Gedigte

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


die nag het skielik leeg geword
waar woes was, is nou niks
ek soek die nuutste werke
ek scroll my epos t'rug

is daar dan niemand wat wil luister
(ek beloof om sag te fluister)
dis bloot maar 'n gedagte
wat ek graag met jou wil deel

en dit mag jou dalk verveel

maar
ek eet waatlemoen
in my blou kombuis
ek hou van coke
en ek braai soms vleis

ek sit op my stoep
as ek koffie drink
daar waar die maan haar lig
oor my uit kan skink

dis appelkooskonfyt
op hierdie dik sny brood
die honger is min
maar die lus so groot

my hond is swart
my brak is wit
hy's die een wat dit lief
om teen my aan te sit

my rug wys suid
my oog kyk noord
al sukkel ek hoe
ek sukkel steeds voort

(ek vind vreugde in my platberg
en in die steenboklam se oor
in die sweefvlerk van 'n arend
en in reënpaddas wat koor)

ek het 'n tafel
ek het 'n boom
dis daar waar ek sit
as ek net wil droom

ek vra te veel
ek wil vir ewig leef
maar mag ek eendag wel
oor my suidland sweef
in 'n helderkleurig lugballon
deur die potblou hemel
. . . onder Afrika son

*

ek lê my woorde voor jou neer
dalk vanaand
vir die laaste keer
hier te midde
van die donker uur
flikker my vlam . . .

maar blus die vuur






C. Shaw
15 Januarie 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Net voor ek gaan...
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die AFSKEID projek.
3 jaar 4 maande 2 dae oud


Afskeid
Mooi mooi, goed raak gevat, puik skryfstuk !
3 jaar 4 maande 2 dae oud


Jislaaik ...
... hoe hartseer voel ek nou ...
3 jaar 4 maande 2 dae 17 ure oud


gaan
En die herinneringe sal staan al is dit daar saam met jou uitskink maan. Regte tranetrekker wat jy hier gepen het. Dankie weereens aan Carol, Kiekies, Willem en Anze ons waardeer opreg wat jul gedoen en opge-offer het. Totsiens maar nie vaarwel.
3 jaar 4 maande 5 dae oud


Gaan
Skitterende werk.... my groete ook aan Woes en dankie vir die geleentheid om al julle puik skrywers se werke te kon geniet. Ek hoop daar is 'n nuwe begin soos Kiekies dit noem -
3 jaar 4 maande 5 dae 4 ure oud


Net voordat
Pragtige skrywe.
Ja woes was spesiaal. Nie net in vriende nie, maar ook in die uileg van die web, die hulp en veral die mense. Ons sal sekerlik nie weer 'n rusplek vind met Woes se kwaliteit nie!!!
3 jaar 4 maande 5 dae 7 ure oud


Net voordat ek gaan (stuur seblief groete aan Woes)

Wat ;n Swanesang op Woes!

Vreeslik dankie vir elke werkie van jou wat ek kon lees, kon koester en bemymer.

Voorspoed my kind.
3 jaar 4 maande 5 dae 13 ure oud


Groete
Uitmuntend, fabulooslik, wonderskoon, puik! Ons sal beslis 'n ander plan moet maak. Dalk is die einde van Woes 'n deur na 'n nuwe begin!
3 jaar 4 maande 5 dae 20 ure oud


Ano
Gaan
Ag nee genadetjie Viooltjie. Dat jy my nou so vroeg in die oggend kom herinner hoeveel ek hierdie mense met hul skrywes ook gaan mis! Ja, die liewe fb - daar het ek al 'n paartjies opgespoor :-D
3 jaar 4 maande 6 dae 2 ure oud


Ja...
Wat jy sê is waar. Vir my was dit ook 'n waterskeiding. "Voor Woes" en "Toe was daar Woes..."
Vir iemand wat vir die grootste deel van sy lewe kreatiwiteit onderdruk het, was Woes 'n platvorm om iets te ontwikkel wat gebrand het om uit te kom.
Woes was woes. Dit is anders as "sosiale media" dit gaan oor die kuns, die skepping van iets nuuts, nie oor die persoon agter die pen nie, maar oor die bloed in sy/haar are wat deur die pen in ink verewig word. Geskrewe woord is anders as die klank van stemme. Dit gee die leser die vryheid om self die nuanses en bedoeling agter die letters in te vul. Dit praat met jou hart sonder dat jou ore dit kan filter.
Dankie vir die afskeidsbrief. Dit vertel dit soos dit is.
Viootjies is die voorhuis, viooltjies wit en blou...
Dis nie die maand Oktober,
dis nie die mooiste maand,
maar ek hou steeds van die gedigte van jou...
3 jaar 4 maande 6 dae 3 ure oud


chaud, scho, sjoe, shaw
Tja!

En ek sê, vaar moet ons vaar,
en sonder ongeval is wel.
VAAR aldus WEL
TOT ons mekaar weer SIEN.

(Eintlik het ons nie 'n woord vir
onvermydelikafskeidneem nie;
altwee vorms dra die hoop
dat die toekoms iets nog kan bring!)

Ek ok.

GvT
3 jaar 4 maande 6 dae 9 ure oud


Afskeid
Ek stem 1000% met Karmenaadjie saam.
3 jaar 4 maande 6 dae 21 ure oud


Afskeid
Dit is wat alles so hartseer maak. Al hierdie mooi gaan verlore en dis n jammerte dat iemand nie dit kan oorneem nie. Gelukkig het ek jou digbundel om te geniet vir altyd
3 jaar 4 maande 6 dae 22 ure oud


gaan
Ons paar nog fb carma ek gee m y laaste diamant vir jou vir hierdie werk
3 jaar 4 maande 6 dae 22 ure oud


die weervoorspelling
jou verse breek droogtes.
keurig en ryk en reik en slim verwoord.
3 jaar 4 maande 6 dae 22 ure oud


voordat ek gaan
"ek lê my woorde voor jou neer
dalk vanaand
vir die laaste keer
hier te midde
van die donker uur
flikker my vlam . . .

maar blus die vuur"

Wow. Pragtige werk. Mooi aan die donker kant van afskeid neem.
3 jaar 4 maande 1 week oud


Sjoe
Baie dankie Carma,
en so sluit jy dan af met jou puikste werk ooit!
die eenvoud loop oor na die grootheid van die afskeid
vaar wel, maar nie totiens!
3 jaar 4 maande 1 week 1 uur oud


***
Dankie Carma. Onthou, daar is altyd Facebook...
3 jaar 4 maande 1 week 1 uur oud


TK
Net voordat ek gaan
Pragtige werk Viooltjie

Die kuber ruimte gaan leeg wees sonder Woes. Ek, en ek dink baie ander gaan dit vreeslik mis. Ek het soveel gegroei met my skryfwerk die laaste paar maande. Dit sal heerlik wees om steeds met almal in kontak te kan bly.
3 jaar 4 maande 1 week 2 ure oud


Woes
Ai, skryf jy my alweer in trane in!! Pragtig.. Gelukkig glo ek ons sal nog baie uit jou pen sien!
3 jaar 4 maande 1 week 2 ure oud


Woes
Baie, baie dankie aan Willem, Carol, Lynette, Mandie en al die ander mense wat 'n bydrae gemaak het om Woes vir ons te bied. Dit was 3 jaar en vier maande wat my lewe verander het. Daar sal altyd vir my 'n VOOR WOES en 'n NA WOES wees. Woes het vir my 'n stem gegee. Ek het geleer om my sê te sê. Ek het nuwe vriende gemaak (en soms amper 'n vyand:-)) dit het my goed gedoen. Ek is nou ryker as voor WOES.

Aan ieder en elk wat my digsels gelees het, kommentaar of kritiek gelewer het, aangemoedig het, raad gegee het, saam gesels het - my heel GROOTSTE dankie.

My epos indien enigeen belangstel: countrycraft@telkomsa.net

Mense sê vaarwel
maar vaarwel's te swaar vir my

Koebaai:-)
3 jaar 4 maande 1 week 7 ure oud


"chaud" (Sjoe!)
Briljant!

(Dit voel vir my jy het met al hierdie woorde en beelde hier te doen, sonder dat jy noodwendig wou?


In Frans spreek mens "chaud"/warm "sjo" uit . . . dis sekerlik waar ons woordjie "sjoe" vandaan kom! As dit 'n vroulike ding is wat warm is, is dit natuurlik "chaude"= "sjod" uitgespreek! Die eerste spelling en uitspraak is vir 'n manlike warm iets.

En "vuur" "is "feu" (manlik) en dit word amper soos wanneer ons 'n kersvlam doodblaas uitgespreek: "fû".


Die vlam flikker en word "fû" uitgeblaas . . .)

Maar dit terloops . . . ek wou eintlik net sê: Nou sluit jy af soos 'n koningin van die digkuns:

"ek lê my woorde voor jou neer
dalk vanaand
vir die laaste keer
hier te midde
van die donker uur
flikker my vlam . . .

maar blus die vuur"

En ek pink 'n traan.





3 jaar 4 maande 1 week 7 ure oud



Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar