Projek: FINALE PROJEK OP WOES – AFSKEID (2016-01-06 tot 2016-02-07)
Weergawe: 1
Aantal woorde: 384
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 05 Feb 2016
Sy is baie vies oor die stof teen haar lyf vaswaai.
Sy trek haar kopdoek reg en gluur Gatiep onderlangs aan.
“Ek sê djy, wane gat djy stop? Ek’s gedaan!”
Gatiep ruk soos hy skrik.
“Hemil Meraai,
ik seg da lat ik sal stop by die wegdraai na Lambertsbaai.
Sit nou ma stil,
want ou Koos raak bang elkerste keer as djy so gil!”
Saam beweeg hulle deur Doringbaai
en Koos, die donkie, word gestop by die wegdraai
na Lambertsbaai.
“Klim djy nou ma eerste af Meraai, voor die kar omkeer.
Da gat sit djy doer onne ‘n bos lat ek net gou vi ou Koos verlos.”
Meraai se oë spoeg vuur,
Gatiep maak haar moer nou lekker suur.
“Dink djy maskien ik’s dik lat ik die kar sil omkeer?
Hierdie blêrrie wa is lankal an’t verweer,
en as hy da uit mekaar moet val,
issit oorlat djy te sleg is om ‘n hammer op te tel!”
Gatiep maak geduld bymekaar en praat sag met Meraai:
“Ga sit doer onner doerie bos,
die koelte mag djou dalk van djou beneuktgeit verlos!”
Hardkoppig het Meraai in die skadu van die soutbos gaan skuil.
Sy was moeg en haar lyf so seer dat sy wou huil.
Toe kom Gatiep voor haar staan,
in sy oë kon sy sien hy’s ook gedaan.
“So kô alles ok tot ‘n ent.”
kom Gatiep se woorde deur die sweet.
Meraai kom met moeite orent.
“Waava prat djy Gatiep?” wil sy weet.
Meraai sien die geplooide hand wat aan haar skouer vat
en wegly na die harde grondpad
waar ou Koos lê.
Op sy rug, staan die sweet blink
en Meraai sien dood in sy oë wink.
Weer sien sy hoe geplooi is die hand
wat Gatiep na haar toe uithou.
“Kô Meraaitjie, vat my hand,
want dis nog vêr oor die warm sand.”
So, in die Suidooste wind se waai
stap twee ou mense op die spoorwegpad na Lambertsbaai.
Net voor ou Koos sy oë toemaak
sien hy iets wat sy donkiehart aanraak:
die rooi in die lug is nie van die skemer se gloei,
maar van ware liefde wat uit twee ou harte vloei.
En so in die wind se waai
blaas ‘n donkie sy asem uit
duskant Lambertsbaai.
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die gedig
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie gedig
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae