Gedigte

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek kyk om elke hoek, soek om elke draai,
my herinneringe aan jou het my verraai.

Soveel tyd verspil, soveel nooit gesê,
om jou weer te kan sien is al wat ek wil hê :
‘n trotse glimlag, ‘n tevrede kopknik,
so graag wil ek jou hoor sê :
“Mooi so, my kind”

Kom soentjie my beter, Mamma, die trane loop.
Ek voel so seer, onseker, Mamma, soms dood.

Tyd, onvervangbaar verloor, verby,
uit onkunde, Ma, het ek jou uit my lewe gesny.
Te vroeg het ek gedink : jou het ek nie nodig,
ek is sterk op my eie, ek bied geen verskoning.

Ek was reg, gee my die eer,
ek het myself bewys, keer op keer.

Maar ek was ook verkeerd, my liewe Ma,
materialisties, vals, geen waarde op die prys
van my krag, oppervlakkig, aards en dun.
Jy het my jou tyd aangebied, my liewe Ma,
maar ek het jou die deur gewys
en my tyd, Mamma, het ek jou nie gegun.

“Spyt kom te laat” het Ma altyd gesê,
het ek maar meer geluister - probeer verstaan,
het ek maar eerder gehuiwer - die woede laat vaar,
het ek maar meer gegee - minder verwag in ruil,
sou ek nou kon leef my liewe Ma, met minder huil.

My woorde het seergemaak, gebrand soos vuur,
eers nou begryp ek die pyn wat Ma moes verduur.
My tong was skerp, selfsugtig, Ma, dit weet ek nou,
al wat ek nou oor het, my liefste Mamma, is berou.

Ek het Ma veroordeel, sonder om enige tyd te neem
om die ware mens in jou ‘n kans te gee, te leer ken :
jou drome, ideale, het ons dalk iets gehad in gemeen?

Het ek jou maar minder van my lewe vervreem,
jou deel gemaak daarvan, jy wou so graag wees,
het jy dalk nooit jou eie lewe geneem
en was jy nog hier by my in vlees.

Maar spyt kom te laat, berou bring my nêrens,
met gister verby en more nog verlore tussen êrens
staan ek hier, my Ma, iewers in die middel
tussen ‘omdat’, ‘sommer’ en ‘ja-maar’
en ek weet dat geen verskoning
en geen hopelose verduideliking
die waarheid kan versteek of verbloem :
ek het jou verwerp, ek het jou die rug gekeer,
vergewe my Mamma, ek het jou verdoem.

In jou oomblik van nood, in jou laaste uur
sou ek jou kon help aanblaas jou lewensvuur.
Maar selfsugtig, ongeërg was ek in my omdraai,
ek het jou in geheel verwerp, verraai.

Twee harde koppe, ja, dit was ek en jy,
ons harte vir mekaar koud, onberykbaar, staal,
en in ons selfsug sou nie een die ander bevry.
Die minste wees? Nee, ons weeg eerder die skaal.

Tyd, jare, verloor in ‘n nuttelose stryd.
Geen mylpaal bereik.
Geen oorwinning behaal.
Net verlies, verwyte, ‘n hartseer verhaal.

Hier is ek nou, Mamma, hier is ek :
jou dogter, jou verlore kind,
oneindig lief vir jou,
ek roep na jou,
ek soek na jou,
gaan ek ooit werklik vrede vind?

Ek mis jou Mamma, ‘n eindelose verlange na jou.
Ek is jammer, Mamma, vergewe my, ek het berou.

Maar ek weet dat jy by my is, elke oomblik van elke dag.
In die oë van my kinders sien ek jou glimlag,
sien ek jou beskerming, jou liefde en jou krag.

In Sy ewige lig vind Ma nou rus
en ek my vrede.


Vir Olga Zeelie
20 November 1950 – 9 November 1991





Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

briefie
Mooi, eerlike rou emosie oor Ma. Min van ons het die moed.
4 jaar 7 maande 4 weke 1 dag 3 ure oud


Ek sluk-sluk swaar aan die knop in my keel. Ek is ongelooflik hardkoppig en sukkel om my Ma se klein oortredings teenoor my en my Pa te vergewe. Maak myself wys ek is die een wat reg is. Jy het my oë help oopmaak, die lewe is te kort en te kosbaar om die bietjie tyd wat ons saam het op onbenullighede te mors. Baie dankie!!! Ek is jou ewig dankbaar. Gaan sommer nou my Ma bel.
4 jaar 8 maande 2 dae 1 uur oud


rex
'n Briefie ...
Hoe laat jy nou sit en huil op hierdie Vrydagoggend!

En hoe waar, ek sou dit nie beter kon verwoord nie, maar ek as ek kon, sou dit wees wat ek wou sê.

Dit is baie, baie mooi!
5 jaar 2 weke 13 ure oud


ai dis baie mooi en baie hartseer, ek hoop jy vind op n manier vrede met haar heengaan....
5 jaar 10 maande 5 dae 6 ure oud


Oor Ma
Sjoe, wat 'n hartseer storie. Elke kind moet dit lees. Ek sien uit daarna om al daai "ou goed" van jou ook te lees waarvan jy op jou profielblad skryf.
5 jaar 11 maande 6 dae 4 ure oud


Briefie vir Ma
Waarvoor staan die "A"? Hierdie is 'n hartroerende gedig. Ja spyt kom altyd te laat. Kan mens regtig berusting vind na die dood van 'n geliefde? Ek kan sien die digter is/was in 'n sielestryd. Mens kan met deernis net saam met haar treur oor die verlede. Baie mooi gedig. Ek hoop nie dit is die laaste nie.
Groete, Chris
5 jaar 11 maande 3 weke 3 dae 5 ure oud



Van ons Premium+ lede

vir koeitjies en kalfies

deur DMJR

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar