Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Hande

Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘HANDE’. Hande sê so baie van die mens. Ek hoor in my kop vir Theuns Jordaan wat sing ‘.... hierdie hande van my....’ en iets van ‘...’n ou man se hande....’. sommige mense sien eers iemand se oë, ander sien lippe. Ek sien hande.

Ek sal altoos my pa se growwe sterk werkershande onthou wat timmer en skaaf aan sy houtwerk of fyn sny met ’n knipmes aan ’n lang stuk rugbiltong en stukkie vir stukkie aan ons kinders uitdeel wat grootoog in ’n sirkel om hom sit en dophou om seker te maak ons mis nie ’n beurt nie.

Ma se hande weer was vir geen oomblik rustig of stil nie, net soos haar mond. Sy het ewe veel met haar hande gesels as met haar stem. Selfs al het sy oor die foon gepraat , het die hande saam beduie. Ek het dit so bietjie by haar geërf. Of dalk moet ek maar die waarheid praat. As jy my wil stilmaak, hoef jy net my hande vas te bind.

Dink aan die hande van toeskouers langs die krieketveld wanneer daar ’n vier of ’n ses geslaan word of ’n man word uitgeboul. En wanneer die ‘Mexican wave’ sy rondte doen. Met dieselfde hande en dalk dieselfde entoesiasme word ons Heer geprys.

Met ons hande gee ons en dien ons.

Met ons hande slaan ons en knyp ons.

Met ons hande klap ons om applous te gee.

Sommige mense staan altyd bakhand om te ontvang.

Ander mense gee met die een hand en ontvang met die ander hand.

Tog is daar die dierbare vrygewige mense wat sommer met albei hande gelyk weggee.

Met jou hande druk jy jou oë toe wanneer jy nie wil of mag sien.

’n Sagte hand wat oor jou kop of skouer streel en die hand wat op jou rug klap wanneer iemand jou na jare weer raakloop.

As ons dink aan gesegdes oor hande, onthou ek:

Hande in die hare wees van moedeloosheid.

Een hand was die ander hand.

Hand uitsteek in ’n tyd van nood.

Hand in eie boesem steek.

Hande in die lug gooi.

Hand oor die mond slaan in verbasing.

Moenie handjies gevou sit nie.

Het jy jou hande die saligheid beloof?

My Woeste vriende en vriendinne, steek dan nou hand uit die mou en slaan jou hand aan ’n skryfsel oor die hande wat ’n indruk gemaak het op jou lewe. Of jy wil dig, ’n storie opmaak, ’n rubriek, liriek of artikel skryf, ons sal dit met dankbare hande ontvang. Ek vryf my hande in afwagting en pure ongeduldige haastigheid om te lees wat jy oor hande te vertel het.

Dan wuif ek nou eers met albei hande totsiens.

Hierdie week kom my groetnis nie uit die bos nie, maar van my huisie by die see-in die mooiste Kaap.

Tot volgende week.
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-hande-hande
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733