Gedigte

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


wanneer die winterson
– laatmiddag –
haastig na benede sak
en die laaste strale
lou en goud
op jou stoep
en teen jou mure bak

dan wonder ek . . .

wie het jou gebou
wie't jou stene op mekaar gepak
sement so ru
teen mure aangeplak
wie het die pleisterwerk gedoen . . .
by watter naam sal ek hom noem
díé een met druppels sweet
wat teen sy voorkop blink
wat met sy hamer
die spykers in dakplate sink

en had hy ooit 'n vrou gehad
op wie hy werklik staat kon maak
en hoeveel kinders in hul kroos
en was daar liefde in die huis
en verdraagsaamheid?

ek wonder ook oor rose . . .
het hy dan nooit eens een geplant?
net ry op ry laventelbosse
op die land

en wat van al die bye
het hulle hom nie mal gemaak
terwyl hy deur pers blomme loop
of . . .
kon hy heuning uit hul korwe stroop
en kon hul só in simbiose leef –
mekaar die ongerief vergeef

en was daar
met elke nuwe môre-stond
die geur van laventelbos
in sy neus en in sy mond
en het hy vrede uit sy dag kon put
sawens . . .
wanneer hy aan tafel sit?

*

wanneer winterson
– laatmiddag –
haastig na benede sak
en die laaste strale
lou en goud
op jou stoep 
en teen jou mure bak

dan wonder ek . . .






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

.
Dis pragtig.
Daar is 'n storie aan alles! -aan almal.
Mens kan altyd wonder en altyd vra.
5 jaar 11 maande 3 weke 1 dag 3 ure oud


Gedig
Amper vergeet ek..
Goeie gedig! :-D
(En die prentjie gee baie gevoel vir die inspirasie.)
6 jaar 10 maande 5 dae 21 ure oud


Laventel
Dalk het die ou wat daar bly net 'n klein stukkie grond.. Nou plant hy elke beskikbare deel met laventel. Hulle sny dit af en kook dit in 'n stookketel, dan vang hulle die vlugtige olies op en gebruik dit in die vervaardiging van parfuum en seep en handeroom ens. ;-)
Op besproeïngs-skemas waar persele klein is en die grond duur, is die tuine beperk, die koring/mielies/lusern word tot omtrent teen die voor- en agterdeur geplant. Die blomme (As daar is) is in 'n paar potte op die stoep... ;-)
6 jaar 10 maande 5 dae 21 ure oud


Murasies
Ek wonder dikwels oor murasies so in die verbyry.
Daar het mense gewoon wat gelag gespeel GELEWE het.
As hulle maar kon praat, daardie murasies. 'n ryke skat.
Wat gaan ons murasies eendag van ons vertel.
my diep laat dink hierdie gedig van jou.
6 jaar 10 maande 6 dae oud


Fantasties!
Puik! Soos daardie laventellap rondom die huis...
6 jaar 10 maande 6 dae 7 ure oud


***
Dankie Viooltjie -- dit laat "die geur van laventel
in my neus en in my mond" -- mooi so.
6 jaar 10 maande 6 dae 13 ure oud


Tussen
Dis 'n baie mooi gedig Viooltjie :)
6 jaar 10 maande 6 dae 16 ure oud


huisie
Ek ditto die res en mooi gebruik van sintuie. Knap gedaan.
6 jaar 10 maande 6 dae 19 ure oud


*
Wow! Ek stem saam met Carol! Dit is absoluut puik! Encore!
6 jaar 10 maande 6 dae 21 ure oud


Laventelboshuisie
Pragtig!!!! Hierdie gedig is een van die bestes wat jy nog geplaas het. Boekmerkgedig!!!
6 jaar 10 maande 6 dae 21 ure oud


Geheime huisie. . .
Dankie vir jou mooi en diep beskrywing. . . Oor die pers laventelbosse wat vir my 'n dieper betekenis inhou en ja, ook enige ander blom en ook die van 'n viooltjie?! Die laventelbosse van die lewe.

En ja, ook hou ek besonder baie van jou wonder oor die lewe in daai huisie wat so mooi in die skildery uitgebeeld word.
6 jaar 10 maande 6 dae 22 ure oud



N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar