Op Woes.co.za onder Resensies

Oh, BOY! die film

Die subtitel kon gewees het: Blaaie uit die dagboek van ‘n deugniks.

Niko, so twintig, dertig jaar oud, is  niks en het niks en veral het hy geen doel in sy lewe nie. Hy dwaal, soos iemand in die wagkamer wat deur ‘n tydskrif blaai, van een insident na die volgende. Hy ontmoet ‘n ry mense een na die ander en na ‘n paar minute dryf hy weg na die volgende oponthoud. Onwillekeurig, willenloos. Maar hy is nie sonder wens nie: Die enigste wens wat hy uitspreek, is om ‘n koppie koffie, wat hy eers aan die einde van ‘n lang frustrerende dag kry. Dan is dit waarskynlik al tyd vir die môrekoffie van die volgende dag.

.

[   Oh, BOY, Duitsland 2012 – Boek / Regie: Jan Ole Gerster. Kamera: Philipp Kirsamer. Met: Tom Schilling en ‘n hele reeks toptoneelspelers, s/w, 85 Minuten.   ]

.

Eintlik, sê die duitse resensente, is die tweede hoofspeler Berlyn. Niko is „Berliner” (nie soos John F. Kennedy nie, maar eg), en hy ly onder ‘n besondere chronische siekte – dat hy Berlyner is. Dis ook ‘n besonderse volkie: Treurig-melancholies, vertwyfeld of twyfelend oor alles en nogiets. Altyd is daar een van die twee miljoen wat jou tyd steel, wat sy „storie” wil vertel; of jy moet met iemand „gaan praat”; nooit kry jy ‘n paar rustige oomblikke vir jouself nie. So haas hy van die een afspraak na die ander ontmoeting heen en weer oor en deur en onder Berlyn, altyd in markante of tipiese plekke, huise, strate, U-Bahn-stasies, parks of aan hulle verby. Jy kan dit nie mis nie: Jy’s in Berlyn.

   Dis ook (miskien veral) die verhaal van ‘n jong mens wat sy pad wil baan, Die gesegde lui mos: Die weg is die doel. En wat as daar geen weg is nie? Die moderne jong Europeers, wat uit die skool in die werklosigheid ontslaan word, het 'n swaar las om te dra. Die houding is ongeveer: Makiesakie wat ek aanpak, dis verkeerd. Wat sal ek doen? Dis ook die houding van die tieners, die pubertêres. Maar hy is mos amper dertig. 'n Laat-puberterende sê mens.

    Sy beste (enigste?) vriend is seker al veertig, toneelspeler, na bewering een van die bestes uit sy kursus aan die Akademie, maar hy’s 'n taxibestuurder en wag vir 'n passende rol. Saam besoek hulle  die rolprent-produksie van 'n medestudent en 'n mal opvoering van 'n moderne „daarbieding”. Katastrofaal!  Niko het twee jaar gelede met sy studie aan die „Uni” opgehou, sy vader ontdek dit en draai die geldkraan toe. Wat nou, wat nou?

.

Verskeie regisseure het hierdie tema op verskeie maniere opgeneem (Kyk bv. Na my resensies van „Die Huis op Korsika”, „Die Muur” en „Anonieme Romantikusse”), en elkeen stel dit anders daar. Jan Ole Gerster het dit in sy eerstlingsfilm  so daargestel dat die hoofkarakter nie stom is nie maar min praat omdat hy niks het om te sê nie. Hy verstaan eenvoudig nie die wêreld nie. Hy lewe na so-en-soveel male omtrek nog altyd uit die omtrek­kartons. En môre gaan dit dieselfde wees en oormôre en oor-oormôre,...

   As, dit wil sê, ás hom niemand 'n ruk gee nie. In die laaste tonele ontmoet hy 'n ou man wat na sestig jare teruggekom het en sien dat alles anders is, die ou huise gesloop, die mense van doerietyd gestorwe, niks meer daar nie, niemand. As hy buite op die sypaadjie voor die kroeg omval en hospitaaltoe gebring word, word Niko aktief. As die verpleegster die boodskap in die wagkamer bring dat hy gesterf het, naamloos, sonder vriende of verwandte, kom daar vrae by Niko op: En ek? En ek, hoe lyk ek in sestig jaar van nou?

   Dis swaar-verteerbare kos. Daar ís ligte momente, menige tonele is rêrig skurriel en ons hét gelag. Maar alles skyn so af te gly in die modderplas. Hopeloosheid word uitgebrei.

   Duitse resensente het ge-oe en ge-aa vir die mooi tonele in Berlyn, maar dit kon netsogoed in Kaïro of Shanghai of New York of Canberra of München opgeneem gewees het. Nie 'n kunsvolle daarbieding nie, maar 'n slim saamgestelde gevalstudie uit die leerboeke vir psigologie en sosiologie.

©.2013.________________________c]:o(-----(o;[>____________________________.tje


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/resensiestuk/oh-boy-die-film
Toom

Dag-ook,
    alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of filosofie nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Dikwels moes ek toe tot diep in die nag sit en beraam om iets vir môre uit te werk. Sommiges het bly kleef. Weiniges.

     My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet smaak, glad oor die tong moet rol.

     Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.

   Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword.

    Nou is ek al drie jare lank bendelid hier op Woes se werf, en besoekers is op werfie ook welkom.

    Ek hoor julle, luister na my, ons kan nog lekker gesels. 

    Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    - Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?

    So leer ons hopelik van mekaar.
    Groetnis vanToom




thomas.egerton@web.de



Totale stukke publiseer: 372
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 637