Gedigte

Titel: Kolmanskop
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



In die suide van die Namib
waar die son steeds bloedig skyn
net 'n entjie oos van Lud'ritz
in die heet van 'n woestyn

pryk vandag net die murasies
(uit tye baie lank gelee')
van eens swierig herehuise
aan sand en duine oorgegee.

Sonder slot en sonder grendel
staan geboue leeg en kaal
soms dans nog net die spoke
oor die stofvloer van 'n saal.

Hol geraamtes uit vervloeë
struktuur in hout en steen en staal
hospitaal, fabriek en kroeë
vertel in stilte die verhaal

van die rykdom in die klippies
wat verstrooid was oor die sand
en 'n myndorp in die Namib
tussen niks en niemandsland.

*

O, Kolmanskop
so vol van weelde
gekoop met skitter diamant
hoe glorieloos was toe jou einde . . .
'n blote bouval in die sand.







C. Shaw
27 Oktober 2015




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kolmanskop


Hierdie nou eers raakgelees. Pragtig, en 'n deur-endeur verdiener van eerste plek. Baie geluk my meisie!
5 jaar 2 maande 3 weke 6 dae 19 ure oud


Kolmanskop
Pragtig. skoon op n droomvlug geneem.
5 jaar 2 maande 4 weke 22 ure oud


Kolmanskop.
Hierdie gedig van jou verdien werklik die eerste plek. Baie geluk.
5 jaar 2 maande 4 weke 23 ure oud


Kolmanskop
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BOUVAL EN WRAK projek.
5 jaar 3 maande 2 dae 22 ure oud


die weervoorspelling
ek hou hiervan.

,,en toe het jou kroee stil geraak...

goed geskryf.
5 jaar 3 maande 4 dae 3 ure oud


Kolmanskop
Pragtig. Raak beskrywing van die eens glorieryke tyd en die verlatenheid soos dit vandag daar uitsien.
5 jaar 3 maande 4 dae 3 ure oud


kolmanskop
Laat me so dink aan die horede verlate spoorwegstasies wat nou net murasies is, getuies van n era wat was
5 jaar 3 maande 4 dae 7 ure oud


Diamant
Nou trek my hart darem met 'n punt daar na my hartland. Jy het dit só mooi beskryf.

Kolmanskop is ongelooflik . . . dit het vir my gevoel of ek net daar, net dáár wil bly. En jy het dit wat ek in my hart voel, vasgevat in hierdie verse.
5 jaar 3 maande 4 dae 7 ure oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar