Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Vandag in Woorde: Woord uitdaging April

Vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is dit weer hoogtyd dat ons ’n spik-splinternuwe woord uitdaging doen. Kan jy glo? Die laaste uitdaging was al aan die einde van November verlede jaar gedoen. Ons het nog nie eers ’n uitdaging in 2014 gehad nie. Kan dit wees? Ja dit kan! Tyd is soos water en dit beweeg stroomaf.

Intussen het daar al heelwat nuwe lede bygekom en ek nooi ieder en elk om die uitdaging te aanvaar. Ter verduideliking aan ons nuwe lede en al die ander wat nie meer kan onthou nie, gee ek net gou weer die reëls.

So werk dit:

1.      Ek gee vir jou ses woorde.
2.      Jy moet al ses die woorde gebruik.
3.      Skryf in enige genre. Selfs ’n gorrel is baie welkom.
4.      Gee die ses woorde voor jy begin skryf of skryf dit in skuinsdruk. (Dit help die leser om te sien hoe en waar jy die woorde in jou skryfsel inspan)
5.      Jy mag ’n verbuiging van die woord gebruik om by jou tema aan te pas, solank een van die ses woorde die basis vorm, bv. Vou wat omvou word.
6.      Onthou om die woord ‘Uitdaging’ by jou titel te heg.

Lou

Suurgesig

Perpleks

Neerlê

Kwets

Gort

Laat waai met ’n woord-werpsel. Ons is die ene afwagting!

Bos-groetnis
Kiekies.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/vandag-in-woorde-woord-uitdaging-april-woord-uitdaging-april
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733