Op Woes.co.za onder Resensies

ROOSMARYN en SLAGROOM , die toneelstuk


Hoekom moet Heimeliese von der Wiese, die lelikste heks in die koninkryk Osmanië, in 'n donker hut in die diepste woud woon? Hoekom tog het sy eers haar raaf geleer om te praat? Hy wat haar so tydig en ontydig soggens wek as sy wil uitslaap. Maar gelukkig het sy haar spieëltjie aan die wand wat haar byvoorbeeld nuus uit die buitewêreld bring. Byvoorbeeld dat die koning van Osmanië oor 'n week met die mooiste meisie in die land gaan trou. Byvoorbeeld, op navraag („Hoe was u vraag? Herhaal die vraag, asseblief.”), dat die einste heks Liese NIE die tweede mooiste in die land is nie. Byvoorbeeld  („Hoe sal ek dit nou uitdruk?...”) dat sy een-duisend-vier-honderd-en-twaalfde op die lys is. Aldus heel laaste in die land.

.

Hoe nou gemaak? Met haar resepteboek en haar towerkunste, met haar raaf en haar wandspieël wat haar ononderbroke van twee kante „goeie raad gee”, moet dog 'n oplossing gevind word, nè? Die koning moet haar soen nadat sy 'n towersalf op haar gesig gesmeer het, sê haar towerboek. Maar helaas, om die salf te voltooi het sy geen roosmaryn in die huis nie! Waar soiets te kry is? Voorslag: In die koninklike kasteel se kombuis. „En daar is die koning ook sekerlik êrens in die nabyheid”, meen die spieël droog­weg. Wat wag ons nog? Op die besem en... „Julle twee bly hier en pas op die huis op.”

   Wie het lus om meer te sien? Hoe die arme kok weeklaag en weeklaag dat hy nie in 'n week se tyd al die gerigte vir vier-honderd-en-twintig hoë gaste gaan klaarkry nie, want die nuwe koningin is so snoep dat sy al die ander dieners in die pad gesteek het. En wat as die heks die koning soen en daar gebeur niks nie? En wat as die nuwe koningin sien dat haar bruidegom 'n meisie soen, wat eenduidig mooier is as alle ander in die land? En wat as die koning nie kan trou nie omdat die arme weeklaende kok alles, ja alles voorberei het, maar net nie die slagroom vir die nagereg van die feesmaal nie? Waarsonder die koning NIE gaan trou nie!

   Aai, dog! Sóó moeilik is alles, en dis dog sóó 'n goed-geordende en vredevolle land. En die koning wíl slegs die beste vir sy volk (en homself natuurlik). En sy sekretaris en sy bruid wil óók net hul beste doen. MAAR...

.

'n Heerlike klugspel wat uitstekend geskik is vir so agt, nege kinders in die sesde tot agte klas. Ja, goed dan, dit ís 'n parodie, maar nie 'n brutale sosiaal­kritiese satire soos ons alte dikwels sien nie. Dis 'n liefdes­verklaring aan die skrywers en digters en vertellers oor die eeue in die Europese tradisie. Dis eenvoudig 'n mooi verhaaltjie wat probleme (nou goed, dan, probleempies) bevat wat uiteindelik op 'n bevredigende (betowerende) manier opgelos word. „Nee, 'n heks kan nie trou nie, eers reg nie met 'n koning nie. Hoe sou dit lyk as die mense opkyk, en sê, ,Kyk hoe ons koningin op 'n besem oor die kasteel vlieg!'”

   En alles so fyn en sjarmant opgedis: Drie tonele – Heksie se hut, kasteelkombuis en koningssaal; oumodiese huisraad van die ouers uitgeleen, koperpotte, sitkamer­meubels wat soos 'n troonsaal lyk, klere uit ouma se mottekis; 'n egte slangvel (vir die towerbrousel) uit Hannes se versameling; deurspek met skertsies soos „En wat was die towerwoord weer?” „Asseblief, ag bliefies, bliefies, spieëltjie...” of „So kinders, sal ek die heks soen of nie?” Dis holruggerydes as u wil, maar die een geslag kinders na die ander beleef dit eenmaal vir die eerste keer. (En oupa is geluksalig as hy hom so ver kan terugverset.)

   En die spelers. Die mongooltjies (polities inkorrek, nousedae moet ons Downsindroom- of trisoma-lyers sê) wat besonders graag toneelspeel – en dít goed -- „star material” op enige toneel; die stotteraar wat tyd nodig het, maar alles kom klaar en duidelik uit, hoewel groepsgewys soos die golwe op die strand; die koning wat nie kan lees en skryf nie, en elke woord, elke gebaar uitwendig moes leer; die stomme rolstoelkind wat as spieëlbeeld agter die spieëlraam sit, terwyl die outistin ewe droog sy teks voorsê. Gespeel het hulle, almal! En die arme meisie wat die kok speel, het agtienkeer „Ojee-ojee-ojee” gejammer! (Koning: „As jy nie ophou om ojee-ojee te sê nie, sal ek nooit weet wat is jou probleem nie!”). Sy gaan heel moontlik baie gou 'n nuwe bynaam kry. Raai welke!

.

Daar's verskillende klein uitgewertjies oral in die „Duitssprakige ruim”, en daaronder ook skool-, speel- en teateruitgewers. By die klasonderwyser het ek die teks gekry:

.

[ROSMARIN und SCHLAGSAHNE; deur Erwin Schilmann; Teaterverlag Karl Mahnke, Verden; 1996; opgevoer deur die 8e. klas van die Ita-Wegmann-Schule in Benefeld; regie/onnie Bernd Dudeck]

.

Tekste moet gewoonlik in rolsterkte (plus regie, ens.), in hierdie geval tien stuk, gekoop word. Daartoe 'n opvoeringsfooi. As iemand interesse het, kan ek probeer om die vertaalregte uit te handel.

©.2013.................................................<];o) --╬--)o:[>.....................................................tje


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/resensiestuk/roosmaryn-en-slagroom-die-toneelstuk
Toom

Dag-ook,
    alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of filosofie nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Dikwels moes ek toe tot diep in die nag sit en beraam om iets vir môre uit te werk. Sommiges het bly kleef. Weiniges.

     My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet smaak, glad oor die tong moet rol.

     Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.

   Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword.

    Nou is ek al drie jare lank bendelid hier op Woes se werf, en besoekers is op werfie ook welkom.

    Ek hoor julle, luister na my, ons kan nog lekker gesels. 

    Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    - Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?

    So leer ons hopelik van mekaar.
    Groetnis vanToom




thomas.egerton@web.de



Totale stukke publiseer: 372
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 637