Op Woes.co.za onder Rubrieke

So is dit


Google is Engels, so soek vir Woes en die Engelse woord vir smart, ramp of teleurstellings verskyn bo aan die blad. Ek dink dit is presies wat Woes se afsterwe vir baie beteken. Soos met als wat oor en verby is begin mens daaroor besin; wat en vir wie was dit en wat het dit vir hulle beteken?

Ek onthou nog toe ek op Woes afgekom het en toe besef dit kan werk as ʼn platform om my gedigte te publiseer. Ek het toe reeds vir ʼn paar jaar gedig, maar nooit geweet wat om daarmee te doen nie. Toe ek sien mense kan kommentaar lewer op wat jy publiseer, het ek gevoel ek sal dalk die terugvoer en kritiek wat ek op my werk verlang het op Woes kon vind.

Om eerlik te wees was ek ʼn bietjie onder ʼn vals indruk oor die aard van Woes. My gedigte en later rubrieke was nie heeltemal in die karakter wat ek stelselmatig in Woes ontdek het nie. Radikale sienings was daar wel, maar dit was meer kommerwekkend as nadenkend. Die meeste mense darem was net gewone mense. Maar gewone mense vermy die polemiese uit vrees vir konflik en aanstoot.

My vrou het my gevra waarom ek op Woes bly aangesien ek duidelik beter in ander groepe sal pas. My antwoord was dat ek juis met gewone mense wil kommunikeer. Indien ons verskille mekaar in al kleiner groepies opbreek sal mens later net met jouself kan praat.

Afrikaner was nog altyd vir my ʼn negatiewe term. Dit is so nou opgesluit met spesifieke geloofsoortuigings en politiese sienings dat taal nie al is wat om Afrikaans te wees verteenwoordig het nie. Nogtans is ek Afrikaans al verskil my sienings van baie ander wat die taal deel. Miskien is dit juis beter om die diversiteit wat daar onder taalgenote bestaan ten toon te stel sodat die polities geskepte beeld as afgod sy mag oor die Afrikaans sprekendes kan verloor.

Enige illusie wat ek dalk gehad het dat my paar geskrifte ʼn produktiewe bydra tot die herskepping van die Afrikaner se beeld kon lei is lankal as vergeefs afgemaak. Dalk is dit tog beter dat die idee van die Afrikaner verwerp word eerder as om dit te probeer bybring om die huidige realiteit beter te reflekteer. Die feit dat ek Afrikaans en van Europese herkoms is, is nie voldoende om my as Afrikaner te klassifiseer nie. Dus kan ek deur Afrikaans myself verteenwoordig en die gemeenskaplike skuld wat die Afrikaner dra, beide aanvaar en ook laat vaar.

Waarskynlik is al hierdie wroegings eerder reflekterend van my persoonlike struwelinge met my identiteit as wat dit die gemeenskaplike stand van sake verteenwoordig. Maar elkeen van ons moet sin probeer maak van wie ons is en waarvoor ons staan binne die Afrikaans sprekende gemeenskap. Deur in Afrikaans te kommunikeer word jou gehoor daardeur beperk en bepaal. Deur slegs op Woes te publiseer nog meer. Ten minste het ʼn paar mense wat ek te sê gehad het wel gelees, maar min het terugvoer gegee.

Die wat wel het, veral oor my geskrifte gaande geloof, het die gesprek help voortsit en ander opinies teenoor myne geopper. Dit was wat ek gehoop het voor. Ongelukkig het meeste lesers geswyg oor hul idees gaande die debat en onderwerp. Een debatteerder spesifiek, naamlik Raqia, se idees was so konserwatief en rassisties dat selfs ek, wat baie gewoond is, amper nie kon glo wat ek lees nie. Nogtans het hy ʼn deur na ʼn ander wêreld geopen en ek is net spyt meer het nie dieselfde gedoen nie.

Maar nou kom die hoofstuk ook tot ʼn einde met Woes wat aan die geskiedenis oorhandig word. Al was ek nooit seker oor wat Woes vir my beteken het nie, dink ek tog ek sal dit mis. Ek weet dat meeste ander lede veel meer waarde uit die ervaring geput het en dit is vir hulle aan wie my medelye uitgaan. Meeste van julle is vir my onbekend en die kans om mekaar te leer ken het sopas verminder.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/165215-so-is-dit-finale-projek-op-woes-afskeid-2016-01-06-tot-2016-02-07
Jacques De Villiers

Volle name: Pieter Jacques De Villiers
Gebore: 31 Augustus 1974
Beroep: Argitek
Tuiste: Pretoria, Brooklyn

My tent op die rant van die kraal
Tussen die veld en sprekers van my taal



Totale stukke publiseer: 111
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 127