Gorrel

Titel: Kersfees
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek is nie gebou vir Kersfees nie. Selfs toe ek nog gedink het Vader Krismis bring vir my presente, het Kersfees my nie veel aangestaan nie. As kind was dit lekker om presente te kry, maar hierdie tyd van die jaar help presente nie om my beter te laat voel nie.

Dit is die einde van nog ‘n jaar. En dit is nou dat ek begin dink wat het ek hierdie jaar gedoen om my bestaan op moeder aarde te regverdig. Ek probeer elke jaar voorgee dat Kersfees belangrik is, maar ek doen dit baie halfhartig. Die boom word opgemaak. Die liggies word opgehang. En daar word groot kos gemaak. Laas jaar het ons sommer gebraai. My pa is laasjaar oorlede, so dit het net nie lekker gevoel om al daai kos te maak en te eet sonder my pa nie.

Laat ek tog nou eenmaal boeke vat op 2012. Januarie en Februarie was nie lekker nie. Ek was baie ongelukkig by die werk en die huis. Vroeg Maart is ek geskei. Dit was ‘n positiewe stap (alhoewel dit nie altyd so voel aan die begin nie). Na 24 dooie jare, kon ek weer begin leef. Einde Maart het ek die man ontmoet met wie ek nou, op my oudag, gekys is. April was ‘n stil Paasnaweek. Laat Mei het ek in die hospitaal beland vir ‘n week – ek word nooit siek nie, so toe ek dit doen, doen ek dit sommer ordentlik. Teen hierdie tyd het die Engelsman al besluit hy is my kêrel en het baie mooi na my gekyk.

Vanaf Junie het my werksomstandighede baie verbeter en geniet ek dit nou om werk toe te gaan in die oggende. En natuurlik het my persoonlike lewe baie verbeter. Die ex het uiteindelik uitgetrek en is getroud met die rede vir die egskeiding. Nou hoef die Engelsman nie altyd laataand huis toe te ry nie.
Hierdie jaar moes daar net Kersfees gevier word. Die Engelsman is eintlik ‘n gebore Jood, maar is ‘n groot aanhanger van Kersfees. Die boom is op gemaak. Daar is selfs kersversierings oral oor die huis. Die bure ry stadig by my huis verby om na al die liggies te kyk. Daar was weer ‘n groot ete, en ‘n yslike bak trifle. En ek moes presente koop. Hierdie gewoonte om nie presente te koop nie, is blykbaar sommer net nonsies.

Dit was die beste Kersfees ooit. Die meeste van die familie het die Engelsman aanvaar. Ek het ‘n sms gekry van my ex-skoonsuster se oudste dogter, wat sê dat sy my baie gemis het hierdie Kersdag. Dit was die beste present wat ek kon kry, want ek mis al die kinders uit my vorige lewe. Die Engelsman het vir my ‘n pragtige silver hangertjie gegee waarin ek fototjies van my honde kan sit. En ek het selfs ‘n sms van die ex gekry om my ‘n geseënde Kersfees toe te wens. Hy is blykbaar nou ‘n groot christen, so die rondneukery is seker nou ‘n sonde.

Ek is nog maar versigtig vir die nuwe jaar. Ek weet nie wat voorlê nie. Die laaste 2 jaar was so erg dat ek nog aan bomskok ly. Dit voel asof al die goeie dinge van die afgelope paar maande sommer skielik tot ‘n einde kan kom. Nee wag, stop die morbiede gedagtes! Ek gaan elke oomblik geniet vir solank as dit aanhou.

Dit is die begin van ‘n nuwe jaar en ‘n nuwe lewe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kersfees
Dankie vir die kykie in jou lewe. Jy het n riller gehad in 2012, besluit dit gaan beter wees in 2013 en dis ook maar goed dat mens nie weet wat gaan voorle in die begin van die jaar nie. Prys die Here vir wat jy nou het wat ookal die omstandighede.Tonne voorspoed vir 2013 en skryf voort
7 jaar 3 weke 6 dae 2 ure oud


Kersfees
Ja....dis nogal 'n kuns om aan te leer.....geniet die oomblik vir wat dit is. Van my kant af...hoop jou 2013 is die heerlikste jaar ooit...en ek het lekker gelees aan jou gorrel
7 jaar 4 weke 1 dag 13 ure oud


Gelukwens
Mag dit so bly.
7 jaar 4 weke 1 dag 13 ure oud



AFGODE

deur Piet Schoombie

Die aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar