Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Verniet

Kiekies se tema hierdie week laat mens beslis stilstaan en die lewe weer opnuut beskou. 'n Heerlike tema om oor te skryf dat die biesies bewe ...


Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is……… nee wag ek wil eers vertel hoe die tema ontstaan het.

Ek gooi al vir ’n dag of twee, verskeie temas soos deeg-bolle teen die muur van my verbeelding, maar nie een wil vasklou nie. Party hang so rukkie en gly dan maar net weer in ’n glibberige streep tot op die bodem.

Vanoggend gaan stap ons. My Bokka, my brakkie en ek. Dis effe onweer, heerlik koel en windstil. Die reuk van die see kan ek al van vêraf ruik. Op die strand rol klein kristalhelder golfies in en kartel tot op die sand en verdwyn tussen die sandkorrels. Dis so heerlik en so pragtig dat ek niks wil sê om dit met die klanke van my stem te versteur nie, maar my hart is vol en uitgerys van waardering.

Dis toe dat ek besef: dis alles verniet. Pa het altyd gesê in die lewe kry mens niks vir niks en ’n klein bietjie vir ’n tiekie. Vandag weet ek pa was verkeerd terwyl ek uitken hoeveel dinge ons verniet kry, as ons oë en ore en harte maar net oop genoeg is om dit waar te neem.

‘VERNIET’ is dan hierdie week se tema en ek deel ’n paar van my verniet dinge:

Die blinklyf vissies wat om my voete dartel.

Die watte-bol wolke wat die uitspansel vul.

Die reuk en gesuis van die see.

Die pienk wye-bek glimlag van Brakkie wat opgewonde om my rond hardloop.

Die gelag van kinders wat mekaar natspat.

Die natuur skildery van ’n spierwit seiljag op die topaas-blou water.

Die purper, violet en rosige berge wat my rug bewaak.

Die gejil van die meeue en gekras van die ganse.

’n Vriendelike groet en glimlag van die stappers wat verbykom. Vir my en Brakkie.


Dis wat ek daar op ons uitstappie waargeneem het, maar toe dink ek verder:

Die liefde van my Bokka en my kinders en familie.

Vriendskappe vol omgee.

Die skitterblink sterre in die nagdonkerte.

Brandewyntert se sonsopkoms. (Dalk nie, want sy het daarvoor betaal met die nag-opstaan.)

Vars lug in die natuurskoon.

Plante, diere en klippe.

Loop, sien, hoor en praat.

Woorde om mee te kommunikeer.

Elke asemteug.

Elke nuwe dag.

Verder besef ek dat hoe meer ek van myself en uit myself verniet weggee, hoe meer ontvang ek verniet terug. My aandag, vriendskap, tyd, omgee, geselskap, luister en hulp. As ek dit saai, dan oes ek dit in groter maat as wat ek gegee het.

Nou vra ek hierdie week: Maak jou oë, ore en hart oop. Neem waar en deel deur jou talent en passie vir skryf, in ons verniet-allermooiste-Afrikaans. Al die verniet dinge in jou lewe en omgewing, wat dit ’n vreug maak om te lewe.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-verniet-verniet
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733