Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Speletjies

Die nuwe tema vir Vandag in Woorde is ‘speletjies’. As ek nou moet verklaar waar ek aan hierdie tema gekom het, kan ek nie. Jou gedagtes het seker ook al op galop gegaan en wanneer jy uit die beswyming wakker skrik dan wonder jy: “hoe het ek nou hierby uitgekom?” Wel hierdie tema is een van daai.

Ewenwel, ons gorrel en dig en maak hierdie week stories oor speletjies.

Speletjies is nie net altyd onskuldige plesierige tydverdryf nie. Mense speel soms baie gevaarlike of wrede speletjies sonder regverdige reëls en met nare gevolge. Was jy al ’n vrywilliglik verpligte speler in sulke speletjies? Kom vertel dan vir ons daarvan.

Daar is ’n wye verskeidenheid speletjies. Kantoor speletjies om mag af te dwing of promosie te bewerkstellig. Politieke speletjies. Kop speletjies. Selfs ’n potjie owerspel hier en daar. Wolf praat in een van verlede week se bydraes van Pretty Women se spel wat op baie maniere gespeel kan word. Komaan, skryf daaroor!
En terwyl ek so aan speletjies dink gaan my gedagtes onwillekeurig terug na my kinderdae se speel.

Ken jy dalk ‘Onner die hond se stert’?

Of die een wat begin het met: ‘ek het ’n pant, ’n wonderlike pant. Wat moet met hom gedoen word?’

Onthou jy al daai lekker bord speletjies? Slangetjies-en-leertjies. Ludo. Dambord. Chinese Checkers. Monopoly. Cluedo.

En wat van al die lekker buitelug speletjies wat vir goeie oefening ook gesorg het. Wegkruipertjie, bok-in-die-hok, touch’s en ag, sommer baie ander.
Dan is daar die meer moderne Pictionary, 30 seconds, Scruples en daai een met die stukkies ‘pie’ en die vrae oor aardrykskunde, geskiedenis en sport. Wat is sy naam nou weer?
As jong getroudes het ons graag Vrydagaande saam met vriende kaart gespeel. Elke paartjie het met sy koffiebottel vol een en twee sente gekom en probeer om die ander se bottels te stroop. Soms het ons en die familie sommer vir vuurhoutjies of knope gespeel.

Vandag se dae is daar ’n horde rekenaarspeletjies. Sommige erg verslawend. Weet jy waarvan ek praat?

Hoe het jy gespeel? Saam met wie? Wat het julle gespeel?

Speel jy nog? Wat speel jy nou? Jy kan my enige tyd nooit om saam te speel.

Bos-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-speletjies-speletjies
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733