Op Woes.co.za onder Rubrieke

Die Goue Ou Dae


’n E-pos opgedra aan al die “kinders” wat die 1920’s tot 1970’s oorleef het!

Eerstens het ons die rokery en drinkery van ons moeders oorleef, terwyl hulle swanger was. Hulle het aspiriene gedrink, dikmelk en suiker op mieliepap vir ontbyt gehad, bloukaas en sardientjies met tamatiesous uit ‘n blik geëet, en is nooit getoets vir diabetes nie.

Na al die swangerskaptrauma, is ons in ons bedjies gesit op ons magies in ‘n oorgeërfde kot, wat nuut oorgeverf is in helder kleure met ‘n loodbasis.Ons het geen kinderveilige deksels of proppe op medisynebottels, paraffien en mottegif of veiligheidsknippe op deure van kaste gehad nie en geen kopskerms gedra as ons fietry nie. Om nie te praat van die risiko’s toe ons duimgery het nie.
As kleuters en kinders kon ons altyd agter op die sitplek sit of staan sonder veiligheidstoele, sitplekgordels of lugsakke. Om agter op die bakkie te ry, jou hare te laat koek, te maak of jy vlieg, op en af te spring om gewigloos te voel en wind te hap, was groot pret. Ons ouers het geweet hoe voel dit om 100 myl per uur te ry.

Ons het water uit die swart plastiek tuinslang gedrink en nie uit bottels nie.

Ons het ons koeldrank met al ons vriende gedeel uit een bottel en niemand is dood daarvan nie.

Ons het sjokoladekoek met ‘n dik laag gekookte kondensmelk op en oondwarm witbrood geëet met regte tuisgekarringde botter of varkvet met peper. Ons het rooi en groen “Kool Aid” met suiker aangemaak om te drink, maar ons was nie oorgewig en allergies nie, want…..

ONS HET ALTYD BUITE GESPEEL !

Ons het die huis verlaat voor die son opkom en heeldag gespeel. Solank ons terug was as die straatligte aankom. NIEMAND kon ons kontak deur die dag nie en ons het almal veilig teruggekeer huistoe.

Ons het ons sweetgesigte in die landeryevoor met bilharziawater afgespoel en tussen die babers en likkewane in die rivier geswem. En kleilat gegooi. Niemand het ‘n swembad gehad nie.

Ons het ure spandeer deur kaskarre en draadkarre te bou uit afvalhout, skrootyster en bloudraad en het dan teen die langste, steilste grondpadbulte afgejaag, net om uit te vind: ons het vergeet van die brieke! Nadat ons ‘n paar keer die kaskar omgegooi het en tussen die bosse ingejaag het, het ons nerf-af en bebloed geleer om die probleem op te los.

Ons het nie “Playstations”, “Nintendo’s”, “X-boxes” of enige videospeletjies gehad nie. Ook nie 150 TV-kanale, DVD’s, selfone of Mx-IT, persoonlike rekenaars met internet en Facebook nie.

Ons het regte VRIENDE gehad.

En as ons hulle gesoek het, het ons net buite toe gegaan. Ons het met ons fietse gery of sommer net geloop na ons vriende se huise, aan die deur geklop of die klokkie gelui en sommer ingeloop en gesels.

Saterdae het ons op misvloere getiekiedraai dat die stof tot teen die balke opsweef, en dan stokflou op die strooibale neergeplons en galonne water opgeslurp. Net alkoholiste het iets sterkers gedrink. Almal was daar. Soms was daar flieks by die inloop of inry op die dorp en dan is jy bederf met pienk en geel melkskommels, slap chips in wit papier toegevou en kougom (wat rêrig kon borrels blaas) in ‘n kardoes. Vir ’n tiekie.

Ons het uit bome geval, skrape en snye opgedoen en bene gebreek en daar was geen geregtelike eise vir hierdie ongelukke nie. Steke insit was ongekend, ons het die wonde met TCP afgespoel, Mercurochrome opgesit, ‘n stuk ou lakenstrook
omgedraai en ‘n teelepel van die beeste se Terramycin gedrink.

Ons het sprinkane en mopaniewurms en modderkoekies geëet en die wurms het nie vir altyd in ons geleef nie. Kasterolie het daarvoor gesorg.

Ons het almal (seuns en meisies) windbukse gekry vir ons tiende verjaarsdag, self ketties met jou eie knipmes gekerf, strooipoppe gebind, speletjies opgemaak met stokke en oorskietlap-balle en al het niemand ons gewaarsku dat dit kan gebeur nie, het ons min oë uitgesteek.

Jy kon 'n vrugtevreter met een 'pellet' in die kop skiet op enige afstand, jy kon hom nek omdraai, sy vere pluk, die binnegoed uithaal en bak in die koolstoof se oond. Jy kon ook 'n hoender se kop die eerste keer afkap en as jou pa nie kyk nie, hom per ongeluk los dat hy afkop rondskarrel agter die stadsniggies aan. En skaapslag. En afval krap tot dit melkwit is. Dit was koningskos.

Rugby en tennis en korfbal het proewe gehad en die wat nie die span gehaal het nie, moes maar vrede daarmee maak – verbeel jou dit! Ons het kaalvoet aan al die atletiek items deelgeneem op ‘n baan vol duwweltjies wat met ‘n stootskrapers tussen die aalwyne en doringbosse oopgestoot is. En die meisies kon vir die seuns se aflos ingeskryf word, as daar te min seuns was. En almal het gebly sing tot aan die einde van die sportdag, niemand was ongeskik en het vroeër weggesluip nie.

Ons ouers het ons ‘n gereeld pak slae gegee met die plathand, ‘n tuisgemaakte plak of sommer die sweep, nie na sielkundiges toe geneem nie.

Die gedagte om jou kinders se borggeld by die polisiestasie te gaan betaal het nie bestaan nie. Hulle was aan die polisie se kant!

Daardie generasie het van die beste risiko-vatters, probleemoplossers en uitvinders OOIT gelewer. Gaan kyk maar in die geskiedenisboeke en loer gerus na die lys van Nobelpryswenners en uitvinders. Die laaste 50 jaar het bestaan uit ‘n ontploffings van uitvindings en nuwe idees.

Ons het by kerslig studeer en tafels en spelling is ingedril op skool. Met ‘n regte rottang. Jy het nooit ‘n toets gedop nie, want anders het jy by die onderwyser en by jou pa riemgespring. Vrydae se laaste periode, na die kunsklasse en naaldwerk, het ons twee rolle swart-en-wit flieks gekyk. Verniet.

Ons het vryheid, verlies, sukses en verantwoordelikheid gehad en ons het geleer hoe om dit te hanteer. Jy was gelukkig genoeg om groot te word soos kinders, voordat prokureurs en regerings jou lewe “vir jou eie beswil” begin reguleer het.

Druk hierdie onder vandag se tieners se wysneuse, en vra hulle so terloops, wat hulle beplan om vir die volgende geslag na te laat, aangesien hulle heeldag so besig is met al die wonderlike dinge wat ons uitgevind het, dat hulle nie tyd het vir bietjie gesonde, goue verbeeldingryke pret nie !

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/die-goue-ou-dae
Jo'e-Lo

Ek is gebore Johanna Gustavus Rossouw. Oos-Transvaler. Oud-Puk. Ons woon in Pretoria. David verdra en dra my al vir 28 jaar. Martin 27)is 'n werkende elektroniese ingenieurstudent, Niël (21) swot B.Sc. op Tukkies en die ewig-jeugdige Paula (17) leef haar drome uit in die hemel.

Ons het 'n stem-en fotoherinnering van haar geskep op: http://home.telkomsa.net/laserdlight/hemelkinders.htm

Die mooiste stukkie vir my is die tienergiggel heel aan die einde. Die klankman het sy bes probeer om al die 'jingles' van haar 'bangles' uit te haal, maar helaas...

Paula't al my "Bospos-stories" gelees en selfs skool toe gevat. Na haar dood het hier vir haar e-pos gekom van Woes.co.za af. Ek het gaan kyk, want mens bly soek na stukkies van jou kind.Dis in die tyd toe ek nog steeds bly hoop het dat sy net op enige manier moet wys dat sy 'nog hier rond' is. As daar dan 'n 'boodskappie uit die hemel was', dan was dit: "Ma, al is ek nie meer daar vir jou 'stories' nie, hier is 'n hele lot om dit mee te deel..."

Danksy haar, was Woes my 'skokbrekers'. Catbury het gesê: "Dis die ink in ons are wat die pyn bietjie vir bietjie verdun..."

Meraai troos met: "Julle plak elke dag 'n verstaan-pleister van skrywers-omgee op my seer."

En soos tyd aanstap, het ek terug beweeg in die werklikheid. Kikkin het eendag geskryf: "Die liggewig van geboorte is so teenstrydig met die swaargewig van afsterwe, maar saam vorm hul die gewig van menswees. Ons mensweesgewig moet ons vertroetel."

My Woes-vriende het my laat oorleef, in 'n tyd toe daar baie dae nie krag was om op te staan soggens nie. Deesdae is baie van hulle deel van my regte lewe. Dankie dat julle steeds "op sagte voete loop om ons delikate heelword." (Lenaki)

Ek waardeer julle STEEDS!
Jo'
28/07/2014



Totale stukke publiseer: 169
Totaal kere gelees: 133,622
Totaal kommentaar: 835