Gedigte

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kaalvoet kind
grond vasgebind
hardloop kaalvoet in die reën
gly, gly val jy op jou skeen
tone rooi op wit gerypte gras
trap in warm beesmis spore vas

Kaalvoet boere kind
aan grond vasgebind
moeg ratkar esse gekap
sit op boonste sport waenhuis trap
rook kamtige bloekomtol pyp
kyk skaapskeerders skêre slyp

Skaapwolvet kaalvoet kind
aan skaapskeerstoor vasgebind
trap skaapwol in bale vas
wolbale styf soos stywe reistas
dorings uit wol in kaalvoete ingetrap
met naald in aande uit voet gekrap

Seervoet kaalvoet boere kind
aan grond se koringland vasgebind
sleepvoetend deur dubbeltjie plate
gerwe dra deur heuwels en gate
stoppels het arms bene rou gesteek
in badwater is dit ‘n gekerm, gesmeek

Modderige kaalvoet boere kind
aan leidam se waterrand vasgebind
pluk jy waterblomme met blikskuit
op damwal drink koffie en beskuit
vang damvissies garing en speldhoek
huismense roep die waterblomme soek

Vegtende kaalvoet boere kind
aan hierdie grond vasgebind
hou akker en kleilat gevegte
totdat een afkom die slegste
die dag is hopeloos te kort
skoolvakansies nou ook vort

Arme eensame ou boere kind
hierdie gedagtes is vir ewig vasgebind
die lewe skop trap gooi stamp jou
jy soek iets om aan vas te hou
die lewe gee jou ‘n Goddelike maat
wat altyd bystaan luister ophelp en gee raat



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kaalvoet
Hierdie is baie diep uitgehaal, verbeel ek my of is hier bietjie heimwee ook ingemeng? So goed om weer iets van jou te kan lees :)
4 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 6 ure oud


kaalvoet
Meegevoer met jou gedig..bring ook baie onthou terug.
Dankie
4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 1 uur oud


boerkind
Soos Carma ê hier is n groot hunkering in hierdie werk wat jy op n meesterlike wyse uitbeeld
4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 5 ure oud


Kaalvoet
Ek het baie herinneringe van die geboorteplaas in my opgesluit Die staat het die pragtige geboorteplaas in 1972 gesteel en onteien vir die Helderstoom gevangenis Die swaarste dag in my lewe was toe ek my pa by Falkenberg moes gaan inboek. Ja my pa se eerste woorde nadat ek hom by Falkenberg gaan haal het omdat hy van sy kop af geraak het en ons besef het hulle kan niks meer vir hom daar doen nie oor die onteiening van die familieplaas het hy gese na sy dood sal hy daar gaan spook. So ek glo sy spook loop nog daar rond en so sal myne ook seker maar eendag. Al is dit in die woorde wat ek skryf.

4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 6 ure oud


Ano
Kaalvoet
Dit klink nou soos iemand wat die mooi en gratis geskenke uit die lewe kon raaksien en pluk. x
4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 10 ure oud


boerkind
wow hierdie is so mooi en nostalgies gepen... pragtig Schatz, solank ons nog die onthou oorhet, sal ons altyd in ons harte boerkinders bly ....
4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 13 ure oud


boerkind
Ai, schatz . . . ek lees darem 'n GROOT hunkering hier raak tussen jou woorde :-) en al was dit nie aldag maklik om 'n boerseun te wees nie het jy nou die wonderlikste herinneringe. Ek het jou gedig regtig baie geniet :-)
4 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 15 ure oud



Van ons ander lede

Kroniek van die Suid-Afrikaanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Geskiedenis van die Suid-Afrikanse Weermag vanaf 1912 tot sy ontbinding in 1994



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar