gedagtes in ink
op papier kom skets
soveel hoekom en waaroms
in die lewe sonder antwoord
soveel rou sere
waaroor rowe
nie wil groei
herinnerings koggel
van agter geslote hartsdeure
as emosies in bankrotskap klop
aan jou hart se binnedeur
en jou hart makou-hees huil
as jou hart stukkend skeur
oor dit wat was en
dit wat steeds moes wees
soveel seerkry paaie
onverstaanbare padpredikante
om die weg te wys
kwetsende haelbuie
oor ons lewenspad gesaai
waar ons die redes slegs moet raai
nooit weet uit watter rigting
die wind volgende sal waai
verlange wat jou jaag na toring-rotse
waar see-sproei met jou trane kan meng
die wind se sout-asem jou verlange tem
mag die swaeltjie in sy vlug vir jou antwoorde bring
oor hoekom daar nie rowe oor die sere wil groei
die eelte op jou knieë vir jou genesing bring
© Anzè Bezuidenhout
* Soms gebeur dinge in 'n mens se lewe wat jy glad nie verstaan, soos die dood van 'n geliefde. Hierdie vers word opgedra aan elkeen van ons wat al by die oop graf van 'n geliefde moes staan ... vandag verlang ek sommer net na my oorlede moeder, ek kan steeds nie verstaan hoekom haar aardse reis moes eindig nie...
Lees ander gedigte deur Anze Bezuidenhout
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die gedig
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie gedig
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae