Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: ETIKET

Hierdie week in Vandag in Woorde, skud ons bietjie vere reg. Ons staan regop, skouers terug, ken parallel met die vloer. Ons groet ordentlik en doen dinge soos dit algemeen aanvaarbaar is. Dis reg, hierdie week is die tema ‘ETIKET’.

Vir sommige staan hy dalk glad nie aan nie, maar ek luister alte graag na Nataniël se bydrae op RSG waarin hy ETIKET behandel. Sommige opmerkings is altemit tong-in-die-kies, maar nietemin die heilige waarheid.

Wie kan dan ooit die ETIKET koningin, Emsie Schoeman, vergeet? Kyk, ek glo ook daar is reg en verkeerd. Reg sal nooit verkeerd wees nie en verkeerd nooit reg nie, maar dan is daar mos ook ‘te’. Alles wat ‘te’ is, is verkeerd behalwe te voet en te perd.

Hierdie week kan jy jou lyf Nataniël of Emsie hou! Of jy kan die hele ETIKET besigheid oorboord gooi en die prop uittrek.

Wat is ETIKET?
 

  • Hoe behoort ETIKET toegepas te word?

 

  • Het ETIKET ’n plek in die moderne samelewing?

 

  • Is ETIKET sommer net ’n hamer in die hande van ’n beheervraat?

 

  • Wie het jou van ETIKET geleer en hoe?

 

  • Is ETIKET net vir die kinders en skape?



Soos ETIKET dit wil hê, gee ek jou nou eers die geleentheid om jou sê te sê!

Boland-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-etiket-etiket
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733