Gorrel

Titel: DIE BOTTEL
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Wat is in ’n bottel?
Wag nou. Kom ons stop eers hierrie lorrie

Luister na my vraag.
Ek vra: “ Wat is in ’n bottel?”
Ek vra nie: ” Wat is binne in ’n bottel nie !”
In my lewe sal ’n bottel, nooit ooit, weer ’n bottel wees nie.

Ek moet by die begin, begin. Ek sien sommer op jou gesig dat jy nou nie lekker by is nie.

“Bring die kind se bottel!”
Sien jy?
Nog nie?

“Message in a bottle!”
Kom jy nou nader?
Nog nie?

“Piet, ry by die fontein langs en bring vir ons ’n bottel!”
Verstrengel ek jou nou?

“Ek steek jou derms uit met hierrie bottel, verstaan jy? Los my bleddie vrou uit!”

Kan jy meet hoe diep ek in die bottel gekyk het?
Nie?
Nou hoekom vertel jy vir almal ek het te diep in die bottel gekyk?
Hoe diep was daai dem bottel dan?

Verstaan jy nou my fobie oor ’n bottel.
Net vir my kinders se onthalwe sal ek nog ander sye van ’n bottel uit los.
Ek remind jou net; Daai danseres en die verdwene bottel.

Nou maar waarheen lei ek jou nou so delikaat aan die hand?

Maklik. Staan langs my. Staan styf langs my. Ek het jou nodig.
Gee my jou hand; Hier, in my hand en luister.

Ek het seergekry.

Wag bietjie, vee af die trane. Moenie huil nie. Baie mense kry seer.
Wat ek wil sê, ek het twee kere seergekry.
Baie seer. Bedroef seer.
My lyf seer en my wese seer.

Hou vas my hand, asseblief, want ek vra:
“Hoeveel seer is seer? Hoeveel pyn is te veel pyn?”
Wat is die seerste?
Die breek van been of die breek van my menswees?

Verskoon dat ek eers stil is. Ek weet nie hoekom daar ’n ding soos ’n knop in die keel, ’n brand in die keel, ’n seer in die keel, ’n byt op die lip en verdomde sout in trane is nie!

Dankie vir die sakdoek.
Staan asseblief net eenkant toe. Ek gaan nie jou sakdoek besmet nie, ek gaan die blink uit my neus sommer daar op die sypaadjie neerblaas.
Dankie.

Ek sê weer; ’n Bottel sal nooit weer ’n bottel wees nie. Die Kerk kan maar sy bottel met pitte bring. Ek vat nie eers daaraan nie. Hulle moet maar bid oor hoeveel pitte in daardie bottel is, ek sal nie raai nie.

My regte seerkry, seerkry soos in EINA!, was nie te sleg nie. Ek is in geoefen in seerkry.
Die bykomende komplikasies het ek nie voor gevra nie. Dit is as deel van die pakket in gegooi!
Vernederend.
Aftakelend.
Skandalig!

Skok. Sielkundige skok, Geestelike skok. Wesenlike skok, het nagevolge.

As een ding breek, breek nog ander goete ook. Dinge wat nie maklik gesien kan word nie.
Die kontak tussen my brein, daardie klein deeltjie van my brein wat kontak met my blaas het, daai kontak breek ook.

In die hospitaal, maak hulle ’n koppeling met ’n hose pipe en ’n checkers sak.
Ek is ’n betalende pasiënt en kry beter behandeling,
Ek kry ’n netjiese deursigtige plastiek pypie, wat die dametjie met haar delikate handjies in my waterpypie se gaatjie indruk.
(Hoe sy dit regkry om so ’n dik pyp in so ’n klein gaaitjie te kry, weet net sy!)
Wel, omdat ek betaal, kry ek ’n netjiese deursigtige sakkie en my liggaam uitskeiding vloei sigbaar tot in die sakkie.
Vernederend!
Absoluut obskuur!
Ek is ’n man van my bottel.
Ek versoek ‘n bottel.

Gaan die manne my glo as ek hulle met hulle besoek aan my probeer oortuig dit is nie ’n papsak wat ek so staan en leeg suig nie?
Hê? Ek vra jou?
Gaan hulle my glo?

Daarom maak hulle my die eerste keer seer. Skend my wese en eer. Breek my geestelik af.
Weier my :
“Asseblief, mense, maak tog net ’n Three Ships, of Oude Meester bottel daar vas!”

Verwond, geestelik afgebreek en geskend, word ek ontslaan.
Hulle vat waaragtig hulle insteek en uit tap goete terug en laat my gaan.

Vader se dank. Hulle vat nie die ysters en skroewe en plate wat ingesit is ook nie.
“Jou geld is klaar, loop, loop nou en gaan huis toe.”

“Gee my ’n bottel, asseblief!”

Ek is gebreek. Stukkend.
Die kabel tussen my brein en my waterwerke se brieke is ook af.
My lippe bars, my keel droog, ek gooi bo in, dit loop onder uit.

Hulle stoot my in ’n rystoel. Ek moet nog eers die ysters wat hulle ingesit het leer om te loop.
Hulle verkoop die ysters onopgeleid. Sonder om hulle eers te leer loop.

“Beker, emmer, blik, skottel, enigiets, asseblief. Dit loop onder uit!”

“Kan jy nie inhou nie, waar de hel kry ek nou ’n blik. Ons moet eers Mall toe, Apteek toe, hulle verkoop sulke goed daar.!”

“Wat is in ’n bottel? Gee my ’n bottel!”

Vroulief en dogter stoot my. Dogter loop agter haar buik aan. Daar is ’n baba binne wat wil uit!

Ingrid het vanself van die rotse geloop.
Die afgrond is hier voor my, ek kan dit nog nie sien nie maar ek vermoed hier kom ’n ding.

“...Hulle verkoop ’sulke goed’ daar ?”
Het jy dit gehoor?
Sy het dit nou net self gesê!
Bottels om in te pie?
Nou begin my kop draai. Wie is die helsem wat bottels staan en uitvind?

Soos ’n skaap slagpale toe, ry ek saam. My kop hang skeef, my gemoed is vol. Is daar dan nog plekke in my gemoed wat gebreek kan word. Verniel en vermors kan word?

Hulle briek by ’n rak. Elkeen haal een af. Dit is bottels. Plastiek bottels.
Dit is deur ’n baie siek man ontwerp. ‘n Oorlog veteraan. ’n Kanonnier!
Ek sien Centurion tenks sonder ruspers met die vreeslikste kanon wat so skuins uit staan.

Ek het nie die hamer sien kom nie. Die hou was tussen my oë.

Elkeen het ’n bottel. Daar is verskeie ontwerpe.
Oop en bloot met groot bestudering word die skuins uitstaan lope bekyk, gemeet, geskat, bestudeer.

“Is die een groot genoeg?”
“Ma, ek dink die een is bietjie dikker.”
“Kinta, maar is hy lank genoeg?”
“Ma kyk die een, dit het ’n omsoom loop, hier kan pa maklik insit!”

Askuus vir jou skoene.
Askuus dame, dis nie uit die pype bokant die plafon nie.
Wat spring julle só?

Dit is my stukkende trots wat saam met my liggaam water die hele vloer vol loop!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bottel...
Ou Willie, as mens so lekker kan skryf is daar nog niks met jou verkeerd nie -- lank lewe die Bottel! Lekker gelees!
7 jaar 9 maande 3 weke 6 dae 20 ure oud


Bottel
Glo my, ek het sowaar nog nooit so bottel iewers op 'n rak in 'n winkel gesien nie! maar dan het ek ook nog nie 'n lekkende man aan't huis gehad nie. So, jy was toe 'n bottel baba, vir 'n wyle.
7 jaar 10 maande 7 ure oud


*
Tjorts!
7 jaar 10 maande 22 ure oud


Mooi uitgestal
Ek sien op die foto jy't hulle mooi uitgestal op die 'side board'!! Hopelik net vir die foto!

Willem, die 6 jaar wat ek by die ouetehuis gewerk het, was daardie bottels deel van my daaglikse bestaan. Dis nie die ergste nie, hoor. Dis veel erger as mens se kop nie meer werk nie. 'n Werkende kop kan altyd planne maak met waterwerke wat nie meer is wat dit was nie. En gelukkige is jy omring van 'n klomp vroue wat kan help! Sterkte, hoor!
7 jaar 10 maande 2 dae 12 ure oud


Borrel
Ek Borrel oor van die bottel...

Toe wonder ek ook nou... wa bere mens die bottel...
onder die bed
op die kombuis kas

Dink net mooi kosmosse in die een op die eetkamer tafel...

ma hoe dra jy hom nou saam op daai rolstoel van jou.....

mens kan dit seker maar as gieter ook gebruik of hoe....

Lank lewe die bottel
7 jaar 10 maande 5 dae 6 ure oud


'Bottel' dit
'Skuus dat ek skuins lê van die lag, nes daai bottel se tuit.
Gelukkig kon hulle jou 'saais' kry, en ag man, dit kan dalk later werk vir Ikebana.

Daar is nog inmaakbottels ook. Miskien moet jy so 'bietje' bottel vir die nageslag, want so een moet bewaar word.

7 jaar 10 maande 5 dae 8 ure oud


trots
My Oupa, trots, fier en regop, nooit 'n dag siek in sy lewe nie - tot op die einde. Altyd gedress, selfs in Upington se hitte nooit sonder sy vessie onder die hemp en sy Blazer om af te rond, as hy 'dorp' toe is nie. Kort Ingelsmannetjie wat sy lewe lank hard gewerk het. Spoorwegman - Passer en Draaier.
Presies en deeglik. Maar ook 'n goeie sin vir humor.
Sy oud kollega - baie stoute man - met die een glas oog. Gedurig op mekaar poetse gebak. Die gee toe moes een jaar vir hom 'n geskenk. Seker besluit my oupa wat altyd volhou dat hy nooit oud gaan word nie, toe reeds by die sewentig, gevaarlik naby aan "OUD"
Die geskenk was 'n ruikertjie veld blomme - mooitjies gerangskik in een van daai botteltjies van jou! Pure plesier en lank se spot oor ouderdom!
Maar jy is ook mos nog nie oud nie, of hoe Wolfie? net so effe geknak!
7 jaar 10 maande 5 dae 16 ure oud


Bottel
Ek pik 'n traan vir jou my maat...ek weet hoe voel jy...as 'n diabeet wat 'n waterpil drink loop ek ook daardie paadjie. Ag man ek gebruik sommer 'n 2lt plastiese coke bottel wat oop gesny is bo...plaas sommer als daarin en ooo hoe lekker dan! Moet se ek hou van daai blou een hoor...lyk fris en 'n ou 'brag' daarmee,hehehehe!
Groete my maat!
\
7 jaar 10 maande 6 dae 1 uur oud


Kommentaar
Ag ou Willie skuus jong, maar ek kon nou regtigwaar nie my lag ingebottel hou nie! Te midde van jou nie wel wees nie, laat jou bydraes 'n mens 'n bietjie lag wanneer jy dit die nodigste het!

Sterkte.

Vonnie
7 jaar 10 maande 6 dae 1 uur oud


Bottel
Dardie gewraakte bottel wat soveel vernedering veroorsaak, jou so laat sleg voel, Willie...is net 'n tydelike oplossing, anders moet jy maar 'n plastiese sakkie met 'n rekkie aansit en dis meer seer en...giggel, sorrie hoor...sien ek die prentjie so duidelik in my verbeelding...giggel...skies weer...die bottel gaan die ding doen, wees verseker!
7 jaar 10 maande 6 dae 3 ure oud


Bottel
Baie goed geskryf Oom Wolfie. Ek gaan dit bottel en bere
7 jaar 10 maande 6 dae 3 ure oud


-
O hel! Dis nou 'n hengse gedoente. Maak hulle sulke bottels vir vroue ook?
7 jaar 10 maande 6 dae 7 ure oud


P
dit was nou 'n bottel vol inligting en so leer ek elke dag
7 jaar 10 maande 6 dae 8 ure oud


rex
Bottel ...
Goed geskryf. Baie simpatie!
7 jaar 10 maande 6 dae 8 ure oud


Die Bottel
Ek kyk nou anders na elke bottel...my waterbottel, die wynbottel, die baba se bottel... en helaas jou bottel! Ek laaik nogals die bloue....die ander een lyk eerder reg vir gomsnuif.
Vat terug jou trots, Sneeuwolf. Dit vat 'n ware man om so oor woorde te pie.

Groetnis

S
7 jaar 10 maande 6 dae 8 ure oud


Bottel
Sjoe - daar's 'n bottel in alles en alles kan "gebottel" word.
7 jaar 10 maande 6 dae 9 ure oud



Hartsnare

deur Driekie Grobler

100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar