Op Woes.co.za onder Rubrieke

Beste Buddie

Beste Buddie



Soos al die ander ruspes het jy my stadig-maar-seker oortuig dat jy my gekies het omdat my takke die laagste hang en my blare die mooiste lyk. Met jou mooi woorde het jy my laat verstaan dat jy geen ander boom ooit sal wil hê om in te skuil nie, en jou glimlag het vir my die belofte ingehou van seisoene wat getrotseer kan word omdat ek geselskap het.



Ek het jou stadig maar seker laat naderkom en jou versigtig oor die skurwe stam laat kruip omdat ek nie wou gehad het dat my buitekant jou moet seermaak nie. Dit is immers ‘n buitekant wat ek gekweek het om my te beskerm teen indringers. Ek het probeer om vir jou al die mooi gedraaide takke te wys en jy het selfs ‘n paar van my letsels gesien. Ek het jou later tussen die blare laat ingaan. Ek het jou sien groei en ek het nie omgegee dat jy van my af voed nie. Selfs dit was ok.



Jy het egter al die blare vol gate geëet en selfs ‘n paar ander genooi om saam te kom geniet wat in elk geval nie joune was om te deel nie. Nadat julle magies trommeldik was het jy jou saam met jou tjommies in kokonne toegespin. Toe-toe-toe! Jy het my aan flarde gelos met die skrale troos dat ek dalk sal sien as jy eendag ‘n mooi kreatuur word wat deur versamelaars gesoek word.



Ek het daardie dag beleef. Vir ‘n rukkie was jy vir my so mooi dat ek saam met jou bly was en al jou mooi kleure raakgesien het sonder om eers te dink aan al die blare wat vol gate was. Jy was mooi en ek het gehelp om jou so te kry. Ek het dit geniet om te sien hoe jy die voorwerp van almal se begeerte geword het, en as iemand jou wou vang en seermaak, het ek vir jou skuiling gebied en my stam skurf gehou vir die indringers. Jy was baie by my en ek het spesiaal gevoel.



Jy het nie lank gebly nie; maar jy het nie gegaan voordat jy honderde-duisende eiertjies gelê het en gesorg het dat my toekoms vol gaan wees van jou voortbrengsels nie. Vir die res van my bestaan sal ek altyd gekonfronteer word met ruspes wat die belofte van geselskap en skoonheid inhou en wat teer om daar te kom.



Ons twee se paaie sal verskillend loop van nou af. Jy sal saam met jou skoenlapper-buddies rond vlieg en almal se aandag trek en almal se asems wegslaan. Rondom jou sal daar egter boorde vol bome met gate in hulle blare staan. En hulle sal almal suurstof bly verskaf met hulle stukkende blare. Ek sal een van hulle wees en bly wonder oor my stam en my takke en watter een van die twee jou gegrief het. Ek sal hoop dat jy onthou ‘n skoenlapper op sy eis is maar redelik swakkerig en kry gou seer.



Ek sou jou nog steeds eerder tussen my takke wou gehad het as op die voorkant van ‘n motor se ruit waar daar van jou skoonheid net ‘n spatsel oorgebly het.



Pas jouself mooi op!

- Boompie

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/beste-buddie
Boompie

Al is ek in my 30's probeer ek steeds sin maak uit die lewe - wat met my en met mense rondom my gebeur. Dis juis waaroor die meeste van my "skryf-dinge" gaan. Die mens se ewige soeke na antwoorde wat ons eintlik weet ons nooit gaan kry nie, maar steeds soek. Miskien moet ons minder soek na sin in die lewe, dan kan ons lewe in die sin inblaas!



Totale stukke publiseer: 9
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 25