Op Woes.co.za onder Kortverhale

WsW: Dogters van die sOn (17)

Vivian parkeer haar BMW Donderdagoggend om half-nege in Verster, Malan en Trent se parkeerterrein, reg langs die imposante gebou wat sy self ‘n jaar of wat gelede ontwerp het. Gustaf Malan het voorgestel dat sy ‘n bietjie vroeër opdaag sodat hulle ‘n finale gesprek kan hê voordat hul samesprekings met Martin en sy prokureur ‘n aanvang neem.

“Hoe voel jy, Vivian?” vra Gustaf, leun met sy elmboë op die lessenaar en kyk besorgd oor sy bril na haar. Sy vryf een hand ingedagte deur haar perfek gestileerde blonde hare, staan op en vra, “Kan ons asseblief op jou balkon gaan staan?” Hy knik, staan op en skuif die deur vir haar oop. Vivian stap uit, maak haar oë ‘n paar oomblikke toe, haal diep asem en lig haar ken. “Ek’s reg vir hom, Gustaf.” Sy glimlag skeef en steek ‘n lang sigaret aan, blaas ‘n kringetjie en vra dan fronsend, “Hoekom dink jy het hulle onmiddellik ingestem tot ‘n onbetwiste egskeiding? Kan mens die vrede vertrou? Ek het gedog ons gaan een helse fight op hande hê.”

“Ontspan, Vivian.” Gustaf glimlag bemoedigend na haar. “Ek vermoed sterk dat Martin se prokureur hom aangeraai het om alles so vinnig en skoon as moontlik af te handel.” Hy leun teen die deurkosyn en tuur oor die groen grasperk voor hom. “Ek ken Steyn nie van vandag af nie. Hy kan vuil baklei as hy wil … maar dan moet jy ook in berekening bring …” las hy ingedagte by, “Steyn is Lorenzo Battaglia se persoonlike regsverteenwoordiger en marionet. Ek is doodseker daarvan dat Battaglia eintlik alle toutjies aangaande Martin se saak trek.”

“Hoe bedoel jy?”

“Die woord is uit dat Martin en Battaglia beplan om binnekort in vennootskap te tree ten opsigte van hul eksklusiewe nuwe kliniek en ‘n hele aantal voornemende beleggers staan reeds tou. Dit het die potensiaal om ‘n goudmyn soos min te word en sal heelwat buitelandse pasiënte, sowel as skatryk oorsese beleggers lok. Dus, as daar negatiewe publisiteit om Martin losbars, sal Battaglia se naam ingesleep word - soveel te meer omdat sy dogter ook in die gemors betrokke is.” Gustaf glimlag en sy oë blink ondeund. “Dis die laaste ding wat Battaglia wil hê … so, hy sal alles in sy vermoë doen om dit te verhoed. Ek aanvaar dat Battaglia vir Steyn meer as genoeg betaal om Martin te kalmeer en die affêre so stil as moontlik te hou. Dit help ons saak. So eenvoudig soos dit.”

“O, ek sien.” Sy sug verlig en staar ‘n paar oomblikke stil voor haar uit terwyl sy hierdie nuwe inligting verwerk.

Gustaf kyk na sy horlosie. “Kom Vivian, dis tyd.” Hy gee haar hand ‘n drukkie en glimlag bemoedigend. “Ons ontvangsdame sal Martin en Steyn reguit na die boardroom toe deurneem sodra hulle opdaag.” Vivian druk haar sigaret met mening in die asbak dood, trek haar ontwerpersbaadjie reg en stap met nuwe moed agter Malan aan.


Gustaf Malan en Vivian sit aan die een kant van die lang, blinkgepoleerde eikehouttafel, met Martin en Eugene Steyn reg oorkant hulle. Die twee prokureurs is betrokke in ‘n intense onderhandelingsgesprek en Vivian luister aandagtig, terwyl Martin agteroor in sy stoel leun en sy leë waterglas om en om in sy hande tol. Hy loer nou en dan onderlangs na Vivian met ‘n harde kyk in sy oë, maar sy vermy doelbewus direkte oogkontak met hom sover as moontlik. Hulle het mekaar ordentlik gegroet en dis soveel as wat sy vir hom te sê het.

Malan en Steyn finaliseer hul regsgesprek uiteindelik, knik instemmend na mekaar en dan voer Gustaf Malan die woord. “Vivian, Martin,” spreek hy elkeen direk aan, “luister asseblief na wat ons voorstel betreffende die ooreenkoms in hierdie saak. Verwittig my daarna asseblief verbaal of julle daarmee saamstem en teken dan hierdie dokument.” Hy hou ‘n dokument in die lug vir almal om te sien. “Beide partye stem toe dat ons die mees waardevolle bates verkoop. Dit sluit in die woonhuis, strandhuis, seiljag, skilderye en beeldhouwerke. Elkeen behou sy of haar eie voertuig. Alle beleggings en likiede bates word gelykop verdeel. Slegs Vivian, as eiser, hoef in die hof te verskyn, vandag oor ‘n week. Geen party sal enige finansiële transaksie in die interim uitvoer sonder om meneer Steyn en myself vroegtydig daarvan te verwittig nie.” Malan kyk oor sy bril na Martin en dan na Vivian. “In effek beteken dit slegs dat julle geen daaglikse ontrekkings of oorplasings bo R2000 kan maak van nou af tot en met die hofdatum nie. Is dit duidelik?” Albei antwoord bevestigend, maar Martin lyk asof hy eerder die tafel op Vivian en haar prokureur wil omkeer. Hy plak sy leë glas hard op die tafel neer en leun dan weer terug in sy stoel.

Steyn kyk fronsend na sy kliënt, draai terug en verduidelik die detail van die ooreenkoms verder rustig aan beide partye, “Elkeen kan sy of haar persoonlike items, soos klere, rekenaars, juwele, boeke ensovoorts verwyder voordat ons die bates opveil. Kunswerke sal afsonderlik deur ‘n erkende Kunsafslaer hanteer word en die verkoop van beide huise, sowel as die seiljag, sal deur betroubare instansies hanteer word. Aanvaarbaar?”

Vivian knik instemmend en antwoord, “Dis reg.” Malan skuif die dokument oor die tafel tot voor haar en sy teken.

Martin staan op en glimlag sinies, “Ek het seker nie ‘n keuse in hierdie gekkespul nie.” Hy teken die dokument vinnig, draai om en storm by die deur uit.

Steyn grinnik, trek sy skouers op en sê, “Meneer Marais sal vandag by die woonhuis uittrek. Hier is sy nuwe adres.” Steyn plaas ‘n besigheidskaartjie van ‘n gastehuis in Brooklyn op die tafel, groet en volg sy kliënt.



Desmond se eerste You Tube video veroorsaak ‘n totaal onverwagse opskudding op alle sosiale media netwerke. Heeltemal bo verwagting in word dit ‘n Twitter-trend en die kuberruimte is aan die brand.

Die video maak oop met ‘n pikswart skerm en Mike Oldfield se Tubular Bells wat as agtergrondmusiek speel. Groot letters gly oor die skerm, D-E-S-M-O-N-D en hang vir ‘n paar sekondes bokant die Church of New Life logo. Die titel, A Message of Love, verskyn volgende, versplinter in ‘n waas van klein ligkolletjies en die skerm verhelder gelydelik totdat Desmond duidelik sigbaar is. Hy staan doodstil en kyk vir ’n paar oomblikke reg in die oë van elke kyker deur die kameralens. Wanneer hy begin praat speel die musiek baie sag voort in die agtergrond. Sy stem is sag, maar resoneer sterk en hy is oortuigend betrokke en meegevoer met die boodskap wat hy oordra. Liefde is in almal – jy moet net leer hoe om dit onvoorwaardelik te kan gee. Maar net so belangrik, moet mens ook leer hoe om liefde te ontvang. Moenie bang wees daarvoor nie. Jy is meer waardevol as wat jy mag dink. Moenie vrees nie. Liefde is groter as vrees. Sy stem is vol emosie terwyl hy diep uit sy hart uit praat en die kykers uitdaag om toe te laat dat liefde beheer in hul lewens neem. Die kamera zoom in op sy ligblou, byna deurskynende oë terwyl hy onderhoudend praat en beweeg dan weer stadig, baie stadig terug na ‘n wyer kameraskoot. Desmond se ligbruin hare hang los om sy skouers en helder lig van bo skep ‘n sagte, wasige goue stralekrans. Hy sluit af, glimlag sag en maak sy oë toe. Die beeld verdof stadig tot swart.

Sy boodskap is treffend, aangrýpend selfs en ‘n mens kan nie help om daardeur aangeraak te word nie. Die hele video is slegs vyf minute lank, maar die ervaring en emosie is blywend.




Ramon is besig om die tweede video op You Tube te laai toe ek by my studio instap met ‘n glas lemoensap vir hom. Hy trek my nader en glimlag, “ What you think of Video 1, my love?”

“You did an amazing job, Ramon. The lighting, atmosphere, your camera angles, the music you chose …” Ek vlei my teen hom aan en hy leun moeg met sy kop teen my bors. Hy het ure aaneen gewerk om die eerste vyf videos van Desmond basies reg te kry voor Sondag se diens. Nou bly slegs die fynere detail vir die volgende drie videos oor voordat hy dit en aanlyn kan laai. Ramon glimlag gelukkig en sê, “Am glad you like.” Hy streel oor my been en merk op, “The man is good.”

“So are you, Ramon,” fluister ek en streel deur sy hare, “so are you.” Ons is albei heeltemal uit die veld geslaan oor die reaksie op die eerste video. Ons het gehoop dat daar ‘n paar likes sou wees en dat ‘n paar mense dit op twitter sou volg, maar ‘n trend? Liewe genade.

Ek skuif agter my laptop in en werk eenkant in my studio verder aan ‘n nuwe artikel vir Diana-hulle en loer af en toe na Ramon. Hy is vasgevang in sy werk - ‘n ware kunstenaar. “Mierda!” gil hy skielik en ek wip soos ek skrik.

“What?!”

“Never mind, babe.”

Hy glimlag vinnig na my en sy vingers vlieg dan weer oor sy keyboard soos wat hy kleur verstel vir die derde video, nader zoom en die musiek aanpas by Desmond se stem.

Ek is mal daaroor om na hom te kyk wanneer hy werk. Dis sexy om hom so te sien - so … involved en diep betrokke met wat hy doen. Dit gee my al meer en meer vertroue in hom en ons. Elke dag leer ek bietjie meer van hom ken. Ramon neem die lewe soos wat dit kom en geniet elke oomblik daarvan, maar hy is ook uiters professioneel wat sy werk aanbetref, kom ek agter. Dis goed. Ek hou daarvan. Baie.

Ramon se foon lui. Hy grom en sê, “Is Desmond. Have to answer.” Ek glimlag en skud my kop, terwyl ek verder aan my artikel skaaf. Dit irriteer my net so as mense my onderbreek wanneer ek druk besig met iets belangrik is. Ons is eintlik só dieselfde! Ek giggel en skryf eerder verder.

Desmond is byna sprakeloos en bedank Ramon oor en oor vir sy puik werk. Hy laat weet dat hy nou eers moet herlaai na al die emosie wat hy in die videos ingestort het. Ramon praat vinnig, lag en vertel Desmond dat hy sy oproep baie waardeer, maar nou verder moet werk. Hy groet en druk die foon dood, staan op en stap tot by my.

Ramon staan skielik agter my, vryf oor my skouers, druk sy gesig in my hare, soen my in my nek en fluister, “We work two or three more hour, ok? Then we go celebrate.”




Diana sit voor haar laptop en staar ongelowig na die skerm. Al hoe meer mense registreer as nuwe lede op hul webtuiste. Die vasgestelde CNL registrasiefooi beloop R200, met R100 maandelikse lidmaatskapsfooi, per EFT betaalbaar na die CNL Pretoria besigheidsrekening. Sy gryp haar foon en bel Pieter.

“Waar’s jy?” vra sy toe hy antwoord.

“Besig om die klanktoerusting vir Sondag op te laai. Hoekom, is iets fout?”

“Ek stel voor dat jy iewers kry om te sit.”

“Diana! Wat gaan aan? Is jy ok?”

“Pieter, gaan in op die CNL besigheidsrekening app op jou foon en dan vertel jy my wat jy sien.”

Daar’s ‘n paar oomblikke stilte en dan gil Pieter, “Liewe bliksem! Meer as R30 000 vandag!” Hy los ‘n paar kragwoorde, “dit beteken meer as 150 lede wat aangesluit het in een dag, my vrou!” Diana betig hom speels, “Tsk tsk tsk, Pastoor Pieter.” Sy skater, “Sulke woorde uit die mond van ‘n nuwe pastoor?”

Pieter lag verleë en vra, “Het jy Eliza al gekontak vir die artikels? Ons sal content moet laai dat dit bars. Elke dag ten minste twee nuwe artikels. Sy en Desmond sal die skedule of whatever moet uitwerk waarvan sy gepraat het. Vinnig ook.”

“Bedaar Pieter,” paai Diana. Sy giggel effe verbouereerd en sê ingedagte, “Dit sal afneem na die eerste dag, neem ek aan. Maar ek sal haar sommer nou bel, dan kan sy en Desmond self reëlings tref om dinge aan die gang te kry.”

“Dis reg, my engel,” lag Pieter. “O ja, wanneer jy met Eliza praat, maak asseblief seker dat Ramon Sondag se diens op video sal opneem.”

“Ok, sien later!” lag Diana en blaai na Eliza se nommer op haar foon.





Laat die middag begin plaaslike radiostasies die nuwe Twitter trend noem en die tweets word meer. Desmond is nog salig onbewus van die hierdie nuwe verwikkelinge. Hy is by Sarah se salon en sy gee hom ‘n Balinese massage. Sy masseer sy spiere diep en intensief totdat sy hom voel ontspan.

“Sarah?” vra Desmond nadat hy aangetrek het en sy haar salon se deure sluit, “Sal jy asseblief iets saam met my kom eet?”

“Dit sal heerlik wees,” lag sy. “Ry ons met jou kar of moet ek agterna kom?”

Desmond maak sy SUV se passasiersdeur oop en glimlag, “Ek sal jou weer hier kom aflaai na ete.”

Hulle sit regoor mekaar by ‘n klein ronde tafel in ‘n minder bekende, dog intieme Italiaanse restaurantjie in Arcadia, ‘n entjie van Loftus Versveld af. Desmond bestel ‘n bottel rooiwyn en sy kyk om haar rond. “Ek was nog nooit hier nie.” Haar oë speel oor die tafeltjies met rooi en wit tafeldoeke, wit kerse in wynbottels en foto’s van Italië teen die mure. Die Italiaanse vlag hang effe skeef agter die klein houtkroegie en Luciano Pavarotti sing sag in die agtergrond. Desmond se aandag is slegs op Sarah gevestig en hy teug stadig aan sy kelkie wyn, leun dan vooroor en fluister, “Die eienaar is ‘n regte ouwêreldse korrelkop Italianer en net sy gesin werk hier. Hy vertrou niemand anders nie. Hulle maak heerlike kos, al is hul diens effe stadig. Die ou tannie kook alles self en sy doen dit op die tradisionele manier. So, dis eintlik ‘n “aquired taste” tipe van plek.”

Sarah lag en kyk oor die tafel na Desmond. “Jy lyk nog moeg. Is jy ok?” Sy kyk besorgd na die aantreklike man voor haar. Hy glimlag effe afwesig, neem haar hand in syne en streel met sy duim oor haar palm. Sy aanraking is sag, maar intiem en sy kyk vraend na hom, “Desmond?”

“Sarah.” Desmond glimlag en herhaal haar naam, “Sarah.” Hy streel weer oor haar hand en kyk dan op, “Dis ‘n mooi naam, pas by jou.”

Die kelnerin kom neem hul bestelling en Sarah vra weer, “Is jy ok?”

Hy trek sy skouers op en glimlag skewerig na haar, “ Hierdie hele sosiale netwerk affêre het my bietjie onkant gevang, dis al.”

“Maar dis goed, is dit nie?”

“Ja,” antwoord hy sag. “Dis net … so gróót. Ek’s gewoond daaraan om direk met mense te praat. Dis seker outyds, maar dis wat ek ken.” Hy skud sy kop en lag. “Miskien moet ek net bykom en die nuwe tegnologie aanvaar vir wat dit is.” Hy teug aan sy wyn, “Kom ons praat eerder oor jou.” Desmond glimlag na haar en sê dan ernstig, “ek sal jou graag meer wil sien, Sarah.”

Sy knik ingedagte, half droomverlore en antwoord sag, “Ek ook.”




Don Lawrence staar ongelowig na Kritzinger se daaglikse verslag. Hy lees van die tweets, die video en maak dan sy oë toe om die woede binne hom te probeer kalmeer. Dis alles onaanvaarbaar! Hoe is dit moontlik?

Lawrence google die skakel na Desmond se video wat Kritzinger in sy verslag bygelas het, kyk self daarna en kan nie help om meegevoer te raak nie.

Hy staan op en skink eerder nog ‘n sterk drankie. Sy hande bewe wanner hy diep sluk en hy weet dat sy geveg om oorlewing vandag begin het. Hoe is dit moontlik? Hy glimlag wrang, neem nog ‘n groot sluk en dan maak hy ‘n besluit. Hy sal Kritzinger stuur om Sondag CNL Pretoria se eerste diens op video op te neem – hy kan nie self daar wees nie, want hy moet sy eie CNL Johannesburg gemeentediens lei. Lawrence knyp sy oë briesend toe en blaas sy asem stadig, woedend uit.

“Al oplossing is …” praat hy hardop met homself, “ om ‘n einde daaraan te maak.”
Hy stap heen en weer in sy studeerkamer en mompel verder, “Kyk wat gebeur Sondag … en tree dan op.” Hy knik vir sy eie voorstel. “Konsensus is bereik.” Lawrence sluk sy glas leeg en hervul dit onmiddelik, sluk weer dorstig en mompel verder, “Let justice be served …” Hy spoeg die woorde uit, draai in die rondte met sy arms wyd om hom heen en fluister, “daar is net plek vir een van ons, Desmond.” ‘n Vreemde, veraf kyk neem pos in sy oë en hy lag, val in sy lessenaarstoel neer en ‘n klein, wrede glimlag speel oor sy dun lippe.

“Net een van ons kan bly staan.” Hy sug diep en neem nog ‘n sluk.

“Net één van ons.”


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/wsw-dogters-van-die-son-17-woes-skryf-woes-2015
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733