Op Woes.co.za onder Resensies

DIE MEDIKUS, film en boek

Die oumense, veral die onderwysers, het altyd gesê dat mens éérs die boek moet lees en dán die film kyk. Nie andersom nie! En hoekom dit? As mens die film eers sien, het jy beelde van die storie ingeprent gekry wat bestem hoe jy die die boek moet sien en begryp. Sê maar byvoorbeeld Johnnie Depp speel 'n rol in die film; later lees jy die boek en, makiesaak wat die skrywer sê nie, jy sien altyd Johnnie Depp. Nou weet ons dat die film dikwels anders as die boek gaan uitval: As J. D. aan boord van die skip verbrand (omdat dit met die vlamme so mooi lyk), gaan jy swaarkry as hy in die boek moet verdrink. Daar is iets wat jou nie toelaat om dit te sluk nie. Maar as jy daarna die film sien, het jy al soveel klein veranderinkies gesluk dat jy reeds gemerk het dat dit 'n ander storie is voor jy by die sterwetoneel kom. Dán kan jy besluit of die film of die boek beter was. Dikwels val die keuse op die boek (roman), „want die film met die eie prente in my kop nie ooreenstem nie. Só het ek my dit nie voorgestel nie.” Andersom lê mens sommer gou die boek weg as die beelde nie met die van die film ooreenstem nie. En ons stap nie so maklik uit 'n film uit, waarvoor ons soveel geld betaal het nie.

In 1986 het Noah Gordon 'n boek geskryf: Der Medikus (The Physician). Dis 'n vollengte roman met 637 bladsye, insluitend woordverklarings en inhoud, en afhanklik van hoe goed jou Engels is en hoeveel tyd jy het, kan dit tussen 'n week en meer as 'n maand duur voordat jy dit deur het. Dis 'n verhaal wat dwars oor Europa na Persië trek, 'n paar jaartjies daar bly en na Skotland terugloop. Dit begin met 'n arm kind in Londen in die middeleeue wat die geleentheid kry om iets beters te word, 'n mediese dokter. Die film speel in 90 tot honderd of so minute af, en heelwat  heelwat!  word weggelaat.

      Dit maak dat die tempo van die fliek 'n andere is, ons vlieg so te sê van die een awontuur na die ander. Daarby het die boek die moontlikheid om langsaam en deeglik prente te skilder, hoe die lewe destyds moes gewees het, die lewe in die krotbuurt, die maandelange gang oor die paaie wat die kruisridders later gaan bevolg, interessanthede oor die verskeie volke, stamme en enkelinge wat hy tref. Sy aankoms, sy opname in die vreemde taal in die vreemde universiteit in die vreemde (moslem-)kultuur, hoe hulle met die pes in 'n stad omgaan, hoe die nuwe denke nuwe moontlikhede vir die genesing van pasiënte bring. Die gedagtes kan loop dwaal in 'n onbekende wêreld, maar met ons moderne kennis: Wat sou ek gemaak het? Wat sou ek kón teweeggebring het?

      Maar nou kom dit alweer: Daai MAAR! Die filmmakers het waarlik 'n ander verhaal opgebou, met ander betoning, ander gegewens, selfs ander persone, sodat die leser/toeskouer op die ou ent moes onderskei en kies tussen twee verskillende dinge, nie tussen twee weergawes van die een ding nie.

      Hoe nou gemaak? Hoe nou besluit? Ek het baie gehou van die nadenklike slender­gang van die roman, het die atmosferiese dinge ingesnuif, die interessante inligtinkies opgeslurf. Dit is, vir my, 'n uitgewoë reis deur die awendland tot in die morgenland wat ook my „dors na 'n storie” bevredigend geles het. 'n Goeie storie was dit ook, met romanse, awontuur, adrenalien,... Als. Die fliek was nie James-Bond-in-sandale-en-turban nie, dog was dit presies so 'n bevredigende beleefnis.

      Die filmmakers het die dinge so gedraai dat die einde van die storie meer bevredig het as die van die boek. As ek nie die film gesien het nie, sou ek dit nie vermis het nie. En so ook met die boek. Nou het ek tog altwee gehad, altwee is op 'n hoë vlak. Dis net dat die film se einde my meer bevredig as die van die boek. Beteken dit dat ek afvlak, dat my waardes afsak? Dat ek veramerikaniseer?

    Nee, ek glo nie: Smaak my, die filmmakers het beter verstaan wat 'n goeie storie uitmaak. Dis sekerlik nie by alle filmweergawes van alle geskrewe romane nie.

©.2016.................................................... c]:o(٤...|...(o;[>.............................................................tje


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/resensiestuk/die-medikus-film-en-boek
Toom

Dag-ook,
    alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of filosofie nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Dikwels moes ek toe tot diep in die nag sit en beraam om iets vir môre uit te werk. Sommiges het bly kleef. Weiniges.

     My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet smaak, glad oor die tong moet rol.

     Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.

   Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword.

    Nou is ek al drie jare lank bendelid hier op Woes se werf, en besoekers is op werfie ook welkom.

    Ek hoor julle, luister na my, ons kan nog lekker gesels. 

    Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    - Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?

    So leer ons hopelik van mekaar.
    Groetnis vanToom




thomas.egerton@web.de



Totale stukke publiseer: 372
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 637