hier op Kranskop.

Later die aand sit Robert en Erna saam met Robbie in die kombuis. Robert lees uit die Bybel uit voor almal kamer se kant toe gaan.

“Amen” sluit Robert sy gebed in die middel van alles af as een van die klein hondjies erg begin tjank.

Pa en seun staan gelyk op. Robbie beweeg onmiddelik kluis toe. Robert trek die bewende liggaam van sy vrou teen hom vas.

“Bid vrou, bid vanaand dat ons kind veilig sal wees,” smeek Robert in Erna se oor, sy voel die trilling deur sy liggaam.

“Snaaks dat die beeste so stil is pa,” sê Robbie terwyl hy ‘n geweer in Robert se hand stop.

“Ek weet nie of hierdie veediefstal is nie seun. Ons moet versigtig wees. Brakkies se tjank is skoon af, en dit klink nie goed nie,” lewer Robert kommentaar.

“Ma kom sluit asseblief die veiligheidshekke as ons uit is.” kom dit half bevelend van Robbie af.

Erna volg haar seun se bevele stiptelik uit. Sy stap self kluis toe om haar pistool te gaan uithaal. Met die baie plaasmoorde deesdae wil sy nie onverhoeds gevang word nie.

Versteen steek sy vas in Robert se studeerkamer. Voor die kluis staan Herman. Karel se enigste seun. Sy sien die dood in sy oë. Daar kom ‘n kalmte oor haar. Erna weet, sy is so goed soos dood. Sy is binne die huis toegesluit, niemand kan inkom nie. Dit is net sy en Herman.

“Herman, wat soek jy hier,” kom dit kalm van Erna af.

“Tannie Erna moet nou nie vir tannie dom hou nie, tannie weet hoekom ek hier is,” antwoord Herman walgend met ‘n lag.

“Herman jy weet jou pa het daardie aan selfmoord gepleeg om nie tronk toe te gaan nie,” kom dit selfversekerd maar tog benoud van Erna af.

“Tannie weet dit is nie hoekom my pa die beeste gesteel het nie, dit was oor tannie gewees, nou vat Robbie ook nog die vrou van my lewe vir hom, en vanaand is dit “paybacktime” kom dit smeulend van Herman.

Herman lig die pistool en lê aan op Erna. Erna doen wat Robert gevra het, sy bid vir hulle seun. ‘n Skoot klap, glas breek. As Erna se oë oopgaan, sien sy hoe Herman inmekaar sak.

Die daaropvolgende dae is vir Erna en Robert weer dieselfde as die tyd toe Karel oorlede is. Al die verklarings wat afgelê moes word. Die oor en oor illustrasies wie die skoot afgevuur het en van waar af. Wanneer hulle agtergekom het daar is iemand in die huis, en dat Erna in gevaar is.

Daardie nag na alles verby is, neem Robert Erna se sagte handjies in syne. Robert soen hulle teer en hy trek vir Erna styf teen hom vas.

“Dankie Heer dat U hierdie hoofstuk uiteindelik vir ons afgesluit het. Dat U ons as gesin gespaar het vir die toekoms, Amen,” bid Robert dankbaar.

Lank kniel man en vrou nog na die gebed. Dankbaar dat hulle mekaar nog het. Dat daar vir hulle seun nog ‘n toekoms op Kranskop kan wees.




Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/nag-van-verraad-woes-skryf-woes-2015
Ans Botha

Die jare het gekom en gegaan. Baie het gebeur van die eerste dag wat ek op Woes begin skryf het. 

Ek en my familie woon op 'n plaas naby Zeerust in die mampoer vallei soos ek dit noem. Ek het groot geword op 'n plekkie hier naby. Skuinsdrif. Het daar Laerskool gegaan tot in 1975 is toe Zeerust toe en my Matriek daar klaargemaak. Die lewe het eers vir my 'n paar draaie laat loop tot ek en my familie teruggekom het na die plek wat die naaste aan my hart se punt le. 

Van skool af was ek baie lief vir skryf, maar ek moes eers 'n paar paaie loop voor ek dit tog kon regkry om eindelik te kon doen waarvoor ek baie lief is.

Ek het vyf jaar gelede 'n kursus geloop in kortverhaal skryf, maar toe byt die gedigte gogga my ook. 'n Uitgewer het my terloops raakgesien en ek het saam met 'n groep ander digters 'n koffietafel boek uitgegee. My grootste trots wat ek bereik het in die skrywersbedryf.

Vandag hou ek my nogsteeds besig met kort verhale gedigte rubrieke en artikels. Ek bly nie verniet op 'n klein plasdie nie. Die natuur is in my bloed. Ek leef vir die buitelewe om in die veld te kan sit en te luister na die stilte, na die gebrul van die leeus, 'n jakkels se roep, maar die mooiste om te sien hoe 'n koedoe oor 'n draad spring. Die natuur is in my, ek is die natuur, ek leef die natuur. 

Dit is in kort hoe my lewe is en wie en wat ek is.



Totale stukke publiseer: 107
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 538