Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Maskers

Daar was verlede week soveel bydraes vir die Romanse tema. Dit wys net hoe onse Woestelinge oorloop van die liefde of ten minste baie daaroor peins. Aan elkeen wat deelgeneem gee ek hier uit die bos uit ’n solo applous op ’n Afrika trom. Dis lekker as die Woestelinge deel raak en belangstel in wat hier op ons werf aangaan. As jy, ja jy, nog nooit ’n bydrae gelewer het tot Vandag in Woorde nie, kom dan. Hierdie week is jou kans om bietjie buite die boks te dink. Agge toe man, kom speel bietjie saam.

Ons tema vir die week is ‘MASKERS’. En wie van ons dra dan nie elke nou en dan ’n masker nie. Ons doen dit om voor te gee, ons self te beskerm, om in te skakel of om weg te kruip. By aanhoor van die woord is die eerste prentjie wat in my kop kom daai twee teatrale maskers wat skuins oormekaar lê. Een met ’n glimlag en een vol hartseer. Dit stel die lewe so goed voor. As jy nie huil nie, dan lag jy.

Ek dra graag my glimlag masker vir die eenvoudige rede dat ek nie ander met my hartseer en ongelukkigheid wil opsaal nie. Tog wil ek ander se hartseer altyd probeer weghelp. As hulle dit nie wys nie, hoe sal ek weet om te help.

Mense dra maskers wanneer hulle in die geselskap is van mense wat hulle meerderwaardig ag, sodat hulle nie dom of onervare moet lyk nie.

Daar is ’n masker om slegte omstandighede weg te steek. En een om skuldigheid te verbloem. En een wat rykdom en voorspoed sal wegsteek. So sien ons dat maskers gebruik word om die waarheid te verbloem.

Skryf nou en vertel ons:

Wanneer dra jy ’n masker?

Watter soort maskers hang agter jou deur?

Hoekom dra ons maskers om die feite weg te steek?

Was jy al ontmasker?

Kan jy deur sommige maskers sien?

Kom lig hierdie week jou masker en vertel ons alles. Skryf ’n gedig, ’n rubriek, ’n kortverhaal of ’n rubriek. Dalk, net dalk help jy iemand anders om sy of haar masker ook af te pluk en vrylik asem te haal.

Bos- groetnis tot volgende week.
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-maskers-maskers
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733