Gedigte

Titel: Lucretia

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

1
Die man waaroor ons vandag gaan praat,
Sextus Tarquinius, se pa se eerste naam
was Lucius. Hy was 'n man van wrede daad,
'n regte bliksem, so sal elk’ Romein beaam.
Hy’t sy skoonpa doodgemaak, en hom nie geskaam
toe hy sy kroon gevat het sonder om die volk te vra
of hy voortaan die titel “koning” mog kon dra.

2
Die appel val nie ver van d’ boom nie, en so was
Tarquinius ook vir groot gemeenheid voorbestem.
Dit het so gekom: Tarquinius se pa het hom die las
gegee om Ardea te verower: in kettings vas te klem,
die land te plunder, geld te vat, en elke stem
van teenstand stil te maak. Tydens die beleg,
een aand, in Tarquinius se tent, loop dinge sleg.

3
Hy en al sy aanvoerders, waaronder Collatinus,
(nog al 'n hegte vriend van hom) het goed geëet
en, helaas, ook goed gesuip tot eer van Bacchus.
Nou praat hul sport, spog hoe hulle perde sweet
as hulle resies jaag, en stry oor alles; en u weet,
op die ou end, soos vandag, praat hul oor vroue,
en verdryf met drank tot laat die nag se koue.

4
Hul stry oor wie se vrou die meeste deugde het.
Kan u glo? Vir daardie tyd was dit gepas, gewis.
Maar dis verstommend dat 'n veldheer vreugde het
met sulke twak. “Myne is die kuisste!” sê Tarquinius,
“Nee myne is!” brom sy hofnar, Junius Brutus.
“Julle weet nog niks” waag Collatinus dit te sê,
“My mooi Lucretia is 'n sierraad wat elke man wil hê!”

5
“En”, so voeg hy by, “nooit, ooit, sal kry nie!”
“Kom ons ry en ons gaan kyk!” roep Flavius’ seun.
Collatinus, dwaas, kon jy nie liewer stilbly nie?
Oor hierdie ydelheid van jou sal hele Rome ween!
So gesê en so gemaak. Hul gryp hul perde en teen
die nagwind jaag hul na Collatium, 'n goddelose stoet,
en eers naby die poort verminder hulle spoed,

6
In donker duister sluip hul na die eerste huis,
díe van Brutus, die edelman wat mal speel.
Sy vrou hou iewers paartie, en is glad nie tuis.
Dan na Flavius’ woning. Daar sien hulle hoe, heel
kaal, sy vrou en haar vriendinne in die swembad speel.
By Tarquinius se paleis hoor hul van ver af die rumoer:
dit sing, dit drink, dis dronk; en helfte op die vloer.

7
Dan, na waar Collatinus bly, beweeg die stil konvooi.
Dis doodstil daar. By net een venster skyn 'n lig.
Hul loer: Binne sit Lucretia - o, hemel, maar sy’s mooi! -
en weef 'n mantel vir haar man. By haar, wat 'n fraai gesig,
sit haar diensmeisies, en spin die sagste drade dig.
Dan sê die mooiste stem, soos goue klanke van 'n lier:
“Gou maak meisies! My Collatinus is dalk eersdaags hier!”

8
In dowwe glans van maanlig oor Ardea kom hul terug,
versonk’ in diep gedagtegang oor elke tafereel.
Almal eens: oor Collatinus skyn ’n hemels’ liefdeslig -
volmaakte lyne in Lucretia’s sag gelaat, in heel
die wêreld is geen mooier, en net hy mag met haar speel.
Maar vir Tarquinius word die skone beeld 'n vuur
wat wellus voortstu en geen teenstand sal verduur.

9
Tarquinius, watter oerdrang woeker in jou lende?
Watse bose passie doof nou skaamteloos jou rede?
Watter drif dryf jou om díé skoonheid te skende?
Watse dwaasheid doem jou toekoms in jou hede?
Watse onheil hang oor kuis, beskaafde vrede? ...
... Dan kruip Tarquinius tog vasbeslote uit sy tent
om sy skrede weer na Collatinus’ huis te wend ...

10
Tarquinius, jy sal dat jou naam gaan sterf!
Hierdie sotheid wat jy reken jy kan pleeg -
geen seun sal so’n naam van skande ooit wil erf!
Jy maak die boeke van die naam “Tarquinius” leeg!
Is daar niks wat jou bedoeling weg kan veeg?
Kyk: iets hou hom terug: sy hande sweet van twyfel,
sy asem jaag, hy kners van vrees .. hy weifel ...

11
Maar magsug, eiewaan en arrogansie neig -
en is gewoond – om altyd te kry wat dit wil hê,
al moet dit steel, bedrieg en lieg en dreig.
En prooi soos mooi Lucretia, het net niks te sê ...
Só kom dat deug en onskuld voor verraad gaan lê;
’n vuil verraad gedrewe deur 'n bose mag
om ’n duiwelsding te doen in duister van die nag

12
Toe hy daar kom, vermoed sy geen verraad -
hy was tog veldheer wat net ‘n tyding bring
van die beleg. Dit was selfs ’n eerbaar daad
om Collatinus se dapperheid te kom besing.
Op die manier het hy hom geslepe ingedwing.
Na kosgee maak sy ’n slaapplek vir hom reg
en stap niksvermoedend na haar eie kamer weg.

13
Die hele huis is stil wanneer Tarquinius
opstaan, ’n lamp vat en dan diep die nag
stil-stil sluip na waar Lucretia saggies rus -
onbewus van die onheilig hel wat op haar wag.
Vir ’n wyle staan hy haar skoonheid en betrag,
dan skrik sy wakker as hy aan haar raak ...
sy probeer vergeefs haar toe te maak ...

14
“Bly stil of ek maak jou dood hier op die daad,
en speel nou saam dat ek my sin kan kry.”
“Nooit! nooit! Los my!” smeek sy, en praat
en soebat deurmekaar. Hy probeer haar vlei ...
“Jy is so mooi, ek het jou lief. ek maak jou vry”
“Nee! Loop nou liewer! Wat sal die mense sê?”
“Niemand sal ooit weet nie, gee nóú wat ek wil hê!”

15
Hy dreig: “Anders vat ek dit, en maak jou dood
en vermoor dan ook ’n kneg en bring hom hier,
en lê sy naakte liggaam oor jou dooie skoot” -
hy beef en sis en kners terwyl hy woedend tier,
en sy in haar hart ’n helse angs verduur -
“dan”, grynslag hy, “sal ek die wêreld sê
ek het jou betrap waar jy in skande lê!”

16
Toe wis sy sy is magteloos en in ‘n hoek,
’n wreed, afgryslik lot die staar haar in d’ gesig,
en daar’s nêrens waar sy hulp kan soek.
(Oor wat toe gebeur het, lees Ovidius se gedig.)
Voldaan vlug Tarquinius in die duister terug,
en sy, gebroke, gemergeld, gebrandmerkt’ mens
dwaal rond, sy yl, sy ly ... te sterf, dis wat sy wens.

16
Toe dit lig word, kom haar bediende binne.
Sy skrik toe sy Lucretia sien: vervaard en bleek:
“Wat het gebeur?” Lucretia stamel hortend sinne
oor die droewig lot wat heel haar wese breek,
en van ’n plan hoe sy haar eer gaan wreek.
“Stuur ’n bode na Ardea en laat my Collatinus kom,
en gaan haal dan ook my vader, saam met hom.”

17
Gou is hulle daar en tref haar aan, verward,
Sy lig hul snikkend in, vertel die aaklige verhaal:
die rede vir haar skrynend’, skroeiend’ smart.
“Wie was dit?” fluister hul, te bang vir asemhaal.
“Beloof my eers dat jul hom duur sal laat betaal ...
ja, sweer eers wraak teen die verfoeilik’ smet
wat my en ganse Rome in 'n rou gedompel het!”

18
Natuurlik sê hul almal met 'n kopknik “ja!”
Sy noem die naam ... Die skok tref elk gelaat;
Hy...? Hy, die man wat naam van koning dra?
In swye broei daar wrewel en ’n koue haat.
En dan, terwyl hul nog so spraak’loos staat
neem sy ’n dolk en ploeg dit in haar hart,
en gee haar man, en vader, nog meer smart.

19
Brutus is die eerste wat tot sy sinne swoeg:
“Hiervoor sal Tarquinius en sy gespuis moet boet!”
sis hy. Want sien, die Romeine was al moeg
vir al die konings se korrupsie, selfsug, bloed.
Die tragies’ voorval gaan hy gebruik, so goed,
dat hy Rome uit sy louheid reg kon ruk
en vir altyd kon verlos van die despoot se juk.

20
Hy spreek: “Collatinus, eggenoot, Lucretius, vader!
Laat my toe om haar geskonde eer te wreek!”
Vir knegte wink hy “Bring ’n draagbaar nader!”
Diensmeisies kleed haar dig, wyl hulle harte breek.
Hulle dra haar skouerhoog, deur woede aangesteek,
en deur die strate van die stad beweeg die stoet,
die mal-gewaande Brutus voor, die man met moed.

21
Hy blik na links en regs en wink die skare “Kom!”
tot by die forum, waar hy op die trappe troon.
Luid spreek hy: “Ek is nie mal nie, speel net dom,
want ek is ver familie van die koningskroon
en vrees my lewe as ek by Tarquinius woon.
Om Rome nou van ...” (hy sug, die spel’tjie is verby)
“ ... die vuilgoed te verlos, moet ek julle stemme kry!”

22
Hul staar verbyster, opgesweep, die hele spul,
na Lucretia s’ lewelose liggaam op die baar.
“As dít is wat ’n koning doen, is ons klaar met hul!”
Plebejer én Patrisiër stem toe vir ’n republiek, net daar,
(baie in die storie is ’n mite, maar dít was waar)
en vir Lucius Collatinus en Junius Brutus, die einste hy,
as die eerste konsuls om die volk se republiek te lei.

23
Die Tarquinius-familie is toe uit die Ryk verban;
en vinnig na Ardea het kwaai Brutus hom gehaas
en daag Tarquinius tot ’n antwoord, as hy kan ...
Maar voor hy sy gruweldaad nog kon relaas
het hy reeds, helaas, sy laaste asem uitgeblaas,
met Brutus’ swaar, versierde vlymskerp swaard
diep deur sy ribbes in sy borskas, tot in sy hart.

24
(Nou moet ek sê: nóg Ovidius, nóg Shakespeare
het hierdie laaste bloedig’ insident verhaal.
Maar ek kyk ook flieks, en ek moet dit respekteer
dat 'n booswig en 'n boef hul skuld sal moet betaal
met baie vloeiend bloed, en geeste wat daar dwaal.
So eindig dan Lucretia’s teer verhaal; wel yl,
maar dit pas by Paramount en Kinekor se styl!)



Kommentaar

Lucretia
Wat 'n reuse, grootse werk! Sjoe, ek haal hoed af vir hierdie wonderlike poging. Die Romeinse geskiedenis het my nog altyd aangetrek, en om die hele verhaal in digvorm te lees is 'n bonus. Dit is werklik knap geskryf en is 'n werkstuk om met reg trots op te wees. Puik!
11 maande 2 weke 1 dag 4 ure 48 minute oud


Lucretia...
'n Epiese gedig, waarin die leser vasgenaal sit en asem ophou. Voorwaar 'n uitstaande verhaal wat perfek in woorde en beelde vasgepen is. Puik werk!!
11 maande 3 weke 4 dae 4 ure 11 minute oud


Lucretia gewreek
Sjoe, meesterlik gedoen Vesting. =) Dit speel inderdaad af soos `n rolprent voor my geestesoog. Goed geskilder en pragtig berym.
1 jaar 3 dae 45 minute oud


verhaal
ek kan nie raad gee nie maar het elke vers weer gelees en dit net soveel geniet.
1 jaar 3 dae 17 ure 36 minute oud


Lucretia
Ek het heerlik gelees. Dit is verfrissend om die bekende, wreedaardige geskiedenis in jou lekkerlees digformaat te lees. Ek stem saam met Ontluiker dat meer dialoog gestalte aan die gedig sal gee. L.T.
1 jaar 3 dae 22 ure 4 minute oud


rex
Lucretia ...
Ag, jou gedig is pragtig, Vesting! Soveel moeite. Baie goed!
1 jaar 4 dae 3 ure 6 minute oud


...
...Sjoe, 'n meesterstuk!
Ek stem saam oor die oorbodige en ietwat '' atmosfeer -brekende 24 ste strofe ''

en Vlakvark, ek protesteer ten sterkste teen daardie uitlating! (in goeie luim natuurlik).....hierdie vrou was aan niks skuldig nie behalwe lojaliteit, deugsaamheid en respek vir haar heer en man (en ja skoonheid)...en daarvoor moet sy nou aandadig gehou word vir die val van 'n man of 'n volk ?? ...Allesbehalwe regverdig sou ek se !!!!

ammiemoon
1 jaar 4 dae 3 ure 31 minute oud


Lucretia
Vesting, Ek het die verhaal geniet en die stukkies wat die geskiedenis nie vertel wat jy self bygevoeg het, geniet.
Maar... soos altyd, het 'n mooi vrou weereens koningkryke laat tuimel. Leer ons arme mans nooit nie!?
1 jaar 6 dae 4 ure 35 minute oud


Gou-gou tussenin
Vergun my om gou tussenin dankie te sê vir die al kommentare, en te antwoord op die positiewe gedagte van Ontluiker. Ek stem heeltemal saam oor die laaste vers, nie alleen omdat dit deur tyd van die voorafgaande geskei word nie, maar ook en veral omdat daar ’n totale ander inslag is. Na 23 verse se groot erns kom ek hier met ’n ligte spot. iets soos ’n grappie, wat juis die atmosfeer wat ek in die gedig probeer skep, heeltemal kan verongeluk. Ek het self baie daaroor getwyfel, maar nou weet ek ek kan dit gerus uithaal in ’n hersiene weergawe. Ek sal graag wil hoor wat ander Woestelinge dink – dis mos waarvoor Woes is.
(Moet my ook nie vra presies wat ek in gedagte gehad het waar ek gesê het “vir meer besonderhede, lees Ovidius se gedig” [of so iets] nie.)
Oor jou ander stimulerende punte het ek lekker begin saamgesels, maar dit het te lank geword en ek sal dalk DV later in ’n rubriekie of oor ’n koppie koffie (maak dit drie) verder gesels.
Terloops. die omverwerping van die monargie in Rome het in ongeveer 508 v.C. plaasgevind – min of meer in dieselfde tyd as wat die Hebreërs juis by die profeet geneul het dat húlle ’n koning “soos die ander volke” wil hê. Dit laat mens nog al diep dink: van Teokrasie na monargie na oligargie na demokrasie – is die “beskawing(s)” nie besig om homself dood te bloei nie? Maar oor eeue heen, waar ’n rooibloedsel dit in dae doen ...
Naskrif: En Skymaster ("Wys jou net dat die geskiedenis hom altyd herhaal...tot hier in die 21ste eeu") moet kom saam gesels!
1 jaar 6 dae 7 ure 17 minute oud


Lucretia
Bravo vir hierdie vertel gedig! Dit het so reg in my kraal geval. Wys jou net dat die geskiedenis hom altyt herhaal...tot hier in die 21ste eeu.
1 jaar 6 dae 7 ure 37 minute oud


Amper 'n epiese drama
Na al die korterige gedigte op Woes is hierdie gedig soos die geelperske reen. Ek wens meer Woes digters wil jou voorbeeld volg.

Jy bewys goed dat jy die rymkuns onder die knie het. Die volgende groot uitdaging is nie oor iets te skryf nie, maar die deelnemers daarvan self te laat praat in digvorm. Ek dink bv. aan 'n Sheakspeare drama, maar nie op die patrone wat hy dit gedoen het nie.

Een ding hinder my. 23 verse het te doen met 'n gebeurtenis sowat 2000 jaar gelede. Die 24ste vers, behalwe vir die noem van Sheakspeare, gaan oor iets 20 eeue later. Ek sou die 24ste vers weg laat.

Mooi loop
1 jaar 6 dae 8 ure 59 minute oud


Lucretia
Puik.
1 jaar 6 dae 12 ure 4 minute oud


Z
Hierdie het ek nou geniet. Ek kon my in die gedig inleef en die storie volg asof dit voor my gebeur. Jou vertelling in rymvorm is goed en vloeiend.
1 jaar 6 dae 19 ure oud


Puik
Ek is nie vreeslik mal oor Geskiedenis nie maar selfs ek het hierdie baie geniet. Wens alle geskiedenis was so geskryf dan was ek veseker meer mal daaroor !
1 jaar 6 dae 19 ure 22 minute oud


Wel gedaan!
Ek verbaas my altyd aan die geduld wat skrywers aan die dag lê om so sorgvuldig te reflekteer op geskiedenis, mite en mitologie. Jou werk hieriin is uitstaande, wel verwoord, pregtig geskets dat selfs die minder geinterreseerde poësie leser ook die verhaal kan verstaan en geniet. Ek het heerlik hieraan gelees en is bitter trots op jou poging.
Baie dankie dat jy dit met ons gedeel het.
Prysenswaardig!
Groete
1 jaar 6 dae 22 ure 32 minute oud


die weervoorspelling
damn!
dit was nou n mondvol.
die verhaal in geheel goed uitgebeeld en verwoord.
1 jaar 1 week 34 minute oud



Die Ander Vrou

deur http://www.woes.co.za/

Die boek belig 'n wereld oue situasie uit die perspektief van die "ander vrou"- soos deur die vroue self vertel Die boek sluit ook perspektiewe deur 'n maatskaplike werker en 'n predikant in.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar