Gedigte

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

sy’t gewoel en gewerskaf tot die sweet afloop van haar hoof
voor die groot warm potte het sy reeds gister begin afsloof
sy was by uitsteek die baasbakster van die kontrei
teen haar kookkuns kon selfs die basaar tannies nie stry

elke melktert vol 12 eiers, pof
met die skilferskors bros en nie te grof
die tipsy tert met die skop het jou tong gesaag
daai ekstra koppie brandewyn agter dominee ingewaag

karringmelkbeskuit wat sag insuig
die moerkoffie moes koppie vir koppie buig
anysbeskuit was nie almal se geur
maar die mosbolletjies was die een van voorkeur

en dan was daar die waatlemoen
die konfytstukke wat jy vandag nie meer op sy naam mag noem
nagdeur se geprik, elke blokkie in haar skik
en dan die stadig kook, borrelend, die soet stroop
hy moes sommer so taai trek as hy teen die skuinste loop

gepraat van die stroop se lang geprut
as sy elke vlegsel sissend in die koue sous sou sit
en hy sing nog sy laaste fluitjie oplaas
voor sy die koeksister op die lang skinkbord vir koud plaas

die vroeë groenvye noukeurig geoes
die taaiheid dan van haar hande in ‘n skroppery verwoes
twee nagte lank hul diep in kalk sou verdrink
en in pruttende dik stroop hul lyfies verblink

verstikkende suur walms van die AllSpice en asyn
of die springbok wat twee dae moes lê in die wyn
dadelwielekoekies al die pad na Mpekweni
die resep wou sy nie vir enigiemand sê nie

al die geure onthou ek
al die flops opgeëet
of die warm korshoek van die beskuit waarvan sy niks wou weet

so in die nagte wanneer hy sy koerant sou lees
was haar slaaptydleesstof ‘n resepteboek gewees
met potlood in die hand
sterre gemaak op die rant
natuurlik verbeterings en veranderings soos sy dit sou maak
variasies wat vir haar beter sou smaak

en as ek nou soms ‘n volstruisnekkie van die been afgevlek het
onthou ek hoe my ma aan die “oxtail” lippe afgelek het

en hoe dit die een plek was waar ons mekaar gevind het
en verstaan ek haar beter
die vrou met die geure
vandat ek nou self kind het



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

'n warm gedig vol liefde en waardering vir 'n moeder en haar omgeesorg, dis rerig mooi beskryf!
12 jaar 10 maande 1 dag 19 ure oud


me
jy beskryf die geure so dat my mond skoon water!klink soos 'n lekker plattelandse basaar waarvoor sy bak. ek hou hiervan.
12 jaar 10 maande 2 weke 4 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :
Kos

Van ons ander lede

Toe Snoeks nog Snoekie was

deur Manie Jackson

“Toe Snoeks nog Snoekie was” Is ‘n storie wat vertel word deur die klein malteser, Snoekie. eindlik is die storie vertelle my ma , Babs Lourens. Dit is die storie van al haar mense en die ander diere wat op die kleinhoewe net buite Pretoria saam met haar gebly het. Dis werklike gebeure en mense, dit begin ongeveer in 1995 – oor ‘n tydperk van ongeveer 6 jaar, geen fiktiewe karakters nie, net die gebeure uit die jong hondjie se oogpunt.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar