Op Woes.co.za onder Rubrieke

Gesonde eetgewoontes

Nou wonder jy dalk hoekom hierdie rubriek met ‘n taalwaarskuwing op sy mou rondloop. Hier mag woorde wees wat dalk, net dalk, nie die jong, onskuldige leser wel geval nie. Ek gaan nou nie lelike sêdinge soos werksdag, jou ma se perskekonfyt en WOEStyn gebruik nie, maar daar mag dalk ‘n poep uitglip. Wanneer jy hom nie verwag nie. Almal wat al ‘n boontjie geëet het weet waarvan ek praat.

So is dit mos nou só dat almal dinges, vandat jy hoe klein is. En hoe kleiner hoe lekkerder, dink ek. As jy hom sommer net loslaat in jou doek, in die geselskap, terwyl jy die mense in die oë kyk! Aaah! Maar dis ‘n lelike woord en hoewel jy heerlik skyt,mag jy eers daaroor praat as jy agttien jaar of ouer is. Nou ja, wees gewaarsku, hier mag dalk ‘n skyt wees, en hopelik is dit nie wat jy met jouself bedoen as jy my rubriek lees nie.

Die geëerde Tim Noakes het nie te lank gelede nie homself gekorrigeer oor wat geëet moet word en wat nie - om gewig te verloor; om te keer dat jy uitmekaar val as jy vreeslik ver hardloop; ensovoorts. Nou propageer hy vette… daar moet net nie ‘n koolhidraat kop uitsteek nie, want dié kan jou aanval en geweldige skade berokken. Maar die vet weet.

Ek het besluit om beter te eet en van onnodighede onder my vel ontslae te raak. Soos met enige groot, gewigtige projek, moet ‘n mens eers ordentlik navorsing doen alvorens jy begin. Ek ken ook persoonlik ‘n paar goed gevestigde gammas wat al twintig jaar plus nalees en nadink, maar nog nie voldoende inligting kon inwin om te begin gewig verloor nie. As hulle ál die boeke oor die aangeleentheid wat hulle aangeskaf het vir drie stelle van twaalf opdruk boontoe, elke dag, kan dit dalk ‘n goeie begin wees. In iedergeval, ek doen my navorsing. Ek gaan ‘n paar kernpunte hier bespreek.

Is julle reg?

Goed… maak eers koffie. Maar gooi laevet-melk in.

Om mee te begin, die dae van drie keer op ‘n dag eet, peuselhappies vermy en selfmoordgedagtes koester tussen etes, is verby. ‘n Ou kan jouself nie reg oefen alvorens jy jouself nie reg eet nie. Vyf tot ses keer op ‘n dag! Maar hier is die vangplek; jy moet gemors met gehalte vervang.

Vieslike, varksige vette moet nie jou bord sien nie. Nee, dit Timmer jou gestel op. Vervang, en dit is die belangrike ding - vervang en moenie uitsny nie – die VVV’s (Vieslike Varksige Vette) met goeie olies. Kerf die gesondheid tussen die vette van jou skaaptjoppie uit, maar laat loop met die grondboontjies. Weliswaar net ‘n handvol per dag aan te bevole… en na ‘n week raak jy dit gewoond so rou en sonder sout. Vervang die goeie ou sondeblom-olie met ‘n gesofistikeerde olyfnektartjie. Die immergewilde hoendervel sal jou hoendervel gee as jy weet wat dit aan ‘n cholesterolpypie (lees bloedvat) doen.

Vir ‘n koolhidraat moet ‘n mens uiters versigtig wees. Los die brood op die rak en koop ‘n blikkie of ‘n sakkie groente. Die ledige maar vlytige onder ons kan sommer ‘n heel groente koop en gaarmaak, maar ek is so dom soos ‘n pampoen in die kombuis en hou by blikkies. ‘n Goeie proteïn is ook uitstekend.

Die eier wás daar voor die hoender, en as jy nie soos ‘n dik hen wil lê en opwindende grafieke van jou cholesteroltelling optrek nie, eet liewer ‘n bietjie hawermout. Met min suiker, want SLAK (Suiker, lekkergoed, alkohol en koek) wurg jou gesondheid soos arbeidswetgewing die ekonomie.

Laastens en moontlik die belangrikste: Die relatiwiteitsteorie, naamlik die eet-skyt verhouding. Die agtergrond is noodsaaklik om hierdie beginsel ten volle te begryp. As jy relatief baie eet, gaan jy relatief dik wees. As jy relatief aktief is, gaan jy ‘n relatiewe hoeveelheid energie gebruik om so aan te hou. En as jy relatief baie skyt, sorteer jy die relatiewe wanbalans tussen die ander faktore eensklaps uit. Sommer met ‘n bang, soos die Engelsman sê. En so skyt jy jouself in ‘n beter gewigsklas in.

Moenie sê ek praat stront nie.

Tot volgende keer.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/gesonde-eetgewoontes
Soutpan

Ons moet hom praat en ons moet hom skryf.

Ek het besef skryf, in enige vorm, kan 'n goeie stokperdjie wees. of 'n mens andersins net dwing om eerlik met jouself te wees (al lieg jy jou stories) en jouself beter te verstaan.



Totale stukke publiseer: 11
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 18