Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Vra

Die tema van Vandag in Woorde vir hierdie week is ‘VRA’.

Ek luister altyd na radio of televisie onderhoude met bekendes en selfs onbekendes en dan het ek altoos ’n hele rits vrae wat ek self sou gevra het.

Hierdie week het elke Woesteling die geleentheid om vrae te vra aan wie ook al. Dalk kan jy sommer ook die moontlike antwoorde weergee.

Dalk dink jy ook soos ek dat sommige vrae onnosel vrae is wat aan mense gevra word. Van my rusbank af gee ek dan allerhande sarkastiese aanmerkings. Soms beleef ek selfs verleentheid as my taalgenote of landgenote hulle naam so Kiepie maak met ’n spul onbenullige vrae.

Hier is ’n paar vrae wat ek sou wou vra:

Vir die president wil ek vra of hy rêrig dink ons glo alles wat hy sê.

Vir iemand wat ’n eggenoot verloor het, wil ek vra hoe mens alleen aangaan.

Ek sal graag vir ’n baba vra wat dink hy van al die ge-koochikoo en babataal om sy ore.

Vir ’n perd of ’n hond of ’n kat het ek ook soms vrae.

Vir Warren Buffet wil ek vra watter aandeel ek vandag moet koop.

Vir ’n moordenaar en verkragter het ek baie vrae.

Vir ’n musikant wil ek vra hoekom hy ’n spesifieke liedjie sing en na wie luister hy as hy musiek luister.

Ek het vrae vir ’n chirurg wat ’n pasiënt gedurende ’n operasie verloor het.

Daar is selfs vrae vir God wat ek nie durf vra nie.

’n Paar wyshede oor vra:

Vra is vry en weier daarby.

Vra en vir jou sal gegee word

Jy het nie, want jy vra nie.

Het jy vrae?

Vir wie wil jy wat vra?

Wat was die grootste vraag wat al aan jou gevra was?

Nou is jou kans! Vra jou vrae of vertel van vrae aan jou gevra. In ’n gedig, rubriek, kortverhaal of liriek.

Dalk kan iemand hier op Woes vir jou wyse antwoorde gee.

Bos-groetnis,
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-vra-vra
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733