Gedigte

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


sewe duisend glimmer korreltjies sand
kleef aan haar voete, haar hals, haar hand
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
duik in die see se silwer mond

nege duisend vonkel sterretjies
waterdans soos asuurblou pêreltjies
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
tuimel in die soutbad se holtes rond

een duisend meeue blink gevlerk teen blou
waar die hemel en die aarde lyf vashou
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
smeer 'n spoorlose strand pimpel en bont

vier duisend spieëls skyn deur brander-wit
waar nimfe in wind-dun strandstoele sit
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
speel kaalvoet in getye se gapende wond

vyf duisend diafaan-vlae soutlug en mis
kleef taaivinger aan 'n poeierblou nis
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
dolwe in sandkastele se nat-tonnel-grond

ses duisend skulpies tussen gruis en perlemoen
om 'n seestroom se skuimbek oopmond te soen
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
gaar edelmetale in die baldadige son

sewe duisend druppels teen 'n vroue-gelaat
wat 'n seemansbrief op haar vel agterlaat
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
kou kougom koue aan oggendstond

drie duisend prentjies in sand geteken
om te vervorm sodra 'n storm ontketen
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
wat giggel en lag uit omstanders ontlont

twee duisend skatte sou hierdie dag nie kon koop
waar 'n oggend sy some in oseaan-dieptes doop
twee sand engeltjies en 'n wit gevlekte hond
verkleur eiehandig 'n kuslyn tot bottel blond.


© 2011 Almarie Truter



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Oggend op die Strand
Ek sien hulle baie!
Hier in die strale van die oggend son
Die bikini blond met die bont hond,
soos hulle speel en baljaar - op en af
binne-in die see se sout.... dan weer
heen en weer hier op die strand se sand.

Het net iemand geskort om die storie te vertel
en dit het jy gedoen lank voordat ek hul spel,
maar sonder die mooi - aan almal kon oorvertel!
8 jaar 3 maande 1 dag 20 ure oud


Woord prentjie
Wonderlik om weer te lees, soos altyd skryf jy my stom en laat my tone krul van lekkerte.
8 jaar 3 maande 2 dae 12 ure oud


'n Oggend op die strand
Standhoudende en geloofwaardige paar rym. Geluk!

Die herhalende reëls is n goeie bindmiddel van die gedig as geheel - met telkens vernuwing daarin, wat dit red van stereo tipe wees!

Die strand en see atmosfeer word verbeeldingryk ingeweef: sand, water sittering, see-voëls, see-lug en mis en "twee see engeltjies en hul gevlekte hond" . Bravo!

Dit alles gee aan die gedig 'n mitiese atmosfeer, wat n fees viering word van die geseënde wêreld van see en waterkant.

Die strukteer van vier-reëlige verse, wat die seë en strand atmosfeer bind met die [vermoedelik twee menslike besoekers en hul hond] met die mens se genieting daarvan, asook die betekenis ketting wat uiteindelik uitloop in n samevattende slotvers, laat my letterkundige hart warm klop.

Dankie van hierdie mooi stukkie woordkuns!
8 jaar 3 maande 1 week 1 dag oud


See ...

Meer as 7 000 glimmer korreltjies sand
Meer as 9 000 vonkel blink sterretjies
mooier as wat ek die mooiste asuurblou pêreltjie kan droom

.... mooier as al dit is hierdie gedig vir my
8 jaar 3 maande 1 week 1 dag 13 ure oud


Hoendervleis!!
Letterlik 3 keer wilde hoendervleis gekry met die eerste lees van die gedig.
Ek het vir 'n oomblik gedog daar kom 'n draai in die gedig by die sinistêre "Wond" in
"speel kaalvoet in getye se gapende wond"
maar toe nie (dis eintlik klaar amazing hoeveel "-ond" rymwoorde jy kan gebruik sonder om enigsins te forseer - so ek vergewe jou daai een)

Ek laaik jou beskrywing van bibberbek as "kou kougom koue aan oggendstond" (het ek reg verstaan?)
Elke strofe het net 'n raakvat-vergelyking!
8 jaar 3 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


=)
Laat my nou terug dink aan verlede Son ogg toe ons op die strand gaan loop het.. pragtige werkstuk. lekker vloei en lekker lees.
8 jaar 3 maande 1 week 1 dag 20 ure oud


Kommentaar

". . .smeer 'n spoorlose strand pimpel en bont. . ." 'n Pragtige gedig!

Vonnie
8 jaar 3 maande 1 week 2 dae 1 uur oud


Sandengeltjies
Lieflike woordkeuses, 'n mens voel die vreugdes en blydskap aan!!
8 jaar 3 maande 1 week 2 dae 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

The Road to Eden

deur Rachelle du Bois

Once rich and still beautiful, Eve Vermont’s life was in tatters. She found a job as house manager with the wealthy and powerful Blythe family. She soon realised that the compelling Adam Blythe was determined to uncover the painful secret of her past. She was forced to accept that he wasn’t going to stop until he knew what brought her to Oak Manor but was she prepared to open up and allow him to know her as he intended? Or would she keep hiding from Adam and the world? Adam Blythe found a stylish, beautiful and mysterious woman in his home. As house manager. She was totally unsuitable for the job, and he felt compelled to find out more about her. And as he uncovered the layers of this incredible woman, his love for her grew and he knew he had to keep her at Oak Manor at all costs. But would she stay?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar