Op Woes.co.za onder Resensies

Lana Lowe gesels met Bok van Blerk

Die 28-jarige donkerkop van Pretoria toring bo mens uit. ‘n Ferm boere handdruk verseker jou met die intrap slag hier is nog jong Afrikaner bloed.

Gemaklik en vriendelik gesels die man … so tussen sms’e en e-posse deur - en hier is wat hy te se het vir Woesblad lesers en skrywers.

Afrikaans kom‘ n lang pad, wat het skielik verander?

Ons Taal is onder druk , dit word al hoe minder oor televisie en in die media gebruik. Minder blootstelling en gedurig in kompetisie met ander tale.  Dis ons plig as Afrikaans sprekendes om die taal te gebruik en lewend te hou.

Sou jy se Afrikaans is aan die uitsterf dan ?

Nee – daar is groei en oplewing, juis omdat daar druk op die taal is om sy plek vol te staan.  Dit kan jy duidelik sien in die kunste feeste,web blaaie, nuwe skrywes en die  aanhang en beweging van jong Afrikaners om hulle eie goed.  Mense staan op en voel dat hulle nie gaan toe laat dat die taal opsy geskuif gaan word nie. Afrikaans is lewend en aan die groei.  Dit is elke Afrikaans sprekende se plig om dit uit te leef.

Is daar 'n outydse en moderne Afrikaanse taal ?

Die jonger generasie het maar groot geword met die mengelmoes van engelse gesegdes en uitsprake in die taal.  Dit is haas onmoontlik om vandag dit totaal suiwer te praat – soveel tegniese termes en gebruiks Afrikaans het norm geword.  Die geheim is om Afrikaans in die milieu ‘n plek te gee sodat dit nog die Afrikaner identiteit behou. Ek delf gedurig terug in die “ou” Afrikaans in en ontdek woorde wat ons laat herleef en gebruik.

Jou liedjie “ Jy praat steeds Afrikaans” – vertel hiervan?

Dit was ‘n verwerking van ‘n ou liedjie gedoen saam met Johan Voster en die tema van Afrikaans praat het hierdeur sterk na vore kon tree. Die boodskap hiermee om kultuur en Afrikaans uit te bou met mekaar en vir ons nageslag.

  En die nou bekende De La Rey ?

Ja, dis  verwysend na die Afrikaner Generaal De La Rey en die sterk karaktervolle mens wat vir waardes en geregtigheid gestaan het.  ‘n Ware voorbeeld van ‘n sterk persoonlikheid met leier eienskappe waarna ‘n nasie kon opsien vir leiding.

  Watter eienskappe soek jy na in so ‘n figuur ?

 ‘n Mens met waardes wat opstaan vir geregtigheid en kan standpunt in neem rakend taal, kultuur en die dinge wat vir die Afrikaner na aan die hart le. Wat vrede en harmonie binne ‘n reenboog land soos ons sin aanhang – maar terselfde tyd nie toelaat dat die Afrikaner sy regmatige plek onder die Suid-Afrikaanse son ontneem word nie.  Dit sal egter baie moeilik gaan om vandag so persoon te vind.

Dit was vir my baie treffend dat die man met sy ou landsvlag om sy skouers by ‘n rugby wedstryd sy “vyand” se vlag kan dra – sy verlede, hede en toekoms kan aanneem as deel van wie hy is – geen Suid-Afrikaner kan weg kom van wie ons is nie – maar ons kan dit met trots dra as ons erfgoed.

Wat sien jy as “eg” Afrikaans.

Ons is Afrikaans gebore – asook wat ons daarmee saam geerf het – die biltong en droe wors, die braai en bier, familie, die kampvuur in die bosveld, boere en die grond wat ons op loop.  Ja,  en ek was ook‘n Voortrekker.

Vir die lesers en skrywers van Woes.co.za – wat se JY vir ons ?

Afrikaans is ons taal.  Dis eie aan die mense hier en ek wil vir almal herinner dat dit ‘n taal is om op trots te wees. Ons moet opstaan vir dit wat ons eie is en waarvoor ons lief is.

Praat en skryf jou TAAL met Afrikaner - trots wat so ingeboesem is soos ‘n heerlike skaaptjoppie om ‘n braaivleis vuur.

Baie groete aan al die Woesters   Bok van Blerk
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/resensiestuk/lana-lowe-gesels-met-bok-van-blerk
Lana Lowe

LANK LEWE AFRIKAANS !!

Ek is lief vir die jong taal -
Kom ons gebruik hom voluit - laat hom leef.

Julle skrywers is 'n inspirasie -



Totale stukke publiseer: 91
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 251