Gorrel

Titel: TOLBOS
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die skrefie tussen die kantoorgordyne, is effe wyer oop as gewoonlik.
Ek sien met skrefies oë, die dowwe stof dwarrelwind, musiek vir die dodedans van die groep tolbosse met hul gekraak-breekte stompie armtakke in die laaste angsklem voor die vernietigende doodsvonnis van die droogte dissipel.
Ervaar my sien en my moeë kyk, die finale aanslag van die droogte god in sy oorwinningstog, waar mens en dier sal swig, knak, breek en sterf, met flouerwordende jammerkreet.


Die wekroep van my lyf se waterwerke, ruk my uit my stoel en spring-spring spoed ek by die kantoordeur uit en stort my skamele bydrae eweredig oor die dorre blare van die sterwende graspol.

Ek lig my oë na die uitspansel en aanskou hulpeloos hoe die skitterblou oorwinnend ʼn paar brawe vlieswolkies uit die Ooste, inslurp.

My foon se barbaars-onsimpatieke geskree, neem my weer die kantoor binne.
Ek vermoed dit is Maans wat sal wil weet of ek die jongste Satelliet inligting oor die droogte het.

Ek lig die skreeuende mensemaaksel en druk my vinger in sy groen oog wat ek weet, sy bek sal stil.
Ek kyk na die venstertjie en sien dit is vroulief wat skakel en ek praat eerste:

“Middag Liefling, hoe laat verwag jy hulle?”

“Willie, daar is nou nuwe wending, ons twee sal maar moet ry om haar te gaan haal.”

Haar verduidelikking is genoeg om my ’n dankgebed te laat uiter vir die wonderlikheid van die Herfsjare. Hierdie vryheid om enige besluit vinnig en doeltreffend te kan neem.
Ons Jongste verwag haar Eersteling en sy woon in Pretoria en tradisie is tradisie. Sy sal in Potchefstroom, ons tuisdorp, onder die bekwame toesig van haar ma, kom kraam.


Ons twee vertrek die oggend vroeg genoeg om die ergste verkeersdrukte te mis.

Skoonseun is plat getrek. Die diagnose is ’n maaggriep in die ergste geval as gevolg van ’n Avokadopeer, wat hy by die winkel gekoop en alleen aan geëet het.

Met ons aankoms, het ek al verblydend gemerk dat Pretoria darem al ’n bietjie reën gekry het, en die naderende onweerswolke laat ons besluit om te oornag en dan vroeg oggend te vertrek, terug huis toe.


Moeilikheid kom nie op só ’n manier dat dit stuk-stuk hanteer kan word nie.

Elke kyk wat ek na my kind kyk, is ’n wond in my wese.
Die lewens uitputtende Oktober droogte hittegolf.
Die deur mekaar geswete haartjies, wat ek ken as ’n blonde ontploffing van weerbarstigheid en ongetemde wil om die lewe aan te durf.
Die flou vegie van haar moeë hand oor die ‘week 39’ oud buik, om skoppende voetjies te stil.
Die verskriklike kommer oor ’n siek eggenoot wat noodwendig agtergelaat moet word.
Die onbekende van ’n eerste bevalling oor een week.

Ek trek haar teen my aan, bemoedig met ’n drukkie en soen op die sout wangetjie en my powerlike poging om te troos:
“Nog net een week, sy kan nie nou al maak wat sy wil nie !”

En gemaak kwaai, druk sy my hand weg:
“Ag pa, ons raak beide nou al haastig.”


Na ’n ligte aand ete, is alles gepak vir die vroeë vertrek.
Skoonseun is met laaste eksamens besig en sal een dag vóór kraam, aansluit en deel in die gevolglike fees der feeste.

Uitslaap het sy probleme. Vreemde bed, vreemde kussings, vreemde water smaak, vreemde koffiesmaak, vreemde nag geluide.

Ek is ’n nagloper. Tydlose waterwerke en dan weer die dorstige opvul.
Enige vreemde huis het ’n oordonderende slaap stilte.
’n Tasbare stilte wat aan my vel raak, my laat jeuk en rondrol.
Dan weer opsit, die kussings vervloek en regskud.
My dan weer laat rondrol en ’n geveg om lewe en dood aanknoop met die pasgeverfde wit plafon.


Al hierdie verwagte emosies, elektriese impulse, senuwee rukkings en onsamehangende asemhaling van ’n lang-lang nag wat wag, laat my besluit om liewer naby die kombuis, in die groot woonkamer voor die televisie, die nag aan te durf.

Een van die beter uitvindings van alle hedendaagse geriewe, is die knoppie wat dit só mooi sê:
“Krag aan/ krag af”

Ek druk die bevel en die nagsstilte, na die TV se laaste asem snak, omvou my in haar arms.
Ek hoor Rufus se tevrede snuif aan die buitekant van die glas skuifdeure. Sag fluister hy ook dankie en half onhoorbaar vir julle menslike ore, gesels ons twee verder oor ons wedersydse verlange, sy nuwe lewe wat hy tot barstens toe geniet, en sy trots op die nuwe naam wat die straatlopers hom toegedoop het.

“China; Pasop, daai hys, hy het hom die China!”

Ons het nie amptelik nag gesê nie; Droog tong, toe neus, ruk my uit te bed.
Nag donker en ’n vreemde stil, in ’n meer vreemde huis, is koersloos.

Ek voel-voel skuifel-sluip na die aangrensende kombuis.
Ek trap ʼn vlak trappie mis.


Hier wil ek eers stop, twee getuies inroep, getuienis wat sal kan getuig oor slaat en val:

“Meneer Skeel Frans Senekal! Die hof roep meneer Skeel Frans Senekal!”
Skeel Frans loop met hande wyd uitmekaar. Hy moet voel waar hy loop want hy is wyd skeel – na buite toe skeel.

“Skeel Frans, getuig voor hierdie hof wat slaan die ergste.”

“Maklik Agbare, ’n hark wat verkeerd lê, Agbare. Hy slaat jou nie tot ridder nie, hy slaat jou tot tonnel visie en vier niertjies vir die res van jou lewe, Agbare.”

Dan wil ek nog ’n getuie roep:

“Meneer Skewe Kerneels Vermaak! Die Hof roep meneer Skewe Kerneels Vermaak!”

Skewe Kerneels laat sy klere maak deur die dorp se baas kleremaker.
Klein, rond vet, china-oog: Mr. Cu- Lee.

Net mr. Cu- Lee kan vir Kerneels ’n suite maak.

“Skewe Kerneels, vertel aan die hof, wat laat jou die beste val.”

Skewe Kerneels loop in partisies. Drie hof tekenaars is nodig om hom te teken. Geen kamera kan hom afneem nie.

Kerneels staan op, skuif in paaiemente agter die getuiebank in en Getuig:
“ Ek getuig ’n kruiwa Agbare. ʼn Verkeerd lê kruiwa in die nagdonker Agbare, laat jou val tot buite jou driehoeksmeting!”

Ekself sal hier verder getuig van net ’n simpel val.
Net die mistrap van ’n trappie in die donker en die sweeftog deur Disneyland se fantasieë daarna.

Ek vermoed hulle gaan daardie nare ‘Bungie-jump’ ding, stop.
Die wegtrek is net te vinnig vir die menslike gestel.
Die stilte wat volg, die gesuis van die wind en plooie wat dit maak op jou gesigvel is vreemd eksotiese vel terapie.
Dan die ewigdurende sweef.
Arms wydgestrek, wieg van die skouers om in harmonie met die sweef te kom.
Ek voel soos die tolbos van die vorige middag, wat sonder teëstribbeling meegee aan die giere van die droogtedissipel se luste van vernietiging.

Ek getuig van ’n onderbewussynlike keer, beskerm, koes, saamtrek, en moedeloos, magteloos, los!
Ek getuig van die eerste – meer as bekende - klapskoot. Die ou-ou knie.
Ek skrik nie meer vir pyn nie. Nie meer na 70 jare se pyn nie.

Ek getuig van die tweede knal. Eintlik twee knalle gelyk. Rufus se kop teen die glas deur soos hy skrik.
En die knal van ’n bykans driekwart eeu oud been wat breek.

Ek getuig van die vreeslikste stilte, vererger deur fyne tjankgeluidjies van bekommernis vanaf ’n hond wat weet maar nie kan sien en kom help waar sy baas só, op sy sy, op ’n koue teël vloer lê nie.

Ek getuig van stilte en weet en besef en self uitdaag- biddende, hopend, ....asseblief, net nie DIT nie.

Ek getuig van my tone roer. Twee bene lê op mekaar, effe gebuig.
Ek beweeg die regter een, die onderste een, se tone:
“Sharp!”
My onderdrukte juig.
Rufus luister en ek hoor hy ‘sharp’ saam.
Ek beweeg die boonste been se tone. Eers net liggies, toe vinniger, nog vinniger, daar na die Hotnotsriel se kant toe.

Ek het al geleer om dankie te sê. Ek beaam my dankie met trane en ’n snot snuif.
Die teëls is hard en koud. Rufus gesels nou al harder saam om nuus, enige nuus te hoor.
Ek wil hom dit graag meedeel. Baie graag.

Ek try-try my linkerbeen reguit maak.
Disneyland se cracker tyd breek aan. Die eerste klap net liggies.
Die pyn; ’n Bliksemstraal!
My blaas bars. Soete warmte vloei onder my deur. My snytand sny ’n kloof deur my onderlip soos ek die pynskree demp.

My lewensboek val oop op Josef 6 vers Job:

jou lewe het geskop
voor jou uitgedraf
agter hom
jou gelaat
Jou krag is af.


Hoe laat is dit ?
01h00...?


Al wat deur my gaan, stygend en meer dringend as die koue, ongemak en pyn, is;

My kind.
Geen woord, geen novelle, geen gedig, geen roman, kan hierdie band beskryf nie.
Skok.
Wat kan skok aan haar 39 weke verwagtend toestand , doen?
Het die dag nie alreeds genoeg kommer opgelewer nie?

Ek het nie woorde nie.

Ek lê in pyn en twyfel en begin saggies roep;
Net baie saggies, want die voorbereide kamer waarin Liefling slaap, is die naaste. Sy behoort my te hoor.

Alle spiere begin van die skok snaarstyf span. Lewe in my bene verdwyn maar vat nie die pyn saam nie.
Die tussenposes tussen my sagte roepe word verdoesel deur verlore bewussyn.
Om net weer met vuurvlampyn herroep te word.

Hoekom kry ek so verdomp koud?


Ek het hom nie gestuur nie. Ek het sy fyn bemoedigende woordjies nie meer gehoor nie.

Hy het self besluit:
“Hol, hol om die huis, gaan krap en tjank by die venster.”

My oë gaan oop. Alles in die vertrek dans. Ek sien baie voete met waterskoene aan en vreemde 911 uniforms.
Ek probeer my nek draai want my oë soek.
My oë soek na dit wat ek eintlik nie wil sien nie.

Toe my oë sien, die vreeslikste toneel wat nog nooit werklik raak geskilder is nie.
Die toneel van ’n wenende ma en dogter vasgeklem in mekaar se arms, spastiese, lyfrukke van wanhoop en verdriet. Traan stortende oë, vasgenael op die lewenslose liggaam van ʼn eggenoot, en pa op ’n koue teël vloer.

My ore hoor die deurmekaar, radelose kommunikasie. Dinge soos:
“Daar is geen hartklop nie!”

Iemand is genadig en gooi my toe met ’n kombers.
Ek ruik haar nabyheid en maak my oë oop. Hande druk die kombers stywer om my.
Ek kry een hand en hou en trek haar nader.
“Luister, Luister vir my, ek is net gebreek. Ek makeer niks verder nie. Net die pyn...asseblief.”

As ’n vrou wild raak....
As ’n vrou wat haar man lief het, wild raak...!

Hulle het gespuit en gewag. Vir 3 ure my net laat lê en wag op ’n Dokter.


Luister nou na hierdie filosofie.
Jy leef ’n gesonde finansiële lewe. Goeie bank balansie maar net te min vir wat jy beplan.
Jy beplan ’n projek en wil graag geld leen – iets wat jy nog nooit in jou lewe gedoen het nie.
Try. Ek daag jou, try. Kyk wie gaan vir jou geld leen.

Hierdie een is dieselfde:
Word 70 jaar oud met alles waarmee jy geskape en bedeeld is nog aan jou vas en binne jou.
Jy het geen rekord van enige medikasie nie. Tuis ken die dokters jou. Hulle ‘Patch & Solution’ gedurig jou ‘battle damages’
Selfs die ses weekse bloedskenk grap is humor.
Sommer by die robot:
“Haai, Alphonso, gooi my weer ’n briefie vir die bloedbank asseblief!”
Almal weet ou Willem se hart klop net so nou en dan


Ek breek my bobeen teen die knop in sy glorie.
Ek lê in een van die grootste hospitale se krisis eenheid.
Ek het geen allergie geskiedenis nie. Ek het geen medikasie geskiedenis nie. Ek leef kuis en tuis en gesond
Net
Die blerrie hart wil ook nie klop nie.
Top spoed – só 46-49.
Skok laat dit daal na 20.

Vrek onder operasie? Ek daag jou, kry ’n volenteer Narkotiseur.

Ek moet narkose kry vir die kruiwa vol blink ysters hier langs my.
Die dokters kom verby, ek lê in pyn en trek skewe bek vir meer pyn. Die afslaer bie:

“Sta’ nade’ doktertjie, sta’ nade’, kyk da’ lê ‘it oppie tafeltjie.
Kyk mooi na die stapeltjie, Dokte’tjie, dis in dysende.
Da’ issie spa’wiel van sy bakkie, da’ is somme’ ’n blikkie tools ook. Kyk mooi dokte’tjie, hie’rs ’n promise van ’n lekka vet skaaplam oek!”

Narkotiseurs is nie dom nie.

Ek sien hom. Iemand sê hy is ’n Ortopeed. Hy kyk vir my en ek kyk vir hom.
Hy staan nader:
“J’yt jou lekke futup geval, nê my oompie?”

“Dankie vir die kompliment broer. Ja, ek leer al 70 jaar lank hoe om te val. Kan jy die dinge weer lap, die gebeente weer by mekaar bring?”

“Oompie, sulke battel damage is my kos. Ek het onder Frankenstein gestudeer. My proefskrif is deur Heinz Konsalik geteken.
Daai kruiwa tools, boute, moere, plate en ysters, daar langs jou is myne.
Ek wag net vir ’n oportunity.
Wanneer ek die skree van ’n breakdown se sirene hoor, en die ambulanse trek weg, dan weet ek; Hier kom ’n oportunity. Dan polish ek my tools solank.
Maar jou hart; Hy is groot my oompie, maar hy beteken niks nie. Niemand gaan jou slaapmaak nie,”

Ek is ’n plannemaker. Ek sien die gemaklike man is ook ’n plannemaker. Ek trek sy kop nader en praat in sy oor. Ek sien die liggie in sy oë aangaan.

“Oompie, byt nog vas. Pomp daai hart van jou ek gaan gou ’n ander Johnnie haal.”

Ek lê. Dit is nou 18 uur sedert my val. Net pyn stillers. Geen water, geen kos. Net ’n nat lappie oor my lippe.
Ek sien my Liefde. Ek sien hulpeloosheid teen die sisteem. Ek sien en hoor geluide.
Slaat hulle al die hout palette aanmekaar vir ’n boks?

Ek sien waansin en verlorenheid in haar oë.
Ons sien gelyktydig toe ‘Frankie’ hand aan hand aankom met ’n anner Johnnie.
Hulle stop by my en die Johnnie begin my vrae vra. Hy vra na my ouma, my oupa, na my mammie en pappie en boeties en sussies.
Vroutjie gee moed op en stap weg.

Ek gooi oor in top gear
“Johnnie, luister vir my. Luister mooi vir my. Ek sien in jou oë jy weet hoe werk slaapgas.”
Ek trek sy kop nader:
Laat ek jou net gou iets vertel, Jy weet self nie hoekom jy vanaand op ’n Saterdagaand, hier loop nie.
Ek sal jou vertel en dit sal jy vorentoe besef, jy is hier om my te help.
Doen dit!”
Hy het niks gepraat nie. Hy het net gekyk, my beter in die oë gekyk, op sy lippe gepers en omgedraai en weggestap.
Vroutjie gryp sy arm toe hy haar wil verby:
“Dokter, wat gaan jy doen?”

Hy stop in sy spore en draai na haar en sy sien die flikkering in sy oë en hoor sy sagte stem:

“Gaan maak jou mooi vrou. Ons gaan hom gou fix!”



My lof en dank aan julle genoemdes
Ook aan die pragtige personeel van die Netcare Unitas Hospitaal. Pretoria
©
Willie F van Tonder
2011/11/06





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Tolbos
EN 'n baie groot welkom terug van my sneeuwolf!! Wat sal WOES nou wees sonder een van sy puikste storie vertellers?? Sterkte met die herstel.
7 jaar 10 maande 1 week 6 dae 13 ure oud


Tolbos
En nog 'n welkom terug, woes is nie dieselfde sonder jou nie
7 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 7 ure oud


Kanniedood
Welkom terug, liewe Kanniedood en Williedood! Jou kleindogter sal 'n lekker storie hê om te vertel oor haar koms! Is sy al hier? Verwagte datum was mos vandag.

Willem, ek dank die Vader saam met jou.
7 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 9 ure oud


Sug...
Ja Boet, oudword is waaragtig nie vir sissies nie.
7 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 9 ure oud


Been-af
Ai, Oom Wolfie, dat jy nou so in jou sewentigs moet kom staan en been-af raak! Jou storie het jy mooi geskryf en jy het hom deeglik geskryf. Mens leef jou in met elke insident soos jy vertel en dit is lekkerlees materiaal.

Sterkte met die herstel.
7 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 13 ure oud


-)
Ag dankie tog ons oompie het vasgebyt en nog vaster gebyt. Baie sterkte en geduld vir jou! Mag die af been gou en ten volle herstel. Dis sowaar 'n meesterlike skryfstuk hierdie!
7 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 13 ure oud


-
Die geleentheid het beslis gesorg vir 'n puik storie. Dink nou net, jy kan 'n paar dae light duty kry! Ek stuur vir jou 'n klokkie om die nuwe uurspel aan te dui. Sterkte.
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 4 ure oud


TOLBOS
Ai, Willie,jy weet nie hoe die bekommernis deur ons geseil het nie, wat maak jy, dat jy so stil is...dis mos nie hoe my maatjie is nie! Ek dank die Lieven Heer dat hy jou bymekaar gehou het op daardie koue teëlvloer en weet verseker daardie joviale gees gaan nie gedemp word deur 'n loopraam en skroewe nie...bly jy is weer hier, veral bly dat jy betyds tuis is vir die groot geleentheid van oupa word...aan julle alles wat mooi is en die bevalling onder die wakende oë van sus en ouma sonder enige ongevalle net 'n seën gaan wees.
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 6 ure oud


AC
Tolbos
Welkom terug oom Willie!
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 13 ure oud


rex
Tolbos ...
Ag, ou Wolfie, ons het jou gemis!

Dieselfde ding het 4 jaar terug met my gebeur, toe ek in my eie kombuis val en die een been wat ek het, breek! Gelukkig het ek 'n baie hoe pyndrumpel, want hulle kon m toe nooit opereer nie, die ding moes maar op sy eie tyd aangroei.

Ons is bly jy is terug, en baie geluk, kleinding is seker hier?!
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 16 ure oud


TOLBOS
Ek het gewonder wat het van ons Wolfman met die baie stories geword?? Toe koop jy vir jou 'n plaas binne in 'n huis - wie kan nou daar boer? Ek is baie dankbaar dat jy op die pad van herstel is en dat jy nog baie storietjies, liegstorietjiess en mooi storietjies vir ons kan uitdin en vertel. Sterkte verder met die herstel. As die ongemak te veel raak, haal dit maar op die papier uit, jy doen dit GOED!!
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


Skroewe en goed!
Welkom terug my maat...onthou net om daai skroewe geolie te hou! Hoop jy herstel gou om al daai dinge te doen wat jy gedoen het-veral saam met die maters.
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


Kommentaar
Ai Willie, so bly jy is terug by ons! Eerstens dank aan God vir jou herstel. Het jou skryfsels baie baie gemis. Selfs hierdie een gelees met 'n lag en 'n traan.

Vonnie
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 18 ure oud


Tolbos
Probleem op ons ouderdom Willie, jy val nie meer met grasie, soos die sierlike, afshow duik van 'n rugbyspeler as hy die bal met 'n triomfanklike lag om die mond agter die pale gaan neersit nie (alles natuurlik vir die kameras al het het hy half sy wind uitgeval) Nee ons slaat neer soos 'n dooie os. Geen waardigheid in die proses nie. Maar ai, die triomfanklike glimlag jy hierdie proses 3 vingers gewys het: 'kies jy maar watter kombinasie' is daar. Dankbaar ook vir jou wonderlike vrou en ondersteunende familie
Ons is almal met jou.

Weereens, dankie tog my daaglikse fieks is terug.
Ons is baaie dankbaar en verlig.
Gedink jy hou nie meer van ons nie.
Hoop die bevalling loop ook mooi.
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Tolbos
Welkom terug Willie -- lyk my die muse het jou kom help met die sloeg. Bly jy's darem weer -- min of meer -- in een stuk! Ek het sommer lekker gelees -- lekker geskryf, hoor! Groete
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Ek is bly jy leef
Welkom terug. Laat weet as dar iets is waarmee ek kan help.
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Geskroef!
In sy moe! in!
Ou Wolfie.... jy maak die droogte warrelwinde dissipel-dans oor die dorre aarde! Jou woorde traan die stofbedekte paaie nat en was die pienk en wit kosmosblomme skoon.
Welkom terug! ons het jou skryfsel-genade-reën erg gemis!
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 20 ure oud


TOLBOS
WELKOM TERUG!! UIT MY HART UIT, WELKOM TERUG!
Noudat hulle vir jou skroewe gegee het en dit goed vasgedraai het, en na jou Interflora sweef-sprong, het daar iets wonderlik in jou opstairs gebeur. Jy skryf beter as ooit!! Dis by verre jou heel beste werk wat ek nog ooit gelees het!
My eer aan God vir jou herstel!
7 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 20 ure oud



IN DIE AANSLAG OP DIE KLEUR VAN ONS VELLE VAL ONS BLOED OP DIE GROND

deur http://www.woes.co.za/

FIKTIEWE VERHAAL WAT DIE ONGELYKHEDE VAN ONS VERLEDE EN HEDE BLOOTLê.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar