Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: SELF

In hierdie eerste Vandag in Woorde tema vir die vars lente wat om ons losbars, reken ek dis goed dat ons bietjie in die spieël kyk en ook binnetoe inspekteer. Die nuwe tema om oor te skryf is ‘SELF’.

Toe jy ’n kleuter was en toe jou kinders kleuters was, was dit een van die eerste tekens van SELF-standigheid as ’n kind die woord ‘SELF’ gebruik. Wanneer iemand wil help om knope vas te maak, veters te knoop of te voer, sal hy omswaai sê: ‘Nee, SELF!’

In die moderne digitale wêreld het dit mode geraak om SELF-ies te neem. Doen jy dit?

Het jy al in ’n boekwinkel gesien hoeveel SELF-help boeke is op die rakke. Die goed verkoop soos soetkoek. As dit so maklik is om jou-SELF te help, dan wonder ek hoekom daar nog vele hulpelose mense is.

Daar is so baie vertakkings van SELF waaroor ons hierdie week ’n eiertjie kan lê:

SELF-beheersing
SELF-bewus
SELF-geregtigheid
SELF-sugtig
SELF-kritiek
SELF-aansitter
SELF-bestuur
SELF-moord
SELF-kant
SELF-regverdiging
SELF-onderrig
SELF-respek ...

En so kan ek aan en aan en aangaan met SELF onderwerpe. Nou moet ek my-SELF inhou en vir jou die kans gee om oor jou-SELF of enige SELF tema op jou hart, te skryf.

Ek beveel dus aan dat jy jou-SELF in rat kry en skryf. Dit sal nie van-SELF gebeur nie. Skryf sommer in enige genre van jou keuse. Dalk moet jy vandag probeer om iets in ’n genre te skryf, wat jy nog nie voorheen probeer het nie. Komaan, dis ’n vars nuwe seisoen, probeer hierdie week iets nuut!

Dis hier waar ek my-SELF moet aanspreek: ‘SELF, hou op gorrel en groet!’

Boland-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-self-self
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733