Op Woes.co.za onder Rubrieke

Die Bull Terrier in die Hof

Tussen 1980 – 1985 het ek die voorreg gehad om op ‘n plattelandse polisiestasie gestasioneer te wees. Ek is in 1980 as konstabel, met my sersant getroud – sy het rang op my getrek... ek kon vir lank nie verstaan hoekom ek aanhoudend in die aanklagkantoor gepos word saam die vroue sersant nie. Later toe ons getroud is, het my vrou my vertel dat sy my met gesag gevang het toe sy gesorg het dat die ‘vriendelike konstabel’ by haar in die Aanklagte Kantoor geplaas word, veral met nagdiens.

Van die pragtige Sunnyside is ons toe in 1980 na Welbekend, langs die pad tussen Bronkhorstspruit en Bapsfontein verplaas – op versoek. Welbekend Polisiestasie was eers ‘Onbekend’ Polisiestasie gewees totdat die naam soveel probleme verskaf het met die possak wat PK Onbekend was. Al die pos wat ‘adres onbekend’ teruggestuur moes word het in die Polisiestasie se possak beland, en baie van die Onbekend Polisiestasie se werklike pos is teruggestuur en of het weggeraak. Toe verander hulle die naam na Welbekend – ek dink perse dit is die eerste keer wat ‘n Polisiestasie se naam so verander het.

Vir die jong getroude Polisie paartjie was Welbekend soos hemel op aarde in vergeleke met die woonstel in Sunnyside. Ons het ‘n lekker drie slaapkamer Polisie huis met ‘n kaggel gekry! En in 1981 is ons eerste kaggel baba gebore. Ons het ‘n lekker groot erf gehad en kort na die geboorte van ons eerste het ek toestemming gekry om vir my ‘n droom seun te gaan koop. Joe was ‘n KUSA geregistreerde Bull Terrier. Ek het daarop aangedring dat ek eerste keuse van die werpsel wou hê en het drie maande gewag en het ook ekstra betaal vir die spesiale voorreg by die Stamboek teler en ook skou beoordelaar. Ek het baie lank voor die hok gestaan waarin die ses spierwit hondjies rondgehardloop het, en nadat ek hulle van alle kante bekyk, hul manier van beweeg ens dopgehou het, het ek my keuse op geoliede instink gemaak. Want sien, ek wou met Joe skou. ‘n Bull Terrier is die enigste hond wat ek van weet wat ‘n sin vir humor het. ‘n hond met ‘n persoonlikheid en spesifieke maniertjies wat net by daardie ras voorkom – daarom gee mens nie vir ‘n Bull Terrier ‘n hond naam soos Ceasar, of Wagter, of enige van daardie klas name nie, nee dit is te ‘commin’ vir ‘n Bull Terrier. Daarom Joe. My huidige Bull Terrier heet Wallace

Daar was destyds ‘n perde en donkie slaghuis in Benoni en daar het ek eenmaal ‘n maand vir Joe vyftien kilogram maalvleis gekoop. Ek het dit dan in dertig pakkies opgemaak en gevries. So het Joe ‘n rapsie meer as ‘n pond vleis per dag met ‘n teelepel kalsium poeier, ‘n teelepel visolie en ‘n vol graan roosterbrood wat daaroor fyngemaak is ingeneem. Hy het baie gou in ‘n prag hond ontwikkel wat etlike linte op skoue gewen het. By Welbekend Polisiestasie was Joe ‘n legende.

Op die platteland gebeur dinge anders. Op die platteland word reëls gebuig. Dit is nou nie daarmee bedoelende dat dinge verkeerd gedoen word nie. Nee, eerder dat mens by draaie sommer reguit deur die veld sny om die pad korter te maak, letterlik en figuurlik... By Sunnyside sou ‘n privaat hond nie maklik patrollie gery het nie. By Welbekend het Joe van ‘n moordsaak tot ‘n hoender diefstal bygewoon. Hy het kiertsregop tussen ek en die bemanning op die sitplek van die patrollie voertuig gesit. Hy het ook baie gou ‘n houding ontwikkel. Wie sê honde hou mens nie dop nie. Elke oggend vroeg het hy saam my aan diens gegaan en die hele tyd in my kantoor by my voete gelê. Dit was ook sy lanseerblad. Van daar het hy gereeld wanneer hy die bandiete se skoene op die teëlvloer hoor, met ‘n histeriese getjank, gly, gly, die giggelende groen geklede manne gejaag tot waar hulle kantoor deure agter hulle toe gelap het om hom te ontkom. Soms het hy hulle vasgekeer gekry...
Hy het die aardige dog effektiewe manier gehad om reguit vir ‘n man se klokke te gaan. Die nuut gevonniste bandiete het gou geleer dat boude krap help. Joe het ook geleer dat hy vir ‘n oomblik voor die gryp slag moes huiwer, kan koop hy ‘n lekker krap. So het hy sy neus direk tussen ‘n man se bene ingedruk met daardie skrefie oë wat emosieloos van bo sy kop na jou kyk soos ‘n Japanese krokodil. Dan moes jy sy boude krap net bokant sy stert. Verminder jy spoed of krap jy te liggies, het hy gehap en gehou soos net Bull Terrier kan. So moes ek menigmaal nader hardloop wanneer iemand benoud gil “Adjudant, Adjudant Joe, hy het my, ek kan nie meer krap nie, help Adjudant!” Hierdie jaerry het in ‘n daaglikse speletjie ontaard.

“Adjudant” het ou sersant Ntombeni eendag baie ernstig vir my gevra “Adjudant, die honde soos Joe mos, as hulle djou gabyt is, nooit sal djy weer die kinders kry nie mos?” “Waar hoor jy dit Dawid?” wou ek van hom weet. “Nee want kyk die hond mos hy mag nie soos die Chinaman lyk nie, en ôk mos, hys too much wit, nie soos die regte hond nie. Die honde soos Joe hulle broei nie, hulle het hom met die pille gemaak” Nou ja, Joe se mik vir die klokke het natuurlik die bygeloof nog verder aangeblaas hoewel ek geweet het dat ‘n ordentlike hap aldaar ‘n man vir ander redes kinderloos sou laat.

Welbekend het sy eie landdroshof gehad. ‘n Volwaardige hof met al die waardige hout meublement. Die landdros se verhewe troon met donkerrooi soliede hout panele, die beskuldigde bank regoor die troon, maar laer. Aan die regterkant die aanklaer se toegeboude troon en aan die linkerkant die getuiebank. Voor die beskuldigdebank en dwars was daar ‘n lang gepoleerde soliede hout tafel vir die regsverteenwoordigers et al. Agter die beskuldigdebank was daar vier rye banke – soos kerkbanke – vir die publiek. Indien die hof vol was kon dit ongeveer dertig mense huisves. ‘n Volwaardige hof, maar ‘n mini hof – amper soos daardie kleinste kerkie in die wêreld by Van Reenen... Daar was ‘n sydeur wat van die polisiestasie se binneplein en stoep in die hof oopgemaak het en reg oorkant dit aan die anderkantste muur ‘n deur wat oopgemaak het na die buite stoep van die hof – dit was vir die publiek. Van die buite stoep af was daar ‘n oop veld na die hoofpad tussen Bapsfontein en Bronkhorstspruit. Dié oop veld was so groot soos twee rugbyvelde.

Welbekend Landdroshof het gedien as ‘n periodieke hof, met ander woorde daar was net eenmaal ‘n week hofsitting. Die hof het onder die Bronkhorstspruit Landdrosdistrik ressorteer en daarom het een van Bronkhorstspruit se Landdroste vir die sake kom voorsit wat elke Woensdag was. Ek is daardie tyd aangewys om in die hof aan te kla. Woensdae is Joe toegelaat om voor die aanklaer se bank te lê – reëls word mos gebuig op die platteland. Bull Terriers breek mos winde, soos ‘n mens. Ek dink ook hulle gooi ‘n wind agter uit met ‘n bietjie meer volume as ander honde, veral as perdevleis in die buik galop! Joe is later die hof verbied nadat hy, ten spyte van ‘vorige veroordelings’ weereens hoorbaar die hof minag het, en dit selfs die beskuldigde laat lag het. Sodoende moes my geregistreerde wit gladiator hom Woensdae in hof tyd besig om akkedisse en bandiete op die perseel te jag.

Een Woensdag was die hof stampvol. Dit was ‘n baie belangrike saak, en die hele dag is vir die verhoor uitgesit. Die saak was verskeie kere uitgestel omdat daar gesukkel is om die getuies op te spoor en by die hof te kry. Hierdie dag was al die getuies by die hof... Dit was natuurlik ‘n swart saak, bedoelende dat almal wat by die saak betrokke was swart mense was. Die hof was ook stampvol plattelandse swartes, konserwatiewe, outydse, goedgelowige maar diep bygelowige mense... Dit was skuins voor middagete so ‘n halfuur voor die hof sou verdaag. “Adjudant” kom dit skierlik van die landdros toe die tolk met die getuie besig was “Die hof is baie bly dat al die getuies vandag hier is, daar is lank gesukkel om almal bymekaar te kry” “Ek stem met U saam Edelagbare”...

Die volgende oomblik hoor ek ‘n bandiet gil in die Polisiestasie se gang. Ek hoor skoene op die gang teëls spoed optel, en ek hoor Joe histeries blaf-tjank, en ek weet... Ek hoop die bandiet kry ‘n deur en hy draai nie regs na die hof se stoep nie, want die landdros was erg op hof etiket en dit was nie die regte tyd vir manewales en boud krap voor die hof nie. Maar ta draai regs, en die enigste deur wat oorbly is die hof se sydeur. Ek wou bid maar dit was te laat. Die angstige bandiet pluk die hof deur oop, en hardloop deur die hof en by die ander deur uit wat hy agter hom toeklap. Joe het meer vastrap gekry want hy gooi ‘n onaardse varkhond grom wat diep uit die keel roggel net toe hy sy draai in die hof in maak. Vir ‘n oomblik was ek trots op my stamboek hond. Sy sweep stert het amper regop gestaan, hy het sy kop trots gedra en sy ore was perfek op die kop, want skierlik is daar by die dertig pare klokke voor hom, sien. Toe blaf Joe en gee daardie kenmerkende tolbeweging wat alle Bull Terriers uitvoer. Pandemonium!

Dit klink soos ‘n skrik rit in ‘n pretpark. Almal gil gelyk. Vir ‘n sekonde het my klank herinneringe my by die 1976 Soweto onluste gehad, maar die klank van skoene, boude, koppe en liggaamsdele teen hout maak inbraak op die ‘droompie’. Ek weet nie of julle dit al gemerk het nie, maar as ‘n Jonas val, dan val hy net soos wat hy vashaak. Hy keer nie of blok nie. Daar waar sy arm of been is wanneer hy vashaak, daar bly dit en so gaan hy grond toe! Daarom is die gesig altyd nerfaf wanneer daar geval word. Soos ‘n kind wat skuldig voel oor gesteelde lekkers, kyk ek die landdros vlugtig. Hy sit kietsregop met ‘n allemintige frons en sy bolip is ‘bemoerd’ getuit, sy kop ruk heen en weer soos iemand wat ‘n ‘pinball’ balletjie volg, soos hy sy skare bekyk. Ek hoor ‘n geluid soos sakke meel wat by die Koöperasiepakhuis gelaai word en sien dat iemand in die deur geval het en dat die res daar ophoop. Die sedige tolk, so ‘n maer klein mannetjie met ‘n grys pak klere en spierwit kouse het ‘n gedaante verwisseling ondergaan. Hy het by die beskuldigde in die bank ingespring en probeer teen hom opklim. Wie van julle onthou die toneel in Jamie Uys se ‘Beautiful People’, waar iets vir ‘n skerpioen onder ‘n klip skrik – nou ja, ‘n ouerige man wat in die hoek van die hof was, sit skuins teen die muur, sy oë spierwit omgedop en dit lyk of hy aanmekaar lug hap terwyl sy hele liggaam ruk – dit is nou as Jonas baie groot ‘gaskrik’ het. Die leek sou dink dit is ‘n epileptiese aanval.

Joe was self so verstom, goddank, dat hy net gebokspring en geblaf het. Die oop veld aan die buitekant het gelyk soos die eindfluitjie by Loftus, soos getuies en ander oor die oopte spaander. Ek sien hoe die laaste een, ‘n plaas ronde ouerige ousie in ‘n plassie by die deur gly en neer donder. Dit was nie water wat sy in gegly het nie. Toe is dit net ek en die Landdros in die hof en alles is stil.

Toe is dit nie ‘Adjudant’ nie maar: “Mnr die Aanklaer!” “Edelagbare?” “Die hof twyfel of die getuies, en ja, die tolk ook, na dese ‘compos mentis’ sal wees” Ek kon dit nie help nie, en bars vir ‘n paar sekondes van die lag uit. Die Landdros kyk my uit die hoogte van sy stoel op en af ...”Mnr die Aanklaer, die hof neem aan dit is ‘n bevestiging van die hof se waarneming?” “Dit is korrek Edelagbare” “Nou goed, dan sal die hof verdaag totdat ten minste die beskuldigde die uitstel datum ten volle kan begryp”

Toe ek die Landdros ietwat later in die teekamer kry toe vra hy my “Adjudant, waarom het julle dit nog nie oorweeg om Bull Terriers vir die Polisie aan te skaf nie?

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/die-bull-terrier-in-die-hof
Waldor

Ek is mal oor die mens. Veral, en spesifiek oor my eie, want ek is onlosmaaklik deel daarvan. Eerstens is ek onwrikbaar daaraan getrou omdat dit uit oorsprong my plig is.  Voordat ek elders aansluiting soek verwyl ek my eers met dit waarvan ek deel is, daarna deel ek wat oorbly met die vreemdes.  My identiteit, my afkoms, my land, my geskiedenis en dit waarvoor ek daaruit verantwoordelik is, is onverhandelbaar.  Toegee is weggee. Ek glo ook onwrikbaar daarin dat ons die onverhinderde vryheid moet eis om ons pragtige taal, ons pragtige, land, ons skryfkuns, en ons pragtige vroue met 'n passie moet vertroetel, bewaar, verdedig en geniet - daarvoor is ek bereid om te sterf.           



Totale stukke publiseer: 250
Totaal kere gelees: 232,684
Totaal kommentaar: 1,454