Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Pad

Hierdie week se tema vir Vandag in Woorde is PAD. Elke lewendige mens, wat sy omstandighede ook àl mag wees, stap ’n PAD. Soms is dit ’n gelyk PAD en soms is dit maar bra klipperig.

As ons kyk na die letterlike paaie van ons land en verder noord in die res van Afrika, dan weet ons en sien ons dat as mens nie gereeld herstel, opvul, toegooi en onderhou nie, ontstaan daar gaatjies. En soos Theuns Jordaan se liedjie gaan, ’n gaatjie wat nie aandag kry nie, word later ’n gat en nog later sommer ’n donga. So groot word die gat dat die PAD naderhand onbegaanbaar raak.

Soms is jy op ’n opdraand PAD en soms op ’n afdraande PAD en die een kan so moeilik of gevaarlik wees as die ander. In elke PAD is daar iewers ook ’n kruis-PAD waar jy sal moet kies: Links of regs, vorentoe of omdraai. Jou keuses bepaal die PAD wat jy verder sal stap.

Ons hoor altoos dat die PAD na ’n man se hart, deur sy maag loop, maar hierdie naweek hoor ek dat ons toe deurentyd mislei was. Die PAD na sy hart loop eintlik ses duim laer. Liewe Woes-dame, nou is jy ingelig.

Kom ons dink bietjie aan al die verskillende paaie in die lewe:

-      Reguit PAD of kronkel-PAD.
-      Die PAD van ’n huwelik of ’n vriendskap.
-      Die PAD na mislukking en die PAD na sukses.
-      Grond-PAD
-      Teer-PAD
-      Voet-PAD
-      Wa-PAD
-      Fiets-PAD

Hierdie week vra ons: Vertel vir ons van ’n pad. ’n Lewenspad of die hoofpad na ’n wonderlike plek. Dalk wil jy ons op ’n plaaspaadjie neem of dalk ’n Autobahn.

Ons is gepak, padkos en al. Kom neem ons saam op jou PAD. Jy is aan die stuur!
Moet seblief nie die hase-PAD vat nie, gehoor!

Dan vat ek nou maar eers weer die PAD, tot volgende week.

Boland-groetnis,
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-pad-pad
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733