Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Instinkte

Die tema vir Vandag in Woorde is hierdie week ‘INSTINK’. Nee, dit het niks met jou neus uit te waai nie. Of het dit? Jy weet, dalk iets soos ‘ruik ’n rot’. Dan hét dit mos met reuk te doen.

Na my mening is instink my sesde sintuig. Of is dit intuïsie? Daai ding wat hier om en in my hart krap om my teen iets te waarsku of van iets bewus te maak. Instink is 'n vorm van leiding wat gewoonlik verband hou met die gedrag van diere nl. jag, paring, die bou van huise (neste), ens. Die mens is ook maar dier of hoe? Soms meer dier as diere self.

Ons word met instink gebore. Babas gebruik instinktiewe gedrag - in hul suig, huil, glimlag, en ander aktiwiteite.

In ons gewone alledaagse lewe waarsku instink ons teen ’n bedrieër of ’n mens wat kamma-opreg is. Of ’n situasie wat jou sommer net ongemaklik laat voel.
Waar het jou instink jou al gered van ’n nare mens of uit ’n gevaarlike situasie? Seblief vertel vir ons.

Het jou instink jou dalk al oorreed om iemand, wat almal verwerp het, ’n kans te gee? Het jou instink jou al gelei om ’n juweel te ontdek? Skryf tog daarvan.
Het jy al jou instink verontagsaam en duur skoolgeld betaal daarvoor? Deel dit met ons.

Hoe wakker is jou instink?

Wanneer maak jy op instink staat?

Laat jy jou deur instink lei?

Of jy ’n digter, of ’n rubriekskrywer of ’n liedjieboer is, laat dit tog hierdie week oor ‘INSTINK’ gaan. ’n Loslip gorrel sal ook reg wees.

My instink vertel vir my dat ons hierdie week lekker gaan lees.

Bos-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-instinkte-instinkte
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733