Op Woes.co.za onder Woes-Nuus

Woes-skryfkompetisie skop af!

Aandag alle skrywers! Aandag alle skrywers! Hark julle rekenaars nader, gaan soek daardie skryfsels wat jy lank gelede al geskryf het en intussen nog niks verder mee gedoen het nie, want op 4 Oktober 2010 skop die skryfkompetisie van die webwerf www.woes.co.za af.

Voornemende deelnemers kan solank hul vingers op die “send”-knoppie hou, want oor minder as vier weke het ongepubliseerde skrywers ’n geleentheid om hul stem te laat hoor.

Hierdie skryfkompetisie, wat op 1 Oktober afskop, het ’n pryswaarde van nie minder as R50 000 nie. Wegbreeknaweke vir die kategoriewenners (geborg deur Forum Homini), publikasiemoontlikhede (ondersteun deur LAPA Uitgewers) en blootstelling in die Sondagkoerant Rapport is deel van die pryse wat deur die wenners opgeraap kan word.

Die kategorieë waaraan deelnemers kan inskryf, is legio: rubrieke, gedigte, kortverhale en kinderverhale. (Reëls, meer besonderhede en inskrywingsvorms sal vanaf 1 Oktober op www.woes.co.za beskikbaar wees.)

Die sluitingsdatum is 30 April. Wenners sal in Julie 2011 tydens ’n vyfster-gala-geleentheid by die boetiekhotel Forum Homini aangewys word.

Saam met hierdie kompetisie loods www.woes.co.za ook die eerste van ’n reeks mentorskapprogramme vir ingeskrewe lede van die woes-webwerf. Daar gaan afgeskop word met ’n mentorskap oor die skryf van rubrieke en meningstukke. Wat hierdie mentorskapprograme uniek maak, is dat dit mense bemagtig om hul eie skryfwerk te beoordeel en te verbeter. Daar word beplan om die mentorskapprogramme mettertyd na ander genres uit te brei.

Vir onderhoude kontak Willem Gous by woes@woes.co.za. Vir advertensie- en borgskapmoontlikhede kontak Morné van Staden by 083 257 3441 of morne@woes.co.za. Meer inligting oor die kompetisie en die mentorskapprogram is te kry by Marlize Leyden by leydenmarlize@gmail.com.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/woes-nuusstuk/woes-skryfkompetisie-skop-af
Willem Woes

Ek is die skepper van Woes.co.za en ek het nie gedink dit gaan so groot word nie. Omdat ek ‘n kreatiewe mens is weet ek hoe moeilik is dit om ‘n plek te kry waar jy jouself kan uitleef. Wat help kreatiwiteit as dit nie in aksie oorgeskakel kan word nie. Dit is wat Woes vir duisende skrywers tans doen.

Ek het ook nie gedink dit is iets wat ek gaan doen vir ‘n lewe nie.  Ek lag altyd vir mense as hulle vra wat ek doen en dan antwoord ek: “Ek doen alles wat my hart wil doen en my hoof bron van inkomste kom uit Afrikaans op die Internet”.

Ek het ‘n unieke manier om die lewe aan te pak en dit om elke jaar iets te doen wat my bang maak. Dit forseer jou om uit jou gemaksone te beweeg en so bewerkstellig dit persoonlikegroei.

Dinge wat ek al gedoen het is soos volg:

Ek het al twee Pendoring toekennings vir webwerf ontwerp gewen.

Fotoverhale in die Beeld koerant laat herleef.

'n Verhoogstuk vir my dertigste verjaardag geskryf en self opgevoer

Vryskut skryfwerk vir die Taalgenoot gedoen.

'n Musiekblyspel geskryf vir my 33'ste verjaardag en self opgevoer. Self liedjies geskryf en dit laat toonset.

Die Comrades maraton.

Ek en my broer het die Cape-Epic bergfietsren gedoen. Jy ry met ‘n bergfiets van Knysna, deur die Klein-Karoo tot in Stellenbosch. Dit is oor 8 dae.

Dankie dat jy Woes besoek en geniet jou tyd hier.



Totale stukke publiseer: 350
Totaal kere gelees: 830,891
Totaal kommentaar: 959