Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Woes in die Kaap

Hier kom Woeskaap. Ja, jy het reg gehoor, Woeskaap. Nog nooit het die Weskaap die geleentheid gehad om ook deel te kan wees van Woesverrigtinge nie,en ons almal glo dis hoog tyd. Nou wil ons dit graag in die Kaap doen!

Hierdie is slegs ‘n kennisgewing, so ‘n klein lusmakertjie, sodat jy solank jou verloofde, jou verliefde, en jou verloordes kan agtermekaar kry in jou jaar beplanninge. Maak solank ekstra koffie vir die baas, werk ekstra hard vir die volgende 6 weke sodat jy voor is met jou werk, ry die internet branderplank vir ‘n goedkoop vlug af Kaap toe, bel al jou lanklaasgesien pelle en hoor oor verblyf of begin solank stap. Die woestynmense, al wat ek kan bylas hierby is, hoe ver kan ‘n kameel loop voor hy te dors raak? Die buitelanders, en skrywers dwarsoor onse eie land wat lanklaas in die Kaap was, komaan mense, jul soek hoeka ‘n verskoning om ‘n slaggie te kom boerewors, braaivleis, pap en sous, korrelkonfyt, Mrs Ball’s, braaibroodjies, Rooibostee en biltong te kom eet... hier is jou kans – die Kaap is mooi en die Kaapse talent nog mooier.

Die bymekaarkoms gaan in die vorm van ‘n vingerete wees met musiek, dans (vir diegene wat nog kan) , talent, voorlesings en samesyn. Ons het soveel talente onder ons dat ek glo ons nie te hard sal sukkel om so ‘n aandjie ‘n belewenis te maak nie. Oefen solank jou sang, jou toertjie, jou woorde, jou hoolahoop talent of gaan koop vir jou ‘n spoggerige uitrusting en lekker gemaklike dansskoene. Hier kom ‘n ding...

Vir eers is die inligting wat ek jul kan verskaf die volgende:

Waar: Brackenfell (Noordelike voorstad van Kaapstad) in die Duiweklubsaal

Koste: R120 per kop (kos ingesluit – ons werk ook daaraan om vir ons ‘n borgskap wyntjie los te slaan)

Drag: Smaaklik, maar informeel

Saterdag 28 Februarie 2009

Woester en metgesel

(Natuurlik gaan ons seker maak dat die media ook hiervan bewus is)

Lekker gesels en heerlike samesyn met die mense vir wie jy liefgeraak het aan die ander kant van jou skerm

Vir eers laat ek jul dan met hierdie inligting en poog om so spoedig moontlik die res van die fyner besonderhede aan jul bekend te maak. Probeer rerig om ‘n plan te maak om dit te kan bywoon. Dis tyd dat ons die Kaap Woes verf!

Ons gaan lekker met mekaar kan gesels, skrywers sal hul werke kan voorlees en vir diegene wat lus is om vir ons van hul ander talente te wys, sal die geleentheid gegun word. Oor die volgende paar weke kan skrywers vir ons laat weet watter werke hul graag met ons sal wil deel, of watter van hul vele talente hul vir ons wil wys.

Dit beloof om ‘n heerlike aandjie te wees waar ons almal die geleentheid sal hê om mekaar beter te leer ken en sodoende meer blootstelling te kry. Graag sal ons van julle wil hoor of jul die aand sou wou bywoon, sodat ons ‘n opname kan maak van getalle, asook hoeveel Woesters ook vir ons wil sing, dans, ens.

Natuurlik sal jul nog hiervan heelwat te hore kom en verdere fyner besonderhede t.o.v. betalings, besprekings en reëlings sal aan jul gebied word, so spoedig moontlik.

Kontak gerus vir DanieBinneKortDelene vir enige verdere navrae, kaap@woes.co.za. Ons volg binnekort met meer nuus hieroor.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/woes-in-die-kaap
Willem Woes

Ek is die skepper van Woes.co.za en ek het nie gedink dit gaan so groot word nie. Omdat ek ‘n kreatiewe mens is weet ek hoe moeilik is dit om ‘n plek te kry waar jy jouself kan uitleef. Wat help kreatiwiteit as dit nie in aksie oorgeskakel kan word nie. Dit is wat Woes vir duisende skrywers tans doen.

Ek het ook nie gedink dit is iets wat ek gaan doen vir ‘n lewe nie.  Ek lag altyd vir mense as hulle vra wat ek doen en dan antwoord ek: “Ek doen alles wat my hart wil doen en my hoof bron van inkomste kom uit Afrikaans op die Internet”.

Ek het ‘n unieke manier om die lewe aan te pak en dit om elke jaar iets te doen wat my bang maak. Dit forseer jou om uit jou gemaksone te beweeg en so bewerkstellig dit persoonlikegroei.

Dinge wat ek al gedoen het is soos volg:

Ek het al twee Pendoring toekennings vir webwerf ontwerp gewen.

Fotoverhale in die Beeld koerant laat herleef.

'n Verhoogstuk vir my dertigste verjaardag geskryf en self opgevoer

Vryskut skryfwerk vir die Taalgenoot gedoen.

'n Musiekblyspel geskryf vir my 33'ste verjaardag en self opgevoer. Self liedjies geskryf en dit laat toonset.

Die Comrades maraton.

Ek en my broer het die Cape-Epic bergfietsren gedoen. Jy ry met ‘n bergfiets van Knysna, deur die Klein-Karoo tot in Stellenbosch. Dit is oor 8 dae.

Dankie dat jy Woes besoek en geniet jou tyd hier.



Totale stukke publiseer: 350
Totaal kere gelees: 830,891
Totaal kommentaar: 959