Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Geskenk

Dit is al weer sulke tyd! Die tyd van gee en ontvang. Dan raai jy dalk heeltemal reg. Die tema vir hierdie week in Vandag in Woorde is ‘GESKENK’.

Vir hierdie tema is daar so baie om oor te skryf. Die heel eerste ‘GESKENK’ wat in my gedagtes kom, is al die wonderlike verniet en onverdiende geskenke wat ek (en jy beslis ook) uit God se Vaderhand ontvang het en dié wat ek daagliks vars en nuut ontvang.

Dan dink ek aan ’n ‘GESKENK’, oftewel ’n hele paar wat ek by my Bokka gekry het oor die jare. Het jy so ’n spesiale GESKENK wat jy lankal ontvang het maar dit nog elke dag, of tenminste elke week, geniet en waardeer. Of dalk is daai geskenk al poegaai, maar nog heel in jou onthou-gedagtes. Vertel ons daarvan.

Verder is daar die GESKENK wat ek al so lank voor wag, maar nog nie ontvang het nie. Tog het ek dit nog nie op my hoop-ek-kry-dit-eendag-lysie dood gekrap nie. Dit sal ’n rooietjie wees. ’n Vinnige rooietjie. ’n Vinnige rooietjie met ’n afslaan dakkie. Wat is joune?

O ja, en dan is daar ’n GESKENK wat elkeen van al ontvang het en oor kan skryf. Dis die een wat jy vol opgewondenheid en afwagting oop skeur, dit versigtig uitdop en bekyk. En omdraai en van agter af ook bekyk. En weer omdraai en steeds bekyk sonder die geringste idee wat mens daarmee doen of waarvoor mens dit gebruik nie. Dan kyk jy op en sê: ‘Baie dankie. Ek wou nog altyd een van dié hê,’ terwyl jy dink: ‘ ek hoop ek ken iemand wat my sal kan sê wat dit is!’

In dieselfde asem is daar daai onbenullige geskenkies wat nog altoos, na ’n hele paar jaar, so handig is. Of daai 23e paar sokkies of die 17e serp, wat jy nog nooit kon gebruik nie omdat dit te klein is of kapoen nie by jou gelaatskleur pas nie.

Skryf hierdie week oor ’n GESKENK in die genre van jou voorkeur. Indien die woord GESKENK nie in jou titel voorkom nie, haak dit seblief daarbý aan, bv.:
Hy het dit vir my gestuur – Geskenk.

Dan kan ek en almal wat lees, dadelik sien dis ’n bydrae tot die tema. Om te skryf is ook ’n GESKENK. Gebruik dit om deel te neem aan hierdie tema.

Lekker skryf tot volgende week.

Boland-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-geskenk-geskenk
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733