Op Woes.co.za onder Rubrieke

Foto 4 Katliefde

Vriende wat ek ken het twee huiskatte. ‘n Mannetjie met die naam Matewis en wyfie met die naam Feetjievoet en hulle het altyd snags saam geslaap in die huis. Die mannetjie kat is later van ouderdom dood en hulle het hom agter op hulle erf begrawe. Hulle het seker gemaak dat die wyfiekat in die huis is sodat toe hulle hom begrawe sy nie weet waar die graffie is nie. Hulle kom daarna agter dat die wyfie gedurende die dag in die huis is maar nou skielik snags begin rondloop. Dit het hulle egter ‘n tydjie geneem om uit te vind dat sy nie rondloop nie maar elke nag op die graf van die mannetjie kat gaan slaap.

Dit is nou reeds drie maande na die mannetjie kat oorlede is en sy doen dit nog elke nag. Nou wat is dit anders as ware liefde. Of noem mens dit katliefde.

Nie eens ons as mense doen dit nie. Dan is daar mense wat se dat diere nie ‘n siel het nie. Hoe het die wyfiekat geweet waar die mannetjie begrawe was as hy nie ‘n siel het wat na sy dood vir sy wederhelf die plek van sy graf aanwys nie?
Hoekom vertel ek dit?
Die lewe is maar kortstondig en ons word tyd daarin geleen. Somige langer as ander. Dit maak nie soseer saak wat ons in die lewe gedoen het nie, maar vir watter goeie dade ander ons sal onthou en hoe lank hulle ons daarvoor sal onthou.

Die wyfiekat het die mannetjie daarvoor onthou dat hy nie gaan rondloop het in die nag nie, nee hy het rustig by haar geslaap en sy het hom daarvoor onthou al is hy reeds drie maande dood. Dit is dalk meer as wat ons as mense doen. Miskien moet ons as mense iets gaan leer by diere oor hulle getrouheid aan mekaar en gertouheid aan hulle base.

DIT IS ‘N BAIE HARTSEER STORIE !!!!! MAAR KOM ONS LUISTER BIETJIE HOE FEETJIEVOET HAAR EIE STORIE VERTEL TERWYL SY SO OP HAAR STOEP VERHOOGIE SIT EN ONS DINK SY SIT NET EN STAAR IN DIE NIET.

Matewis hier sal ek elke dag sit en dink aan die goeie tye wat ons saam gehad het. Dit voel nog steeds soos gister asof jy hier styf langs my sit as ek bedags hier op ons ou stoepie sit. Soms het jy my so ‘n lekkie hier en daar gegee met jou lang nat tong net om my goed te laat voel en te wys hoe lief jy vir my is. Jy was altyd so getrou aan my en elke nag by my in ons kattebed geslaap en nooit, maar nooit gaan rondloop in die nag of met ander katte gaan ringkink nie. Styf teen jou lyf het ek altyd veilig gevoel as ons snags styf teen mekaar gele en slaap het. Ek weet jou lyf is nou nie meer hier nie, maar ek weet ook in gees is jy nog met my elke dag totdat ek eendag by jou aansluit.

Ek gaan nog elke nag op jou graf le, want dan voel ek dat ek steeds naby aan jou is. Ons weet ons baas en nooi is baie goed en het baie mooi na ons gekyk en ons versorg oor die jare want hulle is baie lief vir ons. Hulle het dit net goed bedoel toe hulle my in die huis toegesluit het sodat ek nie kon sien waar hulle jou begrawe nie, maar hulle het vergeet dat ons katte mos ‘n spesiale sintuig het om te weet waar die ander een is, al is hy nie meer in lewende lywe nie.

Ons baas en nooi verlang ook elke dag na jou, want hulle praat sommer ‘n paar keer op ‘n dag nog van jou en dan kan ek die hartseer in hul stemme hoor. Hulle wou aanvanklik vir my ‘n ander maat gaan soek het, maar het gelukkig daarteen besluit toe hulle agterkom dat ek nie snags gaan rondloop nie maar steeds getrou is aan jou en op jou graf gaan slaap in die nag.

Ek sal dit bly doen uit dankbaarheid teenoor jou dat jy getrou was aan my en elke nag net by my geslaap en warm gehou het. Ja ek sal maar hier op ons stoepie sit en droom oor die goeie tye wat ons saam gehad het en weet dat jou gees hier langs my sit.

Ek sal getrou bly aan jou totdat ek eendag by jou aansluit, net soos wat jy getrou was aan my toe jy nog geleef het. So sal ek maar elke dag deur die dag hier op die stoepie sit en verlang na jou.
 


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/foto-4-katliefde-foto-4
schatz

Ek is 'n 1948 model, getroud (jonk van gees) wat hoofsaaklik vir plesier, my vrou , kinders en vriende skryf.  Ek was in Paarl  ( HJS - Galpil) op skool en daarna vir 2 jaar Hermanus Hoërskool. Ek het op 50 jarige ouderdom, om gesondheidsredes, besluit om 'n beroep in die munisipale wese te verruil vir 'n landbou gedrewe beroep en bedryf 'n vrugte droog maatskappy in die Klein Karoo.  Op 60 jarige ouderdom is ek na vele  verkeerde diagnoses positief gediagnoseer as een van omtrent 156 mense in die land met MG (myasthenia Gravis)  Dit het my beweging aansienlik ingekort en ek het begin skryf en skilder as tydverdryf.  Ek kon nie meer voortgaan met die vrugte droog nie en ons bestuur tans 'n fabriek wat vrugtelekkers vervaardig. Ek skryf hoofsaaklik oor persoonlike lewenservarings en ondervindings.  Baie van die skryfwerkies het 'n Christelike boodskap en verskeie mense het reeds versoek om dit te lees.  Ek skryf hoofsaaklik  in gewone "plat"  praat Afrikaans maar het ook 'n paar Engelse stukkies geskryf.  My styl is ondervang in "Digresep".
Ek verwelkom eerlike kommentaar en  kopiereg  voorbehou.
Wat is schatz  ?  Kom ek stel dit so "It takes two to tango" en schatz beteken liefling of skattebol in Duits.  Ek is schatz vir my vrou en my vrou is schats vir my ! Sy is duitsmagtig.  Ek skryf en lewer kommentaar. Sy doen die "e-posse" en checking.  Ek is afrikaans en sy is engels, maar ons huistaal is Afrikaans.  Dus is dit boertjie en rooinek wat hier saamwerk.  Goeie genugtig nê ! Kan jy dit glo ?  Ons kom nogal goed oor die weg.  Waarom skryf ek ? En waarom soek ek kommentaar ?  Kom ek verduidelik dit so : 
Skryf is soos my koffie en tee.
Die suiker en melk is wat julle gee.
Koffie en tee sonder suiker is bitter.
Melk maak die tee skoner en witter.
Die lewe is klaar swart en bitter.
Kommentaar maak harte skoner en witter.
Suiker neem weg lewens bitter.
Lekker man, dis lekker, ek dink.
Om soet, wit koffie en tee te drink.
So hou aan met skink
Dit hou die lewe lekker blink.
Aitsa ! - Hoe klink dit ?
 



Totale stukke publiseer: 213
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 638