Op Woes.co.za onder Kortverhale

Skipbreuk 16 - Die slot

Veronica se voete volg outomaties die padjie na Arnold se huis. Dis nie te ver nie, maar dis ‘n stywe klim en sy haal vinnig asem toe sy daar kom.

Dokter Janse se ou motortjie staan in die oprit en dit val haar by dat Arnold gisteraand gesȇ het dat daar iets met Dominee Martin Steyn fout is. Alles het ook so vinnig gebeur, dat sy haar nie juis aan sy woorde gesteur het nie.

Die deur is oop. In die donker vertrek maak sy twee figure uit. Arnold roep dat sy moet ingaan. Hy verduidelik vinnig dat hy saam met Dokter Janse na Mieta se huis gaan, aangesien sy nie lekker voel nie.

Haar oȅ raak nou gewoond aan die ligsverandering en sy kom agter dat Martin skuins agter die deur sit. Dis die rede waarom sy hom nie dadelik opgemerk het nie. Daar’s steeds ‘n verband om sy kop.

Sy knik vir Arnold en Dokter Janse, dan loop sy na Martin.

“Hoe voel jy, Martin?” vra sy besorgd.

“Los my. Gaan na Petrus toe.” sis hy.

Dit laat haar onseker na die twee manne hier naby haar opkyk. Hulle besef albei dat hulle teenwoordigheid oorbodig is en stap uit.

Veronica probeer weer.

“Waarvan praat jy Martin? Hoekom jaag jy my weg?”

Hy beduie met sy hande en buig effens vorentoe.

“Jy verdien beter as ek. Ek wil nie ‘n meulsteen om jou nek wees nie.”

Sy gaan sit op haar hurke voor hom en vat aan sy hand. Hy ruk dit weg.

“Gaan, asseblief. Jy kan nie hier by my wees nie. Loop!”

Hierdie keer praat sy, asof sy in beheer is.

“Ek weet nie wat die probleem is nie, maar ek wil nie loop nie en ek wil jou nie los nie. Jy gaan my nie hier wegjaag, soos ‘n sleg hond nie. Vertel my wat fout is. Het iets gebeur?”

Vir ‘n oomblik is hy stil; dan soek hy haar hand.

“Veronica? Ek weet nie hoe om dit vir jou te sȇ nie. Dokter sȇ: ek is blind.”

Die woorde is kort en dit skok haar tot in haar siel.

“Wat? Jy…blind? Die ongeluk?”

“Ja. Dokter Janse sȇ dis permanent.”

(Intussen)
Petrus het gou vir Mandi kos gegee en vra toe weer vir Fytjie om na Mandi te kyk terwyl hy gou uitgaan.

Fytjie en Mandi kom goed oor die weg. Hulle maak grappies en speel die hele dag deur. Fytjie vat selfs vir Mandi see toe en dit lyk asof die twee mekaar al vir jare ken.

Hy maak die tuinhekkie toe en stap doelgerig in die spore wat Veronica agtergelaat het.

“Jy is myne. Ek gaan jou met niemand deel nie. Nie eers met ‘n Dominee nie. Vandag kom ek jou haal.”

Terwyl hy in die verte kyk, sien hy hoe Dokter Janse se ou Ford proes-proes oor die laaste duin verdwyn.

‘Dokter is seker oppad na nog ‘n sieke. Ek wonder of dit nie dalk Mieta is nie; sy lyk nie baie goed, na Oubaas Gert se afsterwe nie” dink hy terwyl die afstand tussen hom en Arnold se huis korter word.

Skielik vang ‘n kort figuurtjie sy oog en hy swets kliphard “Wat de …j? Jou pes! Jou swernoot!

Dit lyk soos daai skelm kaptein van die vissersbootjie. Ons het amper almal verdrink. Was dit nie dat Karolus oorboord geval het nie, was ek en hy ook seker dood!”

Petrus draf-stap skielik vinniger. Hy voel die adrenalien pomp “Vandag, gaan jy les opsȇ, Meneer die Kaptein! Vandag sal ek my humeur in toom moet jou, anders...?”

Veronica haal diep asem en dan neem sy albei Martin se hande in hare.

“Martin, ek sal … Nee, ek wíl by jou wees. Ek wil selfs jou oȅ wees. Alles wat jy moet sien, sal ek sien en saam sal ons deur die drif kom.”

Hy tel sy kop op en glimlag verleȅ, “Vra jy my, om te trou?”

Nog voordat sy iets kon sȇ, kom daar ‘n vreemde kras stem van die deur se kant af.

“O nee! Oor my dooie liggaam! Ek dink nie so nie.”

Albei se koppe ruk agteroor. Martin voel hoe Veronica se hand verstyf.

“Ekskuus? Wie is jy?” vra Veronica met ‘n effense stem.

“Veronica? Wie is dit? Wie is hier?” vra Martin onseker.

“Ja, sal julle nou nie graag wil weet nie, né? Ek het gehoor ek sal jou hier of daar anderkant kry. Toe besluit ek maar om eers hier te kom kyk. Dis nou ‘n geluk, nou hoef ek nie verder te gaan soek nie.”

Hy vryf sy hande teenmekaar asof hy nou ‘n lekkergoed gaan kry om te eet.

Sy kyk na die man en iets knaag aan haar, maar sy weet nie wat nie. Hy is kort; het ‘n woeste baard. Lyk asof hy baie in die son is. Het ‘n sny oor sy linker wang en sy weet instinktoef dat sy nie van hom hou nie.

Sy het intussen Martin se hande gelos en staan nou langs sy stoel. Wagtend om te verneem wie die onwelkome gas nou eintlik is.

Die man praat weer.

“Jy sien die saak staan so. Ek is jou Pa en ek het jou kom haal. Jy is my kind. Dit het nou tyd geword dat jy vir jou Pa moet sorg; aangesien my boot in die storm vergaan het deur ‘n lui, gemene, voorbarige vent!”

Jy kon Veronica met ‘n veer omslaan. Die verbasing is op haar gesig te lees.

“Wat? Ek het nie ‘n Pa nie. Het nooit een gehad nie.”

***

Versigtig en geruisloos het Petrus tot by die voordeur geloop.

“Ek gaan net hier om die hoek staan en luister. Wil nie nou sommer net inbars nie. Hier kan moeilikheid kom.”

Hy druk homself teen die muur en is binne hoorafstand…

***

Die man se harde stem vul weer die vertrek.

“O ja? Wel dan het ek nuus vir jou.”

Die man gryp Veronica aan die arm en probeer haar na hom toe trek, maar sy keer en Martin kom agter dat sy hom nodig het. Hy staan op en voel-voel na haar.

“Veronica…! Hou aan my vas. Ek sal jou beskerm.”

Die man stamp Veronica uit die pad en kom staan voor Martin.

“Ek weet nie wie jy is nie, maar jy hou jou hande van my dogter af weg! HOOR JY MY?” bulder hy.

Martin besef hy is ‘n oop teiken, maar hy sal sy man staan.

“Ek sal nie toelaat dat jy of enige iemand Veronica van my af wegvat nie. Sy bly hier by my.”

Die man staan voor Martin

“Kyk hier mannetjie…”

Die man druk sy vinger voor Martin se neus en hy kom agter dat Martin nie reageer nie.

“Ag shame… is die mannetjie tog nie blind nie? Veronica? Die man is blind en hy wil jou beskerm? Fooi tog.”

Martin beur vorentoe en probeer weer om naby Veronica te kom, maar die man steek sy voet uit. Martin val vooroor en kom met ‘n harde slag op die houtvloer te lande.

“Ha-ha-ha! Die blinde outjie is nou plat op die grond.”

Martin voel magteloos.

“Ek moet iets doen” dink hy.

Hy skop so hard as wat hy kan in die rigting waarvandaan die gelag kom en hy besef dat dit raak was. Die man val vooroor en spring weer net so rats op, maar hierdie keer is dit ‘n man met ‘n hewige humeur.

“DIT sal jou laaste skop wees?" en hy bring ‘n rewolwer te voorskyn.

"Nou het ék die hef in die hand. Probeer net weer iets snaaks en ek skiet jou vrek!”

Hy rig die rewolwer op Martin en bulder weereens,“Veronica, kom hier. Jy gaan saam met my!”

Veronica sien die beweging by die deur. Vir ‘n oomblik staan sy botstil. Die man kom agter dat sy by hom verby kyk. Hy draai rats om, maar Petrus is reeds binne en storm op die man af.

Vir ‘n oomblik lyk dit of Petrus die man gaan oorrompel, maar die man buk en Petrus val amper bo-oor die man. Petrus gryp egter na die rewolwer… Veronica skreeu en gil… Sy probeer histeries om vir Martin op te help.

Dan knal ‘n skoot!

Martin voel die nattigheid oor sy hand. Hy besef dis bloed.

Hy skreeu “NEE! Veronica? Neee.”

Sy lȇ in sy arms. Hy bring sy vingers na haar gesig; voel waar haar mond is en hy hoor haar prewel, “Ma tin…l i.. lief jo..”

Hy druk haar vir oulaas teen hom vas.

Petrus hoor die gille en skarrel om op sy voete te kom. Die man probeer om by die deur uit te kruip, maar Petrus gryp hom aan die hare en die man brul van pyn en wanhoop.

Petrus draai die man se gesig na hom en skreeu dat die spoeg so spat.

“Ek, Petrus van Staden, arresteer jou in die naam van die Gereg op aanklag van moord op jou vrou, verwaarlosing van ‘n kind, moord weens nalatigheid op see en poging op ontvoering!”
Petrus dien die man ‘n harde hou toe en sien hoe die man inmekaar sak.

***

Iewers in ‘n tronk sit ‘n kort kranksinnige mannetjie wat wag op sy moordverhoor. Hy bly sy kop krap en trek klossies baard uit sy gesig. Sy oȅ is wild en bloedbeloop. Sy asemhaling is kortend en hy skreeu soos ‘n mal mens wat nie weet hoe om rus te kry nie.

***

Op die horison stap ‘n man met sy Bybel onder sy linerarm. Sy regterhand rus op die skouer van ‘n kort mollige vroutjie, wat so pas haar man begrawe het. Sy neem hom van huis tot huis en so drentel hulle dag in en dag uit. Albei opsoek na iets hom hul mee besig te hou.

***

Op die voorstoep van ‘n klein huisie naby die strand, staan ‘n man wat na die see staar en sien hoe ‘n vrou vir hom in die verte wink om nader te kom, maar sy oȅ dwaal na sy dogtertjie wat met skulpies speel en hy weet dat hy vir altyd huis toe gekom het.

***

Hier was vandag sewe grafte toegegooi. Vyf manne wat verdrink het op see. Oubaas Gert Tredoux wat inmekaar gesak het terwyl hy gewag het op sy seuns se terugkeer vanuit die bruisende golwe.

Dan is daar ‘n klein hopie grond met ‘n wit houtkruisie aan die koppenent. Hierop staan ‘n paar woorde opgeskryf: “Veronica – Nimf van harte XXX”

***

So was daar nie net skipbreuk op see nie, maar skipbreuk ook op droȅ grond. Weens die toedoen van een man, het mense gesterf en is geliefdes uitmekaar geskeur.

Mag ons nooit deel word van so ‘n “skipbreukdag” nie.

Die einde.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/skipbreuk-16-die-slot
Moekie

Ek is passievol oor skryfwerk, gedigte en die kunste. Ek skryf wat vir my sin maak en ek skryf impulsief.

My stories en gedigte is saamgeflanste gedagtes en ek droom groot.



Totale stukke publiseer: 255
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 783