Op Woes.co.za onder Rubrieke

Van vere tot vlerke.

Die heerlike geur van varsgemaakte koffie kom vroeg na my kamer aangesweef. Francois, my jongste seun is alreeds uit die vere, amper gereed om te gaan werk. Gelukkig net ‘n paar tree van die huis af tot oor die straat, by ouboet, Heinrich se ingenieurswerkswinkel.

Die vroeë oggendlug is al heetwarm en dis nog nie eers behoorlik somer in die laeveld nie. Alles is in rep en roer in die tuin, met insekte wat, terwyl die son skyn, elke oomblik van die dag wil benut.

Die sonbesies is al van vroeg aan’t singe en honderde vinke en ander voëls is hard besig in die digte groen lower van die hemeltronende bome.

My eerste geveerde kuiergas is by die kombuisdeur om te groet. ‘n Paradysvlieëvanger mannetjie, met roesbruin lyf waarvan drie of vier rug vere aaneen vloei om deel van sy lang stert te vorm. Helder blou gesig en bekkie knibbel heerlik aan al die klein insekte wat naby en om die buitelig, vergader het.

Die voëltjie is al so mak en gewoond aan my nabyheid dat dit hom nie pla dat ek probeer om fototjies van hom te neem nie, maar hy is te fluks, vlieg heen en weer, op en af om nie een happie te mis nie, dat fotos half onmoontlik is as mens nie ‘n goeie kamera het nie. Die minder opvallende wyfie is ook nou by om te deel aan die fees.

Ek loer verby die bedrywige voëlties en merk beweging van fladderende vlerke buite, wat my belangstelling dadelik gaande maak en wend my na die sementvloer van die lapa.

By nadere ondersoek vind ek ‘n yslike pou-oog mot, wat ook seker nou na-aan die einde van sy lewenssiklus is, hulle lewensspan is drie tot vyf dae, waarna hulle die volgende stadium van hul metamorfose bereik en ‘n dik vernielsugtige ruspe tevoorskyn kom om voor die voet skade onder plante aan te rig.

Dié mot is seker een van die mooistes wat ek nog gesien het. Die vlerke skoon en onbeskadig en die twee groot kolle, soos uiloë, op die onderste twee vlerke. Wanneer mens dit van bo af bekyk, lyk dit na ‘n vreesaanjaenede prentjie van ‘n aapgesig. Die groot oë stellig daar is as afskrikmiddel vir enigiets wat sou meen dis ‘n smaaklike happie.

Ek is so opgewonde oor die verskeidenheid groot motte, wat hierdie tyd van die jaar hul opwagting maak en is altyd gereed met my foonkamera vir ‘n fotosessie.

Daar was nou al ‘n hele paar motte wat by die huis ingeloer het, ‘n donsvlerkmot, met sy ligte fyn donserige vlerke, ‘n pragtige groot mot, wat maklik oor ‘n piering sal pas. Ook ‘n lemoenswaelstert skoenlapper, sonder die sterte aan sy vlerke...blykbaar is die vlerke volledig met die stertjies net gedurende ‘n sekere tyd van die jaar, nietemin ‘n pragtige spesie. Swart met witgekolde vlerke en ook twee rooi oë nabymekaar aan die onderkant van die vlerke naby die lyf.

Die buitelig brand deurnag en lok baie insekte wat naglewend is. Hierdie insekte lok die insekvreters vroeg soggens en die bosveldvisvanger is een van die mooi voëls van die omgewing wat gereeld soos klokslag kom smul aan die goggas wat oornag het.

Dit is ‘n groter voël as die paradysvlieëvanger, met swart, ligblou en wit vere en ‘n besondere kuiergas wat my soggens vroeg al wek, met ‘n klop-klop pik aan my kamervenster.

Met die oprig van die voëlbaddens onder die skaduryke bome, het ons ook voorsiening gemaak vir eetplekke vir die verskillende geveerde vriende. Elke dag het groepe van alle soorte voëltjies kom eet aan die fyngmeaakte mielies, sade en vrugte wat vir hulle gestrooi en op die lapablad oopgesit was.

Dit was ‘n feestelike gesig om te aanskou. Blou sysies en die onvolwasse sysie wat nog nie die mooi kleur vertoon nie, saam met mossies, verskeie duifsoorte, tiptolle en lysters tydsaam kom eet .

Sommige duiwe is baie selfsugtige eters, jaag al wat ander duif is, of ander voëlsoorte weg, sodat dit vry kan geniet wat op die eettafel voorgesit is.

Hadidas het gewoonlik hulself kom tuismaak op die kleinerige grasperk aan die agterkant van die huis. Selfs aan die voorkant is daar ‘n lieflike stukkie eden waarin hulle saam met die rooi en geelvinke kan skrop en vinke grasspriete en repe van die rietbosblare afskeur vir hul nessies in die koorsboom.

Een oggend vroeg hoor ek ‘n harde slag teen een van die sitkamer se ruite. Ek haas my daarheen om te sien hoe ‘n groen papegaaiduif homself amper te pletter teen die glansende vensterruit vasgevlieg het. Ek was getempteer om dit te hulp te snel om te sien of dit nog lewe, maar na ‘n rukkie het dit tot by die naaste tak gevlieg en daar vir bykans drie ure gesit, toe uiteindelik weer lugwaarts koers geneem.

Die skugter bloukuifloerie hop van tak tot tak en mens sien dié voël nie maklik raak nie. Soms is ek gelukkig, wanneer ek stil op die trappies voor die kombuisdeur sit, dat ek dié mooi skaam voël, net vir ‘n kort wyle met ‘n verrassingsblik kan raaksien.

Daar is ‘n eienaardige klein insek hier in die laeveld, nogal ‘n heel vreemde een, wat ek nêrens elders nog gesien het nie. Dié slim diertjie maak ‘n huisie deur dun stokkies, amper almal dieselfde lengte, aanmekaar toe te spin soos ‘n kokon, met ‘n sagte bo en onderpunt, waar dit gewoonlik uitloer.

Het nog nooit gewaag om een oop te maak en te sien hoe lyk die wurmpie (soos ek verstaan) wat daarbinne bly nie. Maar dis nogal skelm, weet wanneer iemand hom bespied, dan trek hy binnetoe en bly daar tot jy weg is. Ek dink, maar is nie seker nie, dat dit ‘n stokwurm is, een of ander larwe van een of ander insek...sou dit sekerlik gaan google het as ek die regte naam geken het.

Ek het feitlik heel oggend buite tyd verwyl, tussen maats wat ek nog nooit voorheen gehad het nie. Die eekhorinkies, skarrel nog elkedag van boom tot boom, dan dak toe. Die nonnetjie uile het klaar gebroei en die kleintjies is groot, so ons sien hulle eers weer in die herfs.

Die gebande muishondgesin loer nog gereeld in, bang om te naby te waag, wanneer ek buite verkeer. Daar is egter vyf kleintjies saam met ma en pa en hulle is die eintlike waaghalse en nuuskierige agies wat sal naderkom om te sien wat ek maak.

Die blouapies rits steeds tydig en ontydig, tot my verontwaardiging, op die dak en tussen die vrugtebome deur.

Dis amper tyd vir middagete, Francois gaan nou tuis wees vir ‘n peuselhappie en ek het ‘n baie interessante voormiddag se waarnemeingssessie geniet.

2011/11/16 Joan Lotz






Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/van-vere-tot-vlerke
Ma-linguis

Wie ek is…

Net so vir wis en onwis
sodat jy verstaan wie ek eintlik is
hang geen status etiket aan my
wat jy sien is wat jy kry
spog nie met bachalaureaat
murg in my pype en ruggraat
plain Jane soos my ma sou sê
geen tierlantyntjies aan my hê
eintlik Engels, maar praat jou taal
woordeboek aangehaal
huistaal waarmee ek nou spog
my mense dink dis pure bog
moet modern soos hulle praat
vir vandag se kinders geen raat
met hierdie nuwe baadjie aan
kan die Liefdeskoningin staan.
 



Totale stukke publiseer: 714
Totaal kere gelees: 332,838
Totaal kommentaar: 6,991