Op Woes.co.za onder Kortverhale

Oor rugby en liefde... Deel 2

Chrizelle is skoon uit asem toe sy uiteindelik vir Nina inhaal. “Nina-mens, hokaai nou! Vir wat los jy my alleen by daai sexy man?” raas sy kamma kwaai. Sy’s egter verbaas om te sien hoe haar vriendin effe verbleek en dan weer bloedrooi bloos. “Het jy met Markus gepraat?” fluister-vra sy. “O ja, dís sy naam! Nee, ek het nie met hom gepraat nie, maar dit het regtig gelyk asof hy met jóú wou praat. Vir wat het jy weggehardloop?” Nina sug en skets dan kortliks wat gebeur het. Haar verjaarsdag die vorige jaar, die kuier na die tyd, haar maller as mal idee vier maande gelede. “Het jy sy nommer?” Chrizelle is amper histeries opgewonde toe sy dit hoor. “Weet jy hoe baie meisies sal hul oogtande en beste hakskoene prysgee vir sy nommer?” “Ja, Chris, ek weet! En dis juis hoekom ek dit vir myself weggesteek het, sodat ek nie wéér so ’n simpel ding loop staan en aanvang nie! Ek skaam my morsdood. Wat moet die man nie van my dink nie?” sy bloos weer. “Dat jy ’n meisie is wat weet wat sy wil hê, dis wat hy dink! Gaan praat net met hom man, wat het jy om te verloor? Hy is mos net ’n boerseun.” Chrizelle knipoog en trek haar aan die arm terug na waar Markus nog staan langs die einste perd wat sy bewonder het. Half teensinnig laat Nina toe om gelei te word. “Gaan staan net by die perd, lyk bereikbaar, maar laat die res aan hom oor,” fluister Chrizelle. “Hoe weet jy dit gaan werk? Hoe seker kan jy wees?” fluister sy onseker terug. “Want maak nie saak hóé bekend hy is nie, hy bly ’n man en ’n man sal altyd vir ’n mooi meisie kyk. Bel my as jy klaar is.” Met nog ’n stuitige knipoog en glimlag los Chrizelle vir Nina by die perdestalle.
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/oor-rugby-en-liefde-deel-2-1453188996
Cari

Ek skryf hoe ek voel en as ek niks voel nie, kan ek niks skryf nie. Woorde beteken ongelooflik baie vir my, in liedjies, in gedigte, enige plek, dit knoop vas in my siel. Dit maak my wie ek is. Sonder skryf voel ek leeg.

"Woorde raak verlore in die wind as dit nie neergeskryf word nie."

Woorde kul en bedrieg en dit maak seer. Maar net so seer soos dit kan maak, so heel en mooi kan dit ook maak. Dit kan jou hart laat bons van lekkerkry, dit laat smelt soos spookasem in die mond. Iets wat mooi gese is, is niks anders as mooi nie. Woorde leer, dit vorm saam iets groters. Woorde en dade loop hand aan hand, want as ek iets se, bedoel ek dit, sal ek dit doen. My woorde is beloftes...



Totale stukke publiseer: 33
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 12