Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Emmer

Vandag het ek nou ge-die-kant-toe en ge-daai-kant-toe om aan ’n nuwe tema vir Vandag in Woorde te dink. Ek het afgebyt en gekou. En geherkou. En uitgespu. En dan maar weer van vooraf afgebyt. Net om die hele proses te herhaal. Weer en weer.

Dis toe dat ek so bietjie op die Woes werf soos ’n hoender in die stof, tussen al die temas gaan rond skrop en begin tel. En ek tel en tel. En hoe vêrder ek tel, hoe beter voel ek. Glad nie meer soos die dom blond wat nie oombliklik aan ’n nuwe tema vir Vandag in Woorde kon dink dink. Kan jy glo? Ek tel tot by sewe-en-negentig. Dis hoeveel temas ek al uitgedink het. Nou ja goed, ek weet van jakkals prys sy eie stert en ek hou dadelik op.

Wonder bo wonder kom daar toe nog ’n nuwe onderwerp in my kop. Die tema vir hierdie week is ‘EMMER’.

Nee man, nie slop-emmer nie. Tensy jy ’n lekker skryfsel oor ’n slop-emmer kan opdis. Ook nie oor iets so ernstig soos die emmer skop nie. En weer moet ek sê: tensy jy ’n lekker emmer-skop skryfsel kan opdis. En nou is ek soos die Engelsman sê, on the roll. Ek dink aan al die soorte emmers waaroor ’n mens kan skryf.

Wat ek eintlik in gedagte gehad het, was ’n emmer soos in ‘emmer-lys’ of ‘bucket list’. Vertel vir ons in absoluut enige genre van jou voorkeur, van een of alle items op jou emmer-lys. Dalk is dit iets wat jy alreeds gedoen het of iets wat jy binnekort gaan doen.

Onthou nou, dit kan iets op jou emmer-lys wees of iets so eenvoudig soos ’n melkemmer. Daar is oneindig stories wat nou deur my kop maal en ek kan sowaar nie wag om jou emmer-storie te lees nie.

Nou ja dan sal ek jou nie verder ophou nie.

Emmers vol bos-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-emmer-emmer
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733