Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: DOM

Die tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is DOM. Dit maak nie saak hoe hoog jou IK, jou status, jou salaris of jou bankbalans is nie. Iewers in jou lewe het jy al ’n DOM ding aangevang. As jy nou hier op ons werf in die stof rond skrop en van jou DOM vertel, dan red jy dalk een van ons van die einste DOM.

Die eintlike rede hoekom ek DOM as tema gekies het, is omdat ek weer deesdae voel dat ek al DOM-mer word as ek so om my rondkyk en waarneem. Veral as ek na omstandighede in ons land kyk en die besluite wat die kabinet maak. Ek probeer my uiterste om nie negatief te raak nie, maar teen DOM het ek geen raad nie. Daar is nie eers ’n pil of stropie of inspuiting of serum of selfs ’n setpil teen DOM nie. My kind praat van so DOM soos grond. En my pa het gepraat van so toe soos ’n klei-os se linker oor. Dit voel vir my ek is op pad na daai graad van DOM.

Vertel ons van DOM dinge wat jy sien en beleef. Vertel ons van die DOM dinge wat jy gereeld aanvang of die mense in jou gesin of by jou kantoor. Sommige DOM maak my briesend en ander DOM laat my giggel. Seblief tog gee my iets om oor te giggel, sodat ek minder DOM sal voel. Of altemit nie so allenig in my DOM nie.

Vandag nooi ek jou uit om slim genoeg te wees om vir ons ’n DOM bydrae te maak.
Positiewe Boland-groetnis.
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-dom-dom
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733