Gorrel

Titel: Wag
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek lees nou net Dave se stukkie oor wag en toe laat dit my dink aan al die kere wat ek moes wag. Aangesien ek baie van my tyd in die lug spandeer, is my waggery gewoonlik vir ‘n vliegtuig. Na die 10de keer se wag leer jy egter om dit net te aanvaar. Jy laat sak jou skouers en jy begin rondkyk na al die ander mense wat saam met jou wag.

Die keer wat ek die langste gewag het vir ‘n vlug was ‘n Vrydagmiddag op OR Tambo. My vlug was vir 2uur die middag geboek, maar ek was reeds 12uur op die lughawe en het gevra of hulle my nie op ‘n vroeër vlug kan sit nie. Die dametjie laat weet my toe dat geen vlugte in die laaste uur opgestyg het nie weens weerlig, en dat dit ook nie lyk asof dit binne die volgende uur of twee gaan gebeur nie. Ons het toe uiteindelik daardie nag 12uur uit Johannesburg vertrek, en 2uur die oggend in die Kaap geland. Ek het daardie dag met een van die skoonmakers op die lughawe gesels oor alles en nog wat. Ek het ‘n oupa en ouma ontmoet wat oppad was Mosselbaai toe om hulle kleinkind te gaan doop. Oupa is ‘n predikant so hy gaan die diens self behartig. Ek het ‘n Duitse paartjie ontmoet met ‘n kleuter en ‘n baba. Blykbaar voer jy jou kleuter aanhoudend suiker en hou duimvas dat hy aan die slaap sal raak. Die Duitse antie het ook geen probleem gehad om elke 2 uur kaal bolyf te sit en die baba te borsvoed nie. Sy het blykbaar nie skaamte ingepak vir haar trippie na sonnige Afrika nie.

Ek het al die mees fantastiese mense ontmoet op lughawens. Van bekende skrywers, akteurs, dokters tot Jan-alleman wat net so moeg is vir wag soos ek. Party mense loop jy elke Vrydag op die lughawe raak en van hulle word hegte vriende. Ander sien jy net een keer maar jy onthou hulle vir altyd.

Die vlugte is natuurlik net so interessant (lees stresvol). Die dag wat ek ‘n venstersitplek boek, beland ek altyd langs die ma met die 2 jong kindertjies, of die man in die rolstoel. Altwee moet van die vliegtuig af gehelp word en moet wag tot al die ander mense af is – en natuurlik moet ek dan ook wag.

Een Vrydagmiddag beland ek weer langs ‘n jong ma met ‘n babaseuntjie in haar arms en ‘n klein snip van ‘n dogtertjie – seker so 3 jaar oud. Die dogtertjie wou sommer met die intrapslag weet wat my naam is en of ek saam met haar met haar Barbie-poppe sal speel. Sy het 18 verskillende Barbies in haar pienk rugsakkie gedra. Die hele vlug het ek en sy heerlik gespeel en selfs van die lugwaardinne het op ‘n stadium saam gespeel. Die arme ma was so dankbaar, want die baba was maar mislik die hele vlug en sy kon net op een op ‘n slag konsentreer.

Die personeellede van Kulula maak gewoonlik grappies met hulle aankondigings en dit laat my altyd verbaas om te sien hoeveel mense het vergeet om hulle sin vir humor in te pak. Party raak selfs kwaad want hulle voel die aankondigings is ‘n ernstige besigheid wat met uiterse erns aangepak moet word. Dit laat my dink aan wat een van Kulula se kapteins eendag vertel het. Hulle het ‘n besonderse moeilike vlug gehad van Kaapstad na Lanseria. Die passasiers moes die hele tyd hulle sitplekgordels aanhou en geen verversings kon bedien word nie, aangesien die vliegtuig so erg geskud het. En dit het alles net vererger toe hulle begin daal het vir die aankoms by Lanseria. Die arme Kaptein moes omtrent sukkel om die vliegtuig op sy wiele neer te sit, en dit was ‘n baie harde landing. Soos die Kulula se gewoonte is, moet die kaptein dan by die voorste uitgang staan om die passasiers te groet wanneer hulle afklim. Die kaptein vertel dat hy baie skaam was oor die besonderse landing, maar die meeste mense was net te dankbaar om veilig op moeder aarde te wees. Heel laaste stap ‘n ou tannetjie toe op hom af en vra os sy hom ‘n vraag kan vra. Hy sê “sekerlik”. Die tannie vra toe “Kaptein, het ons geland, of was ons afgeskiet?”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wag
Pragtige stukke skryfwerk, ek het lekker gelees.
6 jaar 10 maande 2 weke 16 ure oud


hahahaha
Ek was ook een keer op so n vlug wens ek was so skerp soos daai antie !
6 jaar 10 maande 2 weke 1 dag 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar