Op Woes.co.za onder Kortverhale

Ons REDE 10

Die skemer son vertoon ‘n pragtige skarlaken refleksie oor die oppervlakte van die water. Met eerste oog opslag kan Milah nie haar oë glo nie. Dit lyk asemrowend. Die geboude damwal op die agtergrond vertoon mooi en laat dit na ‘n skildery lyk. Louw se “iewers spesiaals” het Milah se verwagtinge oortref. Die lodge waar hulle gaan bly het ‘n pragtige oorsig van die Hartbeespoortdam en dit lyk ongelooflik. Louw is besig om die bagasie af te laai toe ‘n vent, met die lodge se kleredrag, naderstaan om hom te help. Louw knik net met ’n breë glimlag toe Milah hom vra of hulle werklik hier gaan bly.
“Ek weet jy wil dam toe gaan. Jy hoef nie vir my te wag nie, gaan maar solank,” sê Louw aan Milah met ‘n reaksie wat hare weerspieël waar sy verslae staan met haar hand op haar bors en die wêreld bekyk.
“Is jy seker?” vra Milah. Immergroen bome staan oral waar jy kyk. Daar is ‘n groot gras perk en trappies wat lei tot onder by die dam. Die plek slaan haar asem weg en dit is presies die reaksie waarvoor Louw gesoek het.
“Natuurlik.” Louw het die spyker op die kop geslaan. Dit is vir hom gerusstellend om te weet dat hy iets baie reg gedoen het. Hy plaas die bagasie op die grond neer voor hy verder aan haar verduidelik dat hy vinnig by ontvangs gaan aanmeld om hulle sleutel op te tel. Hy sal ook die bagasie assistent help om die bagasie te bêre en hy moet ook nog die motor in die gaste afdeling gaan parkeer.
“Moenie lank weg bly nie,” laat Milah van haar hoor en maak dadelik gebruik van haar man se uitnodiging. Louw glimlag vir Milah se woorde. Hy is glad nie van plan om lank weg te bly nie. Hierdie vyftien minute of so, terwyl hy die laaste paar goedjies orden, is die langste en enigste tyd wat hy van haar af wil weg wees. Milah het Louw se onverdeelde aandag.
“Ek belowe ek sal nie,” hy gaan voort om met die bagasie, die assistent agterna te volg.

Dit is ‘n entjie om te stap tot by die oewer van die dam, maar dit maak nie eintlik saak nie, want as ’n dorpsmeisie het Milah nog altyd die buitelewe bo die natuur verkies. Sy trek haar sandale amper dadelik uit om haar geswelde voete in die water nat te maak wat ‘n lafenis is. Die koue van die water het die stap definitief die moeite werd gemaak. Dit sorg dat haar voete minder hitte sensitief voel en dit maak die drukking minder. ‘n Plat klippie trek haar aandag en sy tel dit op om in die water te gooi. Daar waar dit in die water sink, vorm die water bo-op ‘n ronde rimpeling wat teen die oewer uitstoot. Sy kon dit nog nooit regkry om ‘n klippie op die water te laat hop nie, maar dit laat dink haar terug aan ‘n herinnering.
Toe sy baie klein was, het sy eendag saam met haar ouers gaan swem. Sy dink sy was te jonk om te onthou presies waar die plek geleë was, maar sy verbeel haarself dat dit ook ’n groot dam was. Sy onthou hoe sy en haar pa op ‘n hout jetty gesit het met hulle bene wat afhang. Hulle het klippies in die water gegooi. Haar pa het probeer om haar te leer hoe om ‘n klippie op die water te laat hop. Hy het dit elke keer reggekry, maar nie sy nie. Dit was in elk geval nie wat die dag vir haar so spesiaal gemaak het nie.
Sy was nog nie in die skool nie en het die kuns van swem net betyds vir hulle uitstappie bemeester. Met haar, staande in die middel, onthou sy hoe haar klein handjies om ’n vinger of twee om elk van haar pa en ma se hande gevou het terwyl hulle gereed gemaak het om gelyktydig saam in die dam te spring. Met ‘n paar prettige gille het hulle in die water geplons. Dit was die mees spesiaalste.

Milah gaan sit op ‘n bankie onder ‘n boom en staar uit oor die donker water. Sy sal ook graag eendag sulke herinneringe saam met haar kinders wil skep. Reën druppels begin saggies val en sy geniet hoe dit teen die son soentjies op haar skouers afgly. Die druppels maak ook rimpels in die water. Gelukkig is die boom, waar onder sy sit, baie dig, dat sy nie sopnat word nie en sorg vir nog ‘n rukkie in die skone natuur.
Haar kinderlewe was wonderlik, dink sy nostalgies terug. Daar was nie altyd geld nie, maar daar was altyd tyd gemaak vir mekaar. Dit laat haar wonder oor Louw se kinderjare. Sy het hom ontmoet en leer ken in ’n tyd toe daar nie meer ’n verhouding tussen hom en sy pa ontstaan het nie. As hy wel ’n verwysing na sy kinderlewe maak, is dit meestal herinneringe saam met sy ma. Hy praat nie verder veel daaroor nie. Sy vermoed dat Louw en sy pa mekaar moes verloor het tussen die rykdom van HKL en hulle kunstenaars en al die druk om van alles ’n sukses te maak. Tussen sy ma se siekte en afsterwe en dat sy pa, sy broer altyd voorgetrek het, het hulle mekaar net nooit weer gevind nie.

“Milah…” hoor sy die bekende growwe stem na haar roep, “Skattebol…” Louw stap ingedagte verby haar sonder om haar raak te sien.
Milah weet dat hulle nie perfekte ouers sal wees nie en dat hulle ook gaan foute maak. Sy wil net nie hê dat hulle lewe saam eendag moet oorheers word deur enige euwel van dié lewe nie. Hulle moet net ’n familie wees, bo en behalwe álles. Milah probeer haar gedagtes wegdink en op Louw fokus. Sy staan saggies op hom van agter af te bekruip, maar sy slaag nie. Hy spring onverwags om en gryp haar om die middellyf. Hy het heer waarskynlik net gemaak asof hy haar nie gesien het nie.
“Uitgevang!” hy tik met sy vinger speels op die punt van haar neus terwyl hy nie kan ophou lag nie.
“Spoil sport.”
Donderweer dreun deur die lug en dit begin om al harder te reën.
“As ons nog een oomblik in hierdie reën staan, kan ons netsowel gaan swem!”
Milah gryp na Louw se hand en hulle probeer om so vinnig as wat hulle kan te hardloop tot onder die naaste beskutting.
“Lyk my ek het te vinnig gepraat,” sê Louw uitasem toe hulle veilig en klam onderdak staan. Hulle kyk hoe die reën die aarde voed en hoe die dorstige grond die water op suig. Die reuk van die nat grond is ontspannend.
“Dit het lanklaas só lekker gesous.”
“Dit is ’n teken,” Milah glo daardie woorde asof dit ’n geskrifte is. Reën was nog altyd ’n seëning. Dit kan net voorspoed beteken vir hulle huwelik in die toekoms. Louw kantel sy kop afwaarts en Milah staan op haar tone dat hulle monde mekaar kan bereik vir ’n soen. Sy hande is p haar lae rug en haar hande op sy nek en wang. Een van haar, haar slierte kleef aan sy klam wag vas.

“Julle sal eers moet wag dat daardie een kom voor julle nog een kan maak,” hulle pragtige oomblik word verbreek deur ’n oormatige vet oom wat lyk asof hy die hele dag visgevang het, so rooi is hy in die gesig. Milah en Louw was nie eers bewus dat daar nog mense in die nabye omtrek is nie. Louw raak bloedrooi in die gesig en dan begin hy en Milah nes twee tieners skaam te skater van die lag vir die onvanpaste, maar tog humoristiese, opmerking.
Milah fluister in Louw se oor dat sy dink dit sal die beste wees om eerder na hulle kamer toe gaan waar hulle alleen sal wees. Louw stem saam, want dan kan hulle ten minste gaan droog aantrek. Die rooiheid in Louw se gesig verdwyn nie en op daardie noot probeer hulle stilletjies verdwyn sonder dat hulle slaag. Oom Baber, Louw en Milah het hom so gedoop, wuif tog te vriendelik vir hulle.

“Is dit die honeymoon suite?” vra Milah nogmaals verslae toe Louw die deur oopstoot. Dit is ’n prentjiemooi grasdak gebou. Ietwat soos ’n oopplan van ’n huis waar die kombuis en leefkamer saamsmelt. Al wat die badkamer effens afskei is ’n verkorte sandblasted glas muur. Die kamer is sjiek in pastel kleure versier. Die linne is wit en moderne hout meubels is oud gemaak met wit verf.
“Niks minder as die beste vir jou nie, my vrou.”
Milah merk op dat die “tassie” bo-op die houtkis by die voetenent staan. Louw is vol verassings, want reg langs dit is ’n heelwat groter tas. Hy moes seker dit gepak het terwyl sy die ontbyt voor berei het en skelm in gelaai het toe sy die mandjie gepak het. Dit is waarom hy ook so daarop aangedring het dat sy maar solank kan dam toe gaan sonder hom toe hulle net arriveer het. Hy moes dit nog alles aflaai.
“Jy het seker ‘n arm en been hiervoor betaal?”
“Nee, ek is seker ek het nog albei,” ontduik Louw die vraag grapperig. Hy gaan draai die stortkrane agter die glas muur oop. Milah staar elke beweging van sy silhoeët dromerig agterna en kyk hoe elke kledingstuk op die grond val. Sy hoor ook hoe die druppels water op die stort vloer neer plons. Die reëndruppels buite maak ’n simfonie van hulle eie op die grasdak.
Milah gaan lê verkeerdom op die bed dat haar kop by die voetenent van die bed is, sodat sy elke beweging van Louw se silhoeët kan agtervolg met haar oe terwyl hy ontklee.
“Ek kan nie glo dat jy nog ‘n tas vir my kon weg steek nie,” sê Milah, reg voor haar staan die bagasie wat sy nie kan miskyk nie. Sy kyk op na Louw se silhoeët toe hy haar antwoord en sien hoe hy in die stort klim.
“Dit was moeilik, maar ek het dit reggekry.”
Milah kan uit nuuskierigheid nie meer weerstaan om die groter tas oop te maak om te sien of Louw werklik alles kon pak wat nodig is nie. As sy in elk geval nie haar aandag op die tas gaan fokus nie, gaan sy haar hande nie van Louw kan afhou nie. Dit gaan veroorsaak dat hulle laat is vir hulle bespreking by die lodge se restaurant. Hy het nie te versmaai gedoen nie, dink sy en haal vir hulle elkeen ’n stel klere uit. Sy sal alles môre wegpak, daar is nie nou tyd nie. Hulle moet regmaak vir hulle ete by die lodge se restaurant.
“Engel, bring vir my ’n handdoek asseblief?” Net soos ’n man is, dink Milah en sit ’n handdoek bo-op die stel klere wat sy vir hulle uitgehaal het en stap tot agter die ruit wat tot en met nou Louw vir haar weggesteek het.
Louw was besig om uit te klim en Milah besluit dat sy hom ’n bietjie gaan terg om die handdoek ’n paar keer buite sy bereik te hou toe hy sy hand uitsteek om dit aan te gee. Hy moet elke keer ‘n entjie verder strek om daarby uit te kom voor Milah dit weer weg trek. Hy gee later moed op en verander sy strategie. Toe Milah die handdoek die laaste keer uitsteek trek hy haar met handdoek en al onder die oop stort krane in.

Hulle was onbewus dat die reënbui opgehou het tot Louw die stort krane toe draai. Hulle droog vinnig af met ’n handdoek Louw vir hulle kaalgat uit die tas gaan haal het. Hulle trek aan in ’n japtrap. Milah het nie die horlosie dopgehou nie en hulle spelery het amper veroorsaak dat hulle laat is vir hulle bespreking. Nie dat sy sou omgee nie.
Louw komplimenteer Milah wat gloei in ‘n koel semi-formele rokkie met ’n blou Sjinese patroon soortgelyk aan die wat voorkom op outydse breekgoed. Sy het haar donkerbruin krulle netjies vasgesteek en grimering natuurlik gehou.
“Jy lyk ook nie te sleg nie,” Milah se wange is bloskleurig vir haar man se kompliment. Louw het ‘n netjiese kortmou, strepies af knoop hemp by een van sy swart denims aan. Hy het haar gunsteling naskeermiddel aan en sy vaal blonde hare is effens gejel. Milah steek haar voete in wit sandale en Lou ryg sy belt deur die denim se lissies.
Vrolike mense stemme vul die vroeë aandlug saam met ligte musiek waar hulle verneem die restaurant moet wees. Die voetpaadjie is mooi uitgelê met stene en verskillende klippies om dit te versier. Dit word opgehelder met ‘n ry liggies aan albei kante wat ‘n romantiese atmosfeer skep.

‘n Vriendelike kelner neem hulle na ’n uitgesonderde tafel toe en toe hy vir hulle die spyskaart gee, wys Louw nee met sy hand.
“Ek het alreeds alles vooraf met Mariëtte gereël. Alles is bestel, gaan praat asseblief met haar,” stuur hy die kelner weg.
Milah is beïndruk. Hy het elke klein dingetjie haarfyn beplan. Milah wonder waar hy al die tyd gekry het om dit te doen, toe kom daar ‘n skielike leidraad by haar op. Sy is eers huiwerig om daaroor uit te vra.
“Penny for your thoughts?” sê Louw in sy beste Engels op ‘n flankerende manier wat Milah laat giggel.
“Wanneer het jy kans gekry om hierdie wegbreek te reël?”
“Alles wat ek kon het ek gereël net voor ek moes,” Louw word onderbreek toe die kelner saam met ‘n rooikop vrou opdaag en hy maak keel skoon.
“Aangename kennis, ek is Mariëtte. Dit is wonderlik om julle te ontmoet. Ek wil net graag om verskoning vra vir die misverstand. Alles is nou in orde. Die kombuis is besig met julle bestelling. André, julle kelner vir die aand, sal nou julle bestelling vir drankies neem. Indien julle my hulp benodig kan André my net kom roep. Ek hoop julle geniet die aand.”
“Dankie,” sê Louw en dan stap die vrou weg.

Die kelner handig aan Louw en Milah elkeen ‘n drankie spyskaart dat hulle iets kan uitsoek om te drink.
“Ons het ‘n heerlike wyn wat ons aanhou. Dit kom spesiaal uit die kelder van ons bestuurder se wynplaas en julle kan dit geniet saam met julle nagereg sou julle dit so verkies.”
“Nee dankie, ons is swanger,” gee Milah ’n antwoord. Hy kon dit seker waarneem dink Milah geïrriteerd.
“Meneer?”
Al is die kelner irriterend is hy baie professioneel met sy lappie oor sy arm en sy kierts regop postuur. Louw kyk ongedeerd na Milah asof hy ook na ‘n verskoning soek.
“Ons het saam besluit om al twee sober te bly vir die hele nege maande.”
Die kelner gee Milah ‘n snaakse kyk, asof sy die een is wat die broek in die verhouding dra.
“Ek is seker julle kan vir ons twee heerlike non-alkoholiese daiquiris aan mekaar slaan.”
Nie lank nadat die kelner weg is nie kom hy terug. Teen hierdie tyd kry Milah hom vreeslik jammer. Hy dink seker dat hulle vreeslik ongeskik en ondankbaar is, wonder sy.
“Die kombuis is besig met die drankie bestelling. Is daar nog iets wat ek vir julle intussen kan kry?”
Vermaak stuur Louw hom weg en dan is hulle uit eindelik alleen.
“Dankie, jy het my uit die verleentheid gered. Ek het amper met die hele sak patats uit gekom.”
Hulle lag vir die kelner se senuagtigheid en dat hy sy “pose” goed kon hou.
“Ek is trots op jou.”
“Dankie my vrou, maar daar lê nog ‘n lang pad voor. Ek gaan uithou vermoë van staal moet hê, want vir die eerste keer sal ek elke keer moet nee sê vir drank. Ek dink nie ek wil ooit weer drink nie. Dit is ‘n diep en donker gat waarin ek nie weer wil verval nie. Die moontlikheid dat ek jou kon verloor was te groot en moes nooit eers daar gewees het nie. Ek glo ek is sterk genoeg om enige drank te kan weerstaan, ek moet net nie onnodig in versoeking kom nie. Ek wil so ver moontlik van dit af bly. Dit is in elk geval een van die stappe. Die ander sal natuurlik wees om my lewe en dit wat vir my belangrik is te herrangskik. Jy is nou heel boaan die lys. My eerste prioriteit. HKL en my pa… Dit kan alles wag.”
“Ek is bly jy plaas my eerste, maar HKL, jou pa, Kobus… Hulle is nog altyd belangrik.”
“Maar ek kan nie saam met hulle oud word nie.”
“Sjoe, ek weet nie wat om te sê nie. Ek is lief vir jou,” die antwoord van Louw het vir Milah verbaas.
“Voor die kelner ons kom onderbreek het, het ek jou nog vertel hoe ek hierdie wegbreek beplan het…”
Louw gaan aan om aan haar te verduidelik dat hy nie eers geweet het of hierdie vakansie saam met haar gaan moontlik wees nie. Hy vertel aan haar dat hy nie geweet het of die egskeiding al in die proses sal wees nie. Die laaste dag wat hy die dokumente moes teken soos wat hulle ooreen gekom het, het hy nie geweet wat om te doen nie. Hy het nog speling gesoek. Nog tyd. Hy het geweet hy gaan dit nie kry nie. Al wat hy wou gehad het was net nog tyd saam met Milah. Hy het reeds die helfte van die vakansie goed gereël, want hy wou aan haar bewys dat hy haar nog lief het. En dit is toe hy “Ek is lief vir jou” op die lyntjie waar hy moes teken skryf net voor hy homself gaan inboek het by die sentrum. Hy het met Tiaan ooreengekom om niks aan Milah te verklap nie, terwyl hy hom gehelp het om die ander helfte van die vakansie te reel. Hy het vir Tiaan gesê dat hy slegs alles sal kanselleer op die nippertjie, indien Milah nie sou wou saamkom nie.
Milah vee ‘n traan van haar wag af; “Ek is so jammer Louw.”
“Hey, dit is in die verlede. Al wat ons nou kan doen is om vorentoe te kyk, want my planne het tog uitgewerk.”
Milah laat ‘n laggie uit van blydskap en Louw vee haar laaste traan af.
“Jy is reg… Hoe lank gaan ons hier bly?”
“Tot die naweek. Ek het nie vergeet dat ons vriende oorkom om my terug te verwelkom by die huis nie. Ons sal Saterdag, vroeg die oggend terug ry.”
Louw het alles fyn beplan, dink Milah. Sy gaan hierdie wegbreek week vreeslik geniet as Louw soveel moeite daarin gesit het. Dit laat haar so spesiaal en belangrik voel. Al is Louw baie los gat, het sy vergeet hoe oplettend hy kan wees, baie meer as wat sy hom prys gee.

Nadat hulle gesmeul het aan die heerlike kos, nogal Milah se gunsteling, bobotie, het Louw die kelner gevra om die rekening te bring.
Dit is al donker buite toe hulle die restaurant verlaat. Krieke tjirp en daar is nie ‘n windjie wat waai nie. Mens kan die koeligheid van die nat aarde na die reën voel en ruik. Dit is verfrissend na die hittige dag. Hand aan hand stap hulle tot by hulle kamer. Vir die res van die aand lê hulle in mekaar se arms en gesels oor wat die planne vir môre is tot hulle aan die slaap raak.
Die volgende oggend maak die baba’s vir Milah wakker. Hulle woel omtrent vroeg oggend. Toe Milah haar oë oop knip sien sy die mooiste prentjie voor haar. Louw lê op sy, sy met sy kop onder langs Milah se maag en gesels met hulle twee dogtertjies.
“En as mamma met julle raas moet julle gou na my toe kom…” sy oë gesels met liefde nes sy woorde en dit is so mooi vir Milah.
“Ek sal julle troos…” gaan hy voort voor hy sy aandag na sy vrou verskuif toe hy voel dat sy beweeg. Hy skyf homself weer bo tot by Milah, dat hy langs haar lê.
“Môre slaapkous.”

Die tweede dag begin met baie opwinding. Louw het vir hulle ‘n bootrit beplan. Hulle trek aan en gaan eet ontbyt by die restaurant, wat ook vir hulle middagete voorsien wat hulle op die boot kan geniet.
Vir die res van die week geniet hulle oneindige geselsies laatnag en spandeer dromerig laat oggende in mekaar se arms. Hulle voel soos jong tiener vryers wat nie hulle hande van mekaar kan afhou nie. Dag drie het hulle Harties gaan verken en op die vierde dag gegaan vir ‘n “couples massage” net om bietjie uit te kom. As hulle nie geëet het of vir vars lug langs die dam gaan stap het nie, het hulle verder soos kluisenaars meeste van hulle tyd alleen in die kamer spandeer. Daar het hulle vergeet van tyd. Dit het nes hulle wittebrood gevoel. Die verliefdheid van pasgetroudes saam met onwerklikheid en ongeduldigheid van lank wag dat hulle uit eindelik ‘n lewe saam as man en vrou kan begin; hunker in hulle teenwoordigheid.
Louw en Milah was nog altyd ‘n eenheid. Tussen op gee en moed verloor het hulle vergeet hoe om as ‘n eenheid saam te leef. Hulle het vergeet dat ‘n huwelik gaan oor hoe om onbaatsugtig vir mekaar te gee sonder om terug te verwag. Nou dat hulle dit weet, sal daar niks of niemand hierdie eenheid weer verbrokkel nie.

Aantal Woorde: 3582
Totale Woorde: 26992

© Kopiereg Voorbehou – L Badenhorst
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/ons-rede-10
Zellie

Skryf is vir my 'n uitkoms na 'n nuwe "ander plek" of selfs 'n ompad na 'n ou plek. Van kleins af het ek nog altyd 'n goeie verbeelding gehad wat gesorg het dat ek lief geword het vir woorde en om dit vas te vang op papier.

Ek hoop julle geniet dit om my werk te lees, so baie soos wat ek geniet het om dit te skryf.

Kopiereg Voorbehou Op Al My Werk



Totale stukke publiseer: 35
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 348