Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Vrede

Hierdie week se tema vir “Vandag in Woorde” is VREDE. Dis ’n toestand waarin ’n mens verkeer wanneer.....wanneer.....umm.....mm... Nee, ek gaan niks sê nie. Skryf jy vir almal op Woes wat vrede vir jou beteken. Waar, wanneer, hoe, waarom en hoe voel vrede? Toe jy die woord lees, wat is die eerste gedagtes wat by jou opgekom het en hoe het die prentjie in jou kop gelyk van die plek waar vrede teenwoordig is? Vir almal sal dit verskillend wees.

Ons ken die gesegdes:

Laat my asseblief tog net in vrede.

Ek het geen rus en vrede vir my siel nie.

Vrede en vreugde loop hand aan hand.

Ek vra vir Bokka: ‘wat beteken vrede vir jou?’ en hy antwoord sonder skroom: ‘Finansiële onafhanklikheid en rustig wees by my huisie by die see.’ Hy las ook vinnig by: ‘vrede is ’n besluit wat mens kan maak as jy glo.’

Vir my is vrede wanneer ek saans in die bed gaan klim, nadat ek alles gedoen het wat ek moes en ek weet dit gaan goed met Bokka en die kinders.

Of wanneer ek langs die see stap op ’n sonskyndag.

Of wanneer ek onder die wildevy staan en na ’n koor van voëlgesange luister.

Ek nooi elke Woesteling uit om hierdie week, in die genre van jou keuse, vir almal te vertel van jou oomblikke en plekke van vrede. Verduidelik aan mense wat sukkel om vrede te bekom, hoe hy of sy dit kan bewerkstellig.

Vrede is salig. Ek gun dit aan elkeen op onse werf. Dalk kan jou skryfsel dit oordra aan ’n leser wat dit nodig het.

Vrede vir julle!
Bos-groetnis,
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-vrede-vrede
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733