Op Woes.co.za onder Woes-Nuus
Woes digkompetisie - Keurdersverslag
Na al die blydskap oor die optredes van die mense wat dit moontlik gemaak het, die herinneringe aan die goeie gees by ‘n goeie aand en al die ontmoetings met mense wat soveel moeite gedoen het om daar te kom, sê ek graag iets oor die kompetisie en die gedigte wat voorgelê is.
Vir ons as beoordelaars was dit ‘n baie besige twee ure: rusteloos, want telkens stapel ons gedigte in ‘n sekere suksesvlak op, om dit dadelik weer te moet verander as een hom voordoen wat treffender is. Jy kan jou self indink hoeveel keer ons al die gedigte moes deurlees in dié proses!
Die verskeidenheid stemtone wat die gedigte verteenwoordig het, is verblydend, maar dis nie ‘n vereiste nie: ons was nie tematies gebonde of volgens voorskrifte gerig nie. Verblydendste was vir my beelde wat regtig onvergeetlik is, soos die weerlig gesien as spinnekoppote, en dan die verbasend baie oorgange na iets van ‘n ander dimensie. Dit het gewissel vanaf die kar wat vlerke kry omdat die spreker ‘n groot skenking aan ‘n bedelaar gegee het, tot besinning oor ‘n geliefde wat op die oorlewende se aankoms nie in die hemel sou wees nie, en ander metafisiese verglydings.
Mens sou nie kon beweer dat die gedigte vasgeval het in gemoedelik-lokaal realisme nie. Daar was wel afgrond en patos, soms toorn.
Dikwels het ‘n gedig ten goede gebruik gemaak van die taalklanke om betekeniskonstruksie te rig, en by ten minste twee geleenthede was daar gedurfde – en suskesvolle - reëldelings. Party het selfs baie lang reëls met vrug geprakseer.
Wat die deurslag gegee het om die wenners en hulle volgorde te bepaal? Daar was ten eerste gedigte wat ‘n totaal nuwe ondervinding gebied het, in klank, situasie, taalbeweging. Wat Opperman noem ‘n “noodsaak”. Daarteenoor, aan die ander kant van die skaal, was daar ‘n paar wat dalk ‘n gebrek aan leeservaring toon, wat reeds gebruikte beelde, vorme persoonsvoorstellings en dergelike aanbied sonder om dit te verruim of te verfris. Na al die werk in die slypskool was dit vir my verbasend dat so min daarvan aangebring is in die finale gedigte. Die geleentheid was tog daar om die gedig op goeie voet te plaas!
Die digters wat soveel goeie gedigte ingedien het, kan bepaald trots wees. Ons sien uit na die bundel!
Prof. Ian Raper
Bron:
http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/woes-digkompetisie-keurdersverslag
|
Willem Woes Ek is die skepper van Woes.co.za en ek het nie gedink dit gaan so groot word nie. Omdat ek ‘n kreatiewe mens is weet ek hoe moeilik is dit om ‘n plek te kry waar jy jouself kan uitleef. Wat help kreatiwiteit as dit nie in aksie oorgeskakel kan word nie. Dit is wat Woes vir duisende skrywers tans doen.
Ek het ook nie gedink dit is iets wat ek gaan doen vir ‘n lewe nie. Ek lag altyd vir mense as hulle vra wat ek doen en dan antwoord ek: “Ek doen alles wat my hart wil doen en my hoof bron van inkomste kom uit Afrikaans op die Internet”.
Ek het ‘n unieke manier om die lewe aan te pak en dit om elke jaar iets te doen wat my bang maak. Dit forseer jou om uit jou gemaksone te beweeg en so bewerkstellig dit persoonlikegroei.
Dinge wat ek al gedoen het is soos volg:
Ek het al twee Pendoring toekennings vir webwerf ontwerp gewen.
Fotoverhale in die Beeld koerant laat herleef.
'n Verhoogstuk vir my dertigste verjaardag geskryf en self opgevoer
Vryskut skryfwerk vir die Taalgenoot gedoen.
'n Musiekblyspel geskryf vir my 33'ste verjaardag en self opgevoer. Self liedjies geskryf en dit laat toonset.
Die Comrades maraton.
Ek en my broer het die Cape-Epic bergfietsren gedoen. Jy ry met ‘n bergfiets van Knysna, deur die Klein-Karoo tot in Stellenbosch. Dit is oor 8 dae.
Dankie dat jy Woes besoek en geniet jou tyd hier.
Totale stukke publiseer: 350
Totaal kere gelees: 830,891
Totaal kommentaar: 959
|