Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Ongeluk

Die tema vir ‘Vandag in Woorde’ is hierdie week ‘ONGELUK’. Vir enige iemand wat so ‘vallende’ en ‘val-lerig’ soos ek is, is ‘ongeluk’ ’n gereelde gebeurtenis. My pa, wat ’n paar druppels Namakwaland bloed in sy are gehad het, het altoos gesê: ‘My kjint, as jy niks kry om oor te val nie, dan staat en val jy wragtag oor jou eige pote!’ Nou ja, ’n feit is ’n feit.

Ongeluk is ook die teenoorgestelde van geluk. Wat het jy daaroor te skryf?

Dan was ek ook al ’n keer of twee in ’n ligte motorongeluk betrokke. Ongelukkig vir my was dit meestal my eie skuld. Het jy ’n motor-ongeluk storie?
Wat dink jy van mense wat aspris iets aanvang en as jy hulle uitvang, vinnig is om sê: ‘Skies man, dit was net ’n ongeluk!’ Ongeluk, my voet en ‘askies’ maak niks reg nie. Ek dink ‘askies’ moet uit die woordeboeke verban word. (Ai hoe lekker giggel ek nou, want ‘askies’ is nie in die woordeboek nie, net ‘jammer’. Ongelukkig vind ek dit nou eers uit.)

Ons hoor ook iemand sê: ‘die ongeluk ry my’.

Ander glo ongelukke gebeur in drieë en dan is alles weer normaal.

My een vriendin sê haar seun is ’n ongeluk wat wag om te gebeur. Kyk hoe profeteer sy ongeluk oor haar kind.

Mense praat van ’n onbeplande swangerskap as ’n ongeluk. Dalk moet mens vra of die taak van die oorsaak, ook ’n ongeluk was.

Wat maak jou kinderlik ongelukkig?

Watse noemenswaardige ongeluk het jy al beleef of oorleef?

Hoe verhoed mens ongeluk?

Die meeste van my ongelukke was skreeusnaaks. Dalk joune ook. Vertel ons daarvan. Mens kan nooit te veel lag nie.

Ongelukkig moet ek nou uitskuif sodat jy agter die rekenaar kan inskuif om ons alles van ongeluk in jou lewe te vertel. Smaak my mos hierdie onderwerp is dalk diep in die sielkunde gewortel. Of wat praat ek als?

Nou ja dan wuif ek vir eers totsiens.

Mog jou week ongeluk-vry wees.

Bos-groetnis
Kiekies.

Ps. Moenie vergeet om ‘ongeluk’ by jou titel aan te haak nie!


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-ongeluk-ongeluk
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733