Op Woes.co.za onder Kortverhale

(WsW) GASTEHUIS PARADYS, of Ná die atoomslag Nege-en-twintigste Kapittel

[Waarin die eerste pogings gemaak word om die paspad te soek, met die doel om 'n beseerdetransport te organiseer. Waarin die afdelingsleiers gevra word om hulle bedrywe skriftelik daar te stel. En waarin die jong seuns ook die initiatief self in die hand wil neem .]


MAARTEN praat: „Ons het gesien dat daar 'n oop rekening vir 'n ,Edenhotel' in die winkel was; selfs ek kan reken dat ons Paradys bedoel is, en dit beteken dat daar 'n bevaarbare pad tussen die twee plekke moet wees. Dis onmoontlik om te bepaal in watter rigting die meeste motors uit die kampeerplek uitgedraai het, want die pansers het die oprit deur­mekaar gewoel. My voorstel: Die beseerdes kan 'n paar ure lank sonder op­passer klaar­kom; twee van ons stap met Magda en Mirjam tot ons kamp by die stroompie terug. Onge­veer 'n uur te voet; die ander twee stap dan 'n uur in die ander rigting, twee ure later kom ons weer hier saam. Die ouens wat terugstap, kan die bagasie van die ander kamp saam­bring en gou gaan loer of iets in ons soutfabriek gebeur het. Ek meen, Bas en Matse loop in die ander rigting, hulle kan miskien bietjie verder loop in 'n uur as hulle niks het om te dra nie. Regso? Die wat as eerste hier aankom, moenie op die ander wag nie, maar gaan dadelik winkeltoe, na die beseerdes kyk. Dis nie nodig dat ons ook nog verhonger nie. Die eerstes lê hierdie drie stokke langs mekaar dwars in die pad, om aan te dui dat hulle terug is. En as iemand 'n bergpad vind, maak 'n pyl daaruit in die rigting waar die uitdraai is. Akkoord?”

    Hulle groet en gaan uitmekaar. In die een rugsak het die vrouens die draagbaar saamgevou, en die sout en waspoeier met 'n dosyn kerse en proviant in die ander een. Matse en Bas dra die tweede Geiger wat hulle in die winkel gevind het.

-----☼-----

Uit die notules van 'n volvergadering

(Uittreksels)

°   Beskrywing van die bedrywe:

Delores, die voorsitter: „Aangesien ons papier al hoe minder word  niks is oneindelik, veral hier nie  vra ek alle afdelings­leiers om moontlik knap op te skryf hoe hulle bedryf verloop, of dit te láát opskryf: Wat hulle doen, wat hulle beoog, hoe hulle klaarkom met die teen­woor­dige omstandig­hede  is daar besondere moeilik­hede wat julle moet bemeester? Benodig iemand dringend hulp in sy of haar bedryf? Onoorwinbare probleme?  maar ook vreugde­volles wat die werk en dus ons lewe vergemaklik, vooruitsigte, negatief of positief, te veel of te min personeel, opleiding van personeel... In hierdie trant. As dit moontlik is: Op een sy van 'n blad. Die agtersy kan ons miskien later gebruik om die voort­ontwikkeling op te teken, sê maar oor 'n jaar. Ons is ja byna 'n jaarlank al hier. Ek weet dat die meeste bedrywe 'n werkjoernaal voer. Hou in die toekoms asseblief die optekeninge so knap en skryf so klein moontlik. Ons papier gaan gou genoeg op wees...

°   Siektetoestand:

Dit is onrusbarend hoeveel siekes daagliks gemeld word; dit skyn nie egte siektes te wees nie, en die gesondheidsdiens kan nie bepaal of dit nawerking van die bestraling is waaraan ons almal 'n jaar gelede onderworpe was. Oombliklik lê drie vrouens en twee mans met hoë koors in bed. As iemand iets weet wat tot 'n verbetering kan bydra: Laat Gerda of Mevrou Griet asseblief weet.”

-----☼-----

Die voormalige „kindersoldate” staan 'n bietjie eenkant. Hulle speur 'n eienaardige gevoel van onwelwees en probeer om dit uit te druk nie. „Ek wetie of ek kind of man issie. Kyk, ek het al met 'n masjiengeweer op die vyand geskiet, het bloed uit die oë van 'n verwonde kameraad gevee voor hy sterf. Daar was ek rêrig nog 'n kind, maar drie jare later, en ek word behandel soos 'n Kobie of Elsatjie...”  „Ek weet, ek weet. Ek het al hare onder my armholtes en tussen my bene, maar dit sê niks nie. Ek is nog altyd verspeelt en wil boom­klim en seerower speel. Hoe'sit by jou, Braam?”  „Aag, Arrie, aag, Magnus. Daai beleef­nisse as kleinkind is so 'n las. Ek weet ek moet bekhou en nie voorbarig wees nie, maar as hulle so praat,... Dan wéét ek mos beter. Maar ek kan nie... Eintlik kan ek niks met al die kennis aanvang nie.”  „Ons ,onvolwassenes' moet eintlik iets doen om ons voor die ander te ,bewys', maar ons hét al bewys, soos Magnus sê. Maar wat? Wat kan ons doen?”  „Tja, maar dan moet ons sorg dat dit ,ouderdomsgereg' is, dat dit ,gepas is vir 'n kind van jou ouderdom'...”  „Ek wíl okkie altyd as nog-vis-nog-vleis aangesien word nie. Altyd in die pad. Te klein hiervoor en te groot daarvoor...” 

    „Ons moet bietjie daaroor nadink. Miskien kry een van ons 'n blits-ingewing. Die belangrikste is, dat ons nie ingee en begin huil nie. Ek weet, ek is dikwels aan die grens.”  „Die grens van grens!”  „Aag, ma-an!”

-----☼-----

„En ek sou dit glad nie eers gesien het, as sy nie my neus daarin gevryf het nie...” Twee van die pensionarisse sit op 'n bank in die son naby die koelteboom op die grasbult. „Dis nou vir jou 'n vrou!  He'jy al gesien presies hóé sy werk? Mens kan nie glo dat sy hoege­naamd werk nie. Trippel-trippel deur haar tuin  háár tuin? Wie het haar darie tuin gegee? Skielik het sy 'n tuin, 'n eie tuin!  deur haar tuin soos 'n by, of eerder soos 'n skoenlapper. En jy síén nie dat sy bewus, daadkragtig, of kragdadig, iets doen nie: Dit gebéúr eenvoudig so! Ek word mal daarvan!”

    „Tja, ou vriend! 'n verliefdheid het ek nog nie teëgekom nie! As jy iets van haar wil hê, moet jy haar ook iets aanbied. Het jy iets wat jy haar kan gee? Ek meen op jou ouderdom! Gaan bied aan om kruiwa te stoot of soiets.”

    „Twak, man! Ek weet nie waarvan jy praat nie!”

    „Ou vriend, sy kan nie ons taal praat nie, en jy is wat tale betref so onbeholpe soos nog niemand wat ek ken nie. Maar ek wens julle geluk en voorspoed! Werklik! Als van die beste. Sy is ja 'n prag van 'n vrou.”

    „Wat sal ek sê? Hoe sal ek 'n gesprek aanknoop? Hoe word dit gemaak? Dis als so lank gelede...”

    „Ou vriend, as dit moet dan moet dit. As dit wil dan gaan dit! Miskien,... waarskynlik het sy jou ook al gesien. ”

-----☼-----

Berig oor die toestand in die landbou:

Afdeling akker: Toe die vrouens hiernatoe gekom het, was alles verwilder en die akker oorwoeker met verskillende onkruid en kultuurplante wat deels-deels terugontwikkel het. Newe skoonmaak en omspit moes dadelik aangeplant word, sodat die geselskap kon oorwinter. Tot onlangs het ons nog altyd van die voorrade in spens en skuur geteer. Nou het ons genoeg self aangebou dat ons vooruit­sigtelik goed oor die winter gaan kom met genoeg saadgoed om in die lente aan te plant. Toe die mans kom, was dit moontlik om te ploeg, ons het twintigmeter vore getrek daar waar die onkruid die weligste gestaan het, want dis vermoedelik die vrug­baarste aarde. Uitbreiding onder by Kobus het groter verskeidenheid meegebring.

Bestand: 4 vore elk: wintergars met 20cm halme, oes in vroegherfs; somerkoring, mielies, sonneblomme, aardappels sommiges al geset; 1 voor met soja die helfte geplant (min bone).Nie-voedsel-aanbou: ½ ry hennep (min saad/steggies). Op ou puinfondasie waar kalk kan wees 1 dubbelry netels  kruipwortels. Meer vore voorgesien. Holger

Vrugteboord: Bome en bessiebosse aanvanklik in haglike toestand. Toe die mans kom, het ons skoongemaak, gesnoei, geprop.

Bestand: 3 perske, 6 appel, 1 kersie, 8 kwepers, druiwe 3 wit, 3 blou, aalbessies 3 rooi, 3 swart, baie wilde bloubessies, 1 moerbeiboom, koejawelrank voor die stoep. Ons wil steggies uitplant. Andrea

Groentetuin: 200m²: Geelwortels, tamaties, kool, slaai, proefbete vir verwilderte komkommers, ertjies, bone; pampoen op kompos. Agnes

Kobus se eiland: ±120m²: Tamaties, kool, slaai, soja, aarbeie, uie, haselneute, tiemie, dil, pietersielie, salie- en tiemiebosse, bloubessies, wilger: mandjiesvleg,7 byekorwe, 1 haan, 5 henne. Klara

Diere: Eendedam vol: 2 pare, 8 hase & 3 duiwepare op hok. Heuning, was en propolis word geoes en aan kombuis & apteek gelewer. Stefan

Apteek”:  Met die hulp van produkte uit die landbousektor asook 113 plantsoorte in ons eie bete, en versamelaars, kan ons 37 preparate vir verskeie kwale aanbied. Griet


©.30e.Mai2015.......................................-----☼-----............................................................tje

(1410)(39500)
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/wsw-gastehuis-paradys-of-na-die-atoomslag-nege-en-twintigste-kapittel-woes-skryf-woes-2015
Toom

Dag-ook,
    alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of filosofie nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Dikwels moes ek toe tot diep in die nag sit en beraam om iets vir môre uit te werk. Sommiges het bly kleef. Weiniges.

     My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet smaak, glad oor die tong moet rol.

     Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.

   Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword.

    Nou is ek al drie jare lank bendelid hier op Woes se werf, en besoekers is op werfie ook welkom.

    Ek hoor julle, luister na my, ons kan nog lekker gesels. 

    Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    - Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?

    So leer ons hopelik van mekaar.
    Groetnis vanToom




thomas.egerton@web.de



Totale stukke publiseer: 372
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 637